Volgens mnr. Emile Meyer, bestuurder van groenteverkope vir die Subtrop Markagentskap, is die verkope en die prys tans normaal vir hierdie tyd van die jaar.

“  ’n Groot mark vir botterskorsies is die voedingskemas van die regering en nie-regeringsorganisasies wat aan skole en sorgsentrums kos verskaf. Tydens die Covid-19--inperking moes hierdie voedingskemas sluit. Mense wat kos uit die skemas ontvang het, het nie noodwendig botterskorsies -gekoop -tydens die inperking nie en die vraag het ineengestort. Verlede jaar was dus ’n ramp vir produsente van botterskorsies.

“Tans lyk die prentjie aansienlik beter. Daar is steeds genoeg volume beskikbaar uit die somerproduksiegebied. Ons verwag nie ’n drastiese styging in die prys nie. Die produsente wat goeie skorsies geproduseer het, kan nog geruime tyd lank die voorraad opberg, maar daar is nie veel produsente wat dit vir langer as agt tot tien weke kan opberg nie. Daar word verwag dat die prys teen Augustus sal begin styg wanneer daar nie veel gebiede is wat in produksie is nie, en die opgebergde somervoorraad uitgeput sal wees.”