Dit kan gunstig wees vir die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf.

Volgens mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sal hulle aanhou om hul teenwoordigheid in Brittanje te handhaaf en selfs uit te brei. “Logisties pas die Britse mark Suid-Afrika baie goed. Ons het elf klante in die Brittanje, wat al die groot kleinhandelaars insluit.”

Brexit herinner hom ’n bietjie aan Y2K, toe die wêreld op hol was oor wat met IT-stelsels gaan gebeur wanneer die nuwe millennium aanbreek.

“Brexit is ’n massiewe en warm onderwerp onder die kleinhandelaars, maar niemand weet wat gaan einde Maart gebeur nie. Die meeste kleinhandelaars beoog egter om twee tot drie weke se buffervoorraad op te bou – teen ’n massiewe koste.”

Pienaar reken Suid-Afrikaanse produsente kan bykomende bestellings verwag om die Britte in staat te stel om daardie voorraad op te bou.

Ten spyte van verwagtings dat die Britse pond in die onsekere tye sou verswak, het dit onlangs kop opgetel. “Dis gunstig vir ons en iets om dop te hou.”

Volgens hom is daar baie aspekte rondom Brexit waaroor bemarkers min of geen beheer het nie, soos handelstariewe, buitelandse beleid en die verskuiwing van markte. “Die volgende jaar gaan interessant wees, as ons met Europese produkte moet meeding. Ons bemarkingstrategie en verhoudings moet gereed wees om vinnig te kan reageer sodat jy vrugte kan verkoop.”

Direkte betrokkenheid in Europa

Volgens hom was Tru-Cape, wat na 104 lande wêreldwyd appels en pere uitvoer, tot dusver nie so regstreeks in Europa betrokke soos hy wil wees nie. “Ons sal daar probeer veld wen. Daar is ’n strewe by Europese kleinhandelaars om meer direk te koop en ons sal probeer munt slaan daaruit.”

Hy het egter gesê die Suid-Afrikaanse bemarkingstyd vir pere krimp in Europa, veral weens die Conference-peer wat in Europa verbou word. “Hulle verkies om hul eie pere te eet en blykbaar plant België en Nederland sowat ’n miljoen peerbome per jaar. Dit eet in ons bemarkingstyd in.”

Ander markte wat die maatskappy wil oorweeg, sluit in nuwe afsetgebiede in die Verre- en Midde-Ooste. Ongeveer die helfte van Tru-Cape se volume word steeds in Afrika verkoop.

Goeie oesverwagtinge

Pienaar sê teenoor 2017 het die appel- en peeroes verlede jaar met bykans 13% geval weens die droogte. Vanjaar beraam die bedryf om sowat 6% meer as verlede jaar te pluk.

“Dis nog vroeg om te praat en baie kan gebeur, maar vanuit ’n volume-oogpunt verwag ons ’n goeie jaar. Ek meen gehalte en vruggrootte gaan ook beter wees as verlede jaar. Dit lyk dus of ons vanjaar in ’n beter posisie is, maar ons mededingers ook, wat ’n uitwerking op die prys gaan hê.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.