0p ’n dag het mnr. Buks Nel vir die Amerikaanse appelkenner mnr. Don Heinecke gevra hoe oud ’n appelboom kan word. “Hy sê toe: ‘An apple tree is as old as its bearing wood. If its bearing wood is one year old, the tree is one year old.’ Dís my antwoord op jou vraag oor hoe oud ek is,” sê Nel.

Ná sy aftrede – twintig jaar gelede – het ’n nuwe loopbaan as kenner van nuwe kultivars by Tru-Cape gewink. Die afgelope twee dekades het hy honderde – dalk duisende – kilometers in appel- en peerboorde gestap op soek na nuwe, beter kultivars wat aan boere, bemarkers en verbruikers se behoeftes voldoen.

Dís hoekom sy kollega mnr. Henk Griessel hom die diamantdelwer van die appelbedryf noem. Nel sê 2011 was sy annus mirabilis, toe hy die bloedrooi Bigbucks-appel (met die FlashGala-handelsmerk) ontdek het, die verbeterde Fuji Royal gekry het én ’n spoortipe- Fuji-boom gevind het.

Voor hy Tru-Cape se “nuwe kultivarman” geword het, was hy 25 jaar lank betrokke by Two-A-Day, waar hy baanbrekerswerk met geïntegreerde plaagbestuur verrig het. En voor dit het hy 13 jaar lank by ’n “gifmaatskappy”, die destydse Fison, gewerk. Maar uiteindelik was dit veral appels – en spesifiek hoe mutasies plaasvind – wat sy belangstelling geprikkel het.

Reisgogga byt

Nel het op ’n plaas anderkant Ladismith grootgeword en was een van net 12 leerders by die plaaslike plaasskool (Weltevreden Primêr). Ná sy insekkunde-studie aan die Universiteit Stellenbosch het ’n mede-Dagbreker vir hom ’n werk gereël by Fison. “Jy weet, toe ek begin werk het, het ’n gogga-mechanic óf in ’n museum gaan werk en die hare op die arsehole van ’n mot or something getel óf jy het by ’n gifmaatskappy gaan werk,” sê Nel.

Ná sowat twee jaar het hy egter met ’n ander soort gogga te doen gekry – die reisgogga – en hy het “sy goed gepak en sy bollingtjie gevat” om Engeland toe te gaan. “Daai tyd, in die sestigerjare, was dit ’n helluva ding om oorsee te gaan. Die goedkoopste was per skip en die helfte van my pals op Stellenbosch het op die kaai kom groet.”

Op dié reis het hy ’n vierbed- kajuit met ’n dokter gedeel. “Ons het veertien dae lank dieselfde lug ingeasem en hy het my genooi om vir hulle in Engeland te gaan kuier. Toe trou ek met sy dogter!”

Hy en Ros, sy kunstenaarsvrou, was onlangs vyftig jaar getroud. “Ek kon nie beter gekies het nie. Sy’t my geleer Engels praat, sy’t my geleer om ’n bietjie te lees (daar op Weltevreden Primary moes ons rondloop en buite speel, nie daai leesbesigheid doen nie); sy’t ’n bietjie civilization in my lewe gebring.”

Nel het in die somermaande in Suid-Afrika plaagbeheermiddels getoets, en in die Europese somer het hy dieselfde gedoen op plekke soos Italië, Engeland en Ciprus – met Ros as sy assistent. Ná die geboorte van hul oudste dogter (hulle het drie dogters), het Nel besluit hulle kan nie meer oorsee werk nie en hy het in 1975 by Two-A-Day ingeval. “Geïntegreerde plaagbestuur (IPM) was daardie tyd nuut. Jy was amper ’n greenie. Mense kyk so na jou en dink, wel, hier is mos nou ’n bunny hugger!”

Nel het deurgedruk en ’n IPM-groep gestig wat elke week of twee bymekaar gekom het. Nie lank nie, of hy het verkoopsverteenwoordigers van plaagbekampingsmaatskappye bygesleep. “Ons moes die boodskap op ’n manier daar buite kry. Daardie tyd moes jou boord steriel, silwerskoon wees. Tot ’n ou in Bolzano, in die Suid-Tirool, vir my gesê het ons sal nooit IPM hier regkry nie, want ons boorde is te groen teen oestyd. Daar móét ’n bietjie rooispinnekop wees, anders is daar nie kos vir die predatore nie.

“Hy het my kop geswaai. Nou sê ons jy mag net spuit as 40% van die blare besmet is met rooispinnekop. Daai tyd het ons drie, vier keer vir rooispinnekop gespuit, nou spuit hulle miskien ’n kwart keer.”

Mnre. Henk Griessel en Buks Nel (met die grawe) plant ’n Witte Wijnappelboom in Babylonstoren se erfenistuin. Verlede jaar op 17 April, presies 357 jaar ná Jan van Riebeeck die eerste appel aan die Kaap gepluk het, het hulle een van die bome in die Kaapse Kompanjiestuin geplant.

Al die nuwe dinge

Teen sy aftrede by Two-A-Day in 2000 was hy lankal geprikkel deur nuwe kultivars en hoe mutasies plaasvind. “Daar was altyd net Grannys, Goldens en Reds en so aan, en toe skielik in die eighties, miskien ’n bietjie later, kom Gala as ’n heeltemal nuwe kultivar. Toe begin Fuji en een of twee ander kultivars … Dit het my getrigger dat goed kan muteer. Toe ek by Two-A-Day moet waai, sê hulle, luister, ons gaan vir jou ’n jobbie gee by Tru-Cape. Jy word die nuwe kultivarman.”

Sy kontrak vereis van hom om twee dae per week te werk, maar Nel ry bykans daagliks oor Sir Lowryspas na Grabouw se appelboorde. Elke tweede week is hy op plase in die Ceres-omgewing.

“Ek het kultivarblokke op verskillende plekke. Die een waarmee ek nou mee besig is, het amper 400 kultivars. In April, Mei gaan ek na al die mense wie se job dit is om nuwe kultivars in te bring, soos TopFruit, Stargrow, Sapo en vra vir enthout wat ek kan toets. Teen Augustus werk ek dit oor en dan sien ek binne ’n jaar of twee vrugte. Ek hap maar baie appels as ek deur die kultivarblok stap. Lateraan is jy blikners gekou. Maar ek is nie ’n evalueerder nie, ek is ’n observeerder. Ek check, ek gee ’n opinie. Ek is ten to one 50% van die tyd verkeerd!”

Hy soek ook na mutasies in kommersiële blokke. Iets met wow-faktor wat dadelik die oog vang, soos met Bigbucks, die blinkrooi juweel van ’n Gala. Die middag van 18 Januarie 2011 sal hy nie sommer vergeet nie. “Ek het vir ’n beter Gala gesoek in ’n Corder Gala-blok op Oakvalley in Grabouw toe ek nie kon glo wat ek raaksien nie. All of a sudden … jy moet onthou 18 Januarie is vroeg vir ’n Gala en hier is die ding bloedrooi. Jis, ek het baie foto’s geneem! Dit was ’n helluva kick vir my.”

Die lang proses het toe begin om bome te vermeerder en planttelersregte te verkry. Saam met mnre. Derek Corder (wat die planttelersregte vir Corder Gala hou) en Anthony Rawbone-Viljoen (eienaar van Oakvalley, die plaas waarop Nel die mutasie gevind het), het hulle die maatskappy PinkVein, die eienaar van Bigbucks, begin. Nou, nege jaar later, is daar reeds sowat 1,1 miljoen Bigbucks-bome in Suid-Afrika geplant, met sowat 350 000 wat in die komende plantseisoen in die grond gesteek gaan word.

“Hoekom plant mense so iets? Ek dink een van die redes is kleur, hy’t ’n ander kleur as ander Galas. Baie rooier. Ek het net gister deur die pakhuis gestap, en dis stunning. Jy kan nie glo wat jy sien nie,” vertel hy. “Die tweede ding is stabiliteit, en vir my is dit amper belangriker. Gala is maar ’n onstabiele kultivar, maar tot dusver was daar nog geen terugslaan by Bigbucks nie.”

Sy tweede deurbraak in 2011 was toe hy ’n besonderse Fuji-mutasie raakloop. Nel het dit Viagra B genoem. In dieselfde tyd het die Witzenbergse appelboer mnr. Robert Zulch ’n soortgelyke mutasie gevind en dit Fuji Royal gedoop. Uiteindelik kon daar nie ’n verskil tussen die twee gekry word nie, en Zulch en Tru-Cape het gesamentlik vir planttelersregte onder die naam Fuji Royal aansoek gedoen.

Die derde “diamant” wat hy in daardie jaar raakgedelf het, was ’n Fuji-boom met ’n spoortipe-groeiwyse. “Ons noem hom Shorty. Hy’s amper vir my meer opwindend as die Fuji Royal, want hy is só anders. Maar enige spoortipe is ’n moeilike boom; hy kry nie hoogte nie, hy wil net drá. Oakvalley het nou 2 ha daarvan geplant.”

BO: In die natuurlike appelwoude in Kazakstan, wat alom beskou word as die geboorteplek van die moderne appel.

Waar kom dit vandaan?

In sy soeke na nuwer, beter kultivars het Nel begin wonder oor die oorsprong van appels. “Ek dink as jy ’n nuwe ding wil waardeer, dan moet jy weet waar dit vandaan kom.” Saam met Griessel (“hy’s eintlik so bietjie van ’n geskiedkundige”) het Nel begin navorsing doen oor waar die eerste appel aan die Kaap vandaan gekom het.

Hulle het in Jan van Riebeeck se dagboek ’n aantekening gekry oor die eerste twee Hollandse appels wat hy aan die Kaap gepluk het – op 17 April 1662. “Hy het genoem wat hulle geweeg het en ook gesê hoe die weer gelyk het – daar was misreën oor die see en ’n sterk noordwester het gewaai. So much for climate change!”

Hul soektog na Hollandse appels, ook bekend as die Witte Wijnappel, het hulle na Holland gelei, waar hulle dit iewers in ’n agtertuin opgespoor het. “Ons het hom deur kwarantyn gebring en verlede jaar, op 17 April, in die Kaapse Kompanjietuin geplant,” vertel Nel trots.

Hy is glad nie verbaas die Hollandse Witte Wijnappels het verdwyn nie. “Ek sal vir jou die Wemmershoek-appels wys wat in 1925 die hoofkultivar aan die Kaap was en as jy hom nou sien, sal jy dit nie eens vir die varke gee nie. Dis sulke klein katballetjies! Dis hoekom jy moet soek …”

Nel en Griessel het ’n boek Apples in the Early Days at the Cape geskryf. Binnekort sien nog een die lig, ’n “storieboek” getiteld Newcomers, oor die appelkultivars van die 20ste eeu.

“Wie het die eerste Golden, Granny en Red Delicious geplant? En waar het die name vandaan gekom? Granny Smith kom byvoorbeeld van iewers naby Sydney, waar Maria Anne Smith dit in die 1840’s as ’n saailing buitekant haar kombuisvenster sien opkom het. Toe die boom begin dra, sien hulle dis ’n groen appel. Sy is ongelukkig dood voor sy die kultivar se sukses kon ervaar.”

INLAS: Die appels wat Nel in Kazakstan se appelwoude gepluk het.

Land van appels

In September is Nel Kazakstan toe, iets wat hy glo enige appelliefhebber een keer in sy lewe moet doen. Die hedendaagse appel het sy oorsprong hier in die Tien Shan-berge naby Altamy (die Stad van Appels). “Jy kry baie wilde appels (Malus sieversii) in die natuurlike appelwoude daar. Dit lyk soos die Knysna-bosse. Dis deurmekaar en die bome is ineengestrengel. Dit staan bekend as die geboorteplek van die moderne appel, want die appels was al 60 miljoen jaar gelede daar.

"Hoekom het dit nie versprei nie? Dit het blykbaar te doen met die landmassa wat geskuif en die bome daar vasgekeer het. Appelsaad het eers 2 000 jaar gelede met die Syroete begin versprei en toe bere uit die gebied kon kom (hulle versprei die saad deur hul mis),” vertel hy en wys ’n paar foto’s van hul ruwe bestemming – kompleet met die basiese verblyf, stankende toilette, beermis en natuurlik die magiese woude.

Die gesprek draai na sy lewe saam met Ros op hul hektaargroot erf neffens die Helderberg-natuurreservaat. Die tuin is maar ’n woesteny, sê hy, maar hy troos hom daaraan dat dit wildlewe lok. Daar loop ook twee alpakkas – Bok en Leeu – wat sy vrou en dogters gekoop het terwyl Nel in Amerika was. Dis hier waar hy sy liefde vir wyn uitleef.

Nel maak elke jaar sy eie bottelgegiste vonkelwyn en proe al meer as twintig jaar ook vir die gesogte Wine of the Month Club. Hy het ook al op die proepanele van die Veritas- en Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou-toekennings gedien. En ook oor wyn het hy al ’n boek of twee die lig laat sien.

“Ek is maar ’n gewone salaristrekker, maar daar kom ’n paar sjielings in van royalties en ek probeer dit vir liefdadigheid gee. Ek is nie Bill Gates nie, maar elke bord kos kan ’n verskil maak. En as jy my vra wat my groot worry is, is dit dat ek nie die geldvermoë het om te kan weggee nie,” vertel hy, en beduie dat dit nie nodig is om dit te skryf nie.

“Ek is nie ’n workaholic nie, ek probeer die lewe geniet. Ek is nie seker hoe lank hierdie ouens (Tru-Cape) my nog gaan aanhou nie, maar ek sal graag vir die res van my tyd met hierdie goed (nuwe kultivars) te doen wil wees,” vertel die man wie se drahout duidelik nog bloedjonk is.

Saam met mnr. Henk Griessel, tydens die bekendstelling van hul boek Apples in the Early Days at the Cape. Die twee kollegas gaan binnekort ’n nuwe boek, Newcomers, die lig laat sien. Buks is verlede jaar as Landbouskrywers SA se Landboukundige van die Jaar aangewys.

’n Blik in die kristalbal

Buks Nel vroetel met ’n plastieksakkie waaruit hy robynrooi FlashGala-appels haal. “Jy moet blind wees om dit te mis! Nou kan jy vra, what’s next? Dis nou amper ’n gegewe dat ’n nuwe appel minstens ’n sekere mate van weerstand moet hê teen appelskurfsiekte en fusicladium. Onderstamme moet almal weerstand bied teen appelbloedluis en phytophtera, anders is dit ’n no go.”

Nel voorspel chemikalieë gaan voortaan al minder gebruik word, daarom sal weerstandbiedendheid al belangriker word. Hy verwag ook dat daar minder klem op die voorkoms van appels geplaas gaan word, maar dat smaak meer aandag gaan kry. “Daar is min mense wat smaak eintlik ernstig opneem. Daar is ’n paar fynproewers wat ’n dollar ekstra sal betaal, maar die deursneekoper koop net ’n sakkie appels en dis dit.”

Eintlik dink hy die groot spronge in die toekoms gaan nie met kultivars wees nie, maar eerder in die manier hoe dit produseer word. “Daar is baie min mense wat nou minder as 2 000 bome per hektaar plant. Dan het jy ’n kleiner boompie nodig. Ons het Shorty nou 3,5 m x 0,6 m geplant, en ek dink tussen die rye is dit nog te wyd. Ek dink onderstamme is baie belangrik, veral dié wat uit Geneva kom.”

Navrae: buks@tru-cape.co.za, 082 494 6830.