Volgens me. Cathy van Zyl, wynmeester en voorsitter van die kompetisie se beoordelaarspaneel, kom die meeste van die wyne wat die gesogte top 10-lys gehaal het, uit ouer wingerde.

 “Een van die wenners kom van 'n wingerd wat 12 jaar oud is, maar die druiwe van die ander kom almal van wingerde wat ouer as 27 jaar is.”

Die oudste wingerd onder die wenners het al 65 somers agter die blad.

’n Bekende gunsteling, Spier, pryk weer onder die beste tien – ’n prestasie wat die kelder sedert die instelling van die kompetisie in 2014 nog elke jaar behaal het. Morgenzon verskyn sedert 2015 elke jaar op die uitsoeklys.

Vanjaar se kompetisie het ’n rekordgetal van 159 inskrywings gelok. Dis 17% meer as verlede jaar.

Volgens mnr. Ken Forrester, voorsitter van die Chenin blanc-vereniging, wen die kultivar veld onder ’n wye gehoor. Al hoe meer Chenin blanc-wyn word plaaslik en oorsee verkoop.

“Meer en meer mense glo daarin, koop dit, drink dit en praat daaroor. Die veelsydigheid van Chenin, die verskeidenheid wynstyle waartoe die kultivar hom leen en die feit dat dit so 'n uitstekende kosmaat is, is van die redes waarom plaaslike verbruikers die kultivar toenemend aanvaar.”

Suid-Afrika het meer Chenin blanc-wingerde as enige ander land ter wêreld.

Die Chenin blanc-vereniging het op 15 Junie as deel van internasionale Chenin-dag ’n veldtog op sosiale media, genaamd #DrinkChenin, van stapel gestuur om mense aan te moedig om Chenin blanc te drink. Die veldtog het 4,9 miljoen indrukke gehad.  

“Die plaaslike neiging stem ooreen met die groeiende internasionale belangstelling in die druifsoort wat oorsee al hoe meer gesien word as Suid-Afrika se besigheidskaartjie.”

Elk van die top 10-wyne ontvang  prysgeld ter waarde van R25 000. Dit moet gebruik word om ekonomiese en maatskaplike voordele in die werkplek te versterk.

"Ons glo die eer verbonde daarvan om die top tien-lys te haal, moet tussen die werkers en die handelsmerk-eienaars gedeel word,” sê mnr. Willie du Plessis, uitvoerende hoof van besigheidsbankdienste by Standard Bank in die Wes-Kaap.

Die wenwyne kom van so ver as die Sederberg, maar ook Stellenbosch, Darling, Elgin, Durbanville, die Swartland, Slanghoek en Botrivier.

“Die gemiddelde prys van die top 10-wyne beloop sowat R200 per bottel. Dit bied uitsonderlike waarde.”

Die beste Chenin blanc wat jy vanjaar kan drink. Foto: Verskaf

Die beste Chenin blanc wat jy vanjaar kan drink, is: Cederberg Private Cellar Five Generations Chenin Blanc 2016, DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2017, Jean Daneel Wines Signature Chenin Blanc 2016, Leopard’ s Leap Culinaria Chenin Blanc 2016, Mulderbosch Vineyards Chenin Blanc Steen op Hout 2017, Slanghoek Wynkelder Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2016, Spier Wines 21 Gables Chenin Blanc 2017, Stellenrust ‘53’ Barrel Fermented Chenin 2017, Wellington Wines La Cave Chenin Blanc 2016, en Wildekrans Barrel Select Chenin Blanc Reserve 2017.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.