Me. Lindie Stroebel, algemene bestuurder van die bemarkingsvereniging vir vars produkte PMA Suider-Afrika, het saam met ’n handjie vol belanghebbendes na Limpopo gereis vir ’n kykie na waar van Suid-Afrika se vars produkte vandaan kom.

Die groep is gelei deur mnr. Kobus Rossouw, ZZ2 se bemarkingsbeampte vir supermarkte, en hulle het die plase en pakhuise van Mahela by Letsitele en ZZ2 by Mooketsi besoek. Me. Anouk Sijmonsma, die PMA se nuwe streeks-visevoorsitter vir Asië, Afrika, Europa, Australië en Nieu-Seeland, het die groep vergesel.

PMA moedig handel met China aan 

Die PMA het ’n groot teenwoordigheid in die markomgewing vir vars produkte in China. Met ’n kantoor en lede in China, bring die PMA geleenthede na sy lede, wat lei tot handel.

“Lemoene oorheers die waarde van produkte wat na China verskeep word. Van 2016 tot verlede jaar het dit byna verdubbel. Pomelo’s is die naasgrootste produk. Die Chinese hou baie van Suid-Afrikaanse lemoene en sowat 10% van hul ingevoerde lemoene kom uit Suid-Afrika; 11% van hul ingevoerde pomelo’s is van Suid-Afrika,” sê Stroebel.

“Hoewel die uitvoer van druiwe na China en die mark daarvoor moeiliker is, is dit steeds ’n produk met groot groeipotensiaal. Suid-Afrika het’n skrale 1,3%-aandeel in China se totale druiwe-invoer. Ons het onlangs eers toegang tot die Chinese appelmark gekry en die groei is reeds noemenswaardig.” 

Van links is mnre. Kobus Rossouw (ZZ2), Kevin Zhu en Andy Zhang in ZZ2 se avokado-verpakkingsaanleg. Foto: Liza Bohlmann
ZZ2 se Afrikado-kwekery produseer jaarliks sowat 150 000 bome en is die grootste kwekery in sy soort ter wêreld. Foto: Liza Bohlmann
Mnr. Kevin Zhu, spesialisaankoper van Fruitday (Sjanghai, China), bekyk die verpakking en gehalte van Afrikado-produkte. Foto: Liza Bohlmann

Chinese kom kyk self

Die Chinese besoekers, mnre. Kevin Zhu, spesialisaankoper van Fruitday (Sjanghai, China), Dan Sun, voorsitter van HarvestMark (VSA) en Andy Zhang, visevoorsitter van Win-Chain van die Yiguo-groep, het veral belang gestel in hoe ’n groot produsent soos Mahela, waar handelsmerke soos handelsname soos Outspan, Sunkist en Mahela verpak word, tegnologie gebruik om aantekeninge by te hou en ook hoe sy bemarkingstrategie vir uitvoer lyk. Mahela is waar handelsmerke, soos Outspan, Sunkist en Mahela, verpak word.

Mnr. Thys Katzke, Mahela se pakhuisbestuurder by Letsitele, het ’n kort toer van die geriewe gelei. Me. Gerria Duberly, bemarkingsbestuurder, het aan die groep verduidelik watter probleme die groep in die gesig staar.

Die grootste daarvan is die beskikbaarheid van water vir besproeiing en droogtes, wat die kleur van sitrus, soos pomelo’s beïnvloed. “Ons het die afgelope seisoen gesukkel om vrugte met die regte kleur aan die Chinese mark te lewer. Dié mark is baie kieskeurig,” het Katzke gesê.

Die besoekers was opgewonde om bekende handelsname in die Chinese mark, soos Sunkist, in die pakhuis te sien. Zhang, een van die sprekers op die PMA Fresh Connections-konferensie, het oor groeigeleenthede in die Chinese mark gesels. Hy het tydens die besoek oor groei- en nuwe bemarkingsgeleenthede uitgewei. 

Vandie Letsitele-omgewing het die groep na Tzaneen en later Mooketsi gereis. Daar het mnr. Ed Treacy, die PMA se visevoorsitter vir voorsieningskanaaldoeltreffendheid, by die groep aangesluit. Die groep is deur die span van ZZ2 ingelig oor die omvang en werking van dié reuse-landbou-onderneming en sy verskillende produkte en plase. 

Mnr. Tommie van Zyl, uitvoerende hoof van ZZ2, het die formele inligtingsessie gelei, terwyl mnre. Piet Prinsloo en Wiam Haddad die groep op uitstappies na die kweekhuise, produksie-eenhede en laboratorium vergesel het.

Die beginsels vir ZZ2 se natuurboerdery en besluite wat sy verskerpte fokus op avokadoproduksie bepaal, het veral aandag geniet.

Op een van die toere se terugvoersessies het die groep die omvang en gehalte van produksie openlik bewonder. Die ontwikkeling van nuwe tegnieke vir die vermeerdering van avokadosaailinge en navorsing oor nuwe kultivars het die besoekers veral beïndruk.

ZZ2 se aanplantings van avokado’s staan tans op effens meer as 800 ha en brei steeds uit. Die ZZ2 Afrikado-kwekery – die grootste in sy soort ter wêreld – lewer jaarliks 150 000 bome.

Aan produksiekant verskaf ZZ2 nie net die meeste tamaties in Suid-Afrika nie, maar ook ’n stewige 10 000 ton wat plaaslik en in die buiteland verkoop word. Tamaties word uitgevoer na Brittanje, die Europese Unie en verskeie lande in Asië.

Potensiaal vir meer uitvoer

“Daar is groot potensiaal vir verdere groei, veral in die lig van die handelsoorlog tussen China en Amerika, waartydens China ’n 15%-tarief op Amerikaanse landbouprodukte geplaas het. 

“Dit gee ’n geleentheid vir Suid-Afrika om appeluitvoer na China te stimuleer en die markaandeel daarvoor te vergroot,” sê Stroebel.

Sy sê die besoek deur die Chinese toergroep is deel van die PMA se ontwikkeling van beter handelsbande.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.