Cis-genetika is ’n tipe biotegnologie wat die proses van selektiewe, natuurlike teling naboots en versnel. Cis-genetiese ontwikkeling hou dus belofte in om doeltreffende oplossings vir voedselproduksie te bring.

’n Voorbeeld

Tradisioneel behels die teling van spesifieke eienskappe van byvoorbeeld ’n wilde, oeroue appelkultivar in ’n Granny Smith-appel dat die twee organismes deur telers kruisbestuif word om ’n mengsel van die genetiese eienskappe te kry. ’n Groot aantal van hierdie mengsels sal gekweek moet word om te sien watter kruisings wel die verlangde eienskappe van albei kultivars het. Daardie kruisings sal dan verder verbeter moet word met Granny Smith-teelmateriaal sodat slegs die verlangde eienskap van die wilde appelkultivar in die Granny Smith agterbly.

Dit is ’n tydrowende proses wat ongelooflik baie hulpbronne verg. Met cis-genetika kan hierdie eienskap sonder al die hulpbronne en tyd in die Granny Smith-appel gevestig word. Met genomika en geen-merkers kan die geen wat hierdie spesifieke eienskap dra, in die wilde appel geïdentifiseer word sodat dit in die Granny Smith-appel se genetiese samestelling geplaas kan word. Omdat die kultivars van dieselfde familie kom, sal hierdie geen aan die nageslag oorgedra word.

Die waarskynlikheid dat hierdie geen reeds in die Granny Smith-appel se genetiese samestelling voorkom, maar nie “geaktiveer” is nie, is ook baie goed. In so ’n geval kan wetenskaplikes hierdie spesifieke geen op die DNA-stringe skuif om dit te aktiveer. 

Op hierdie wyse is aartappels geteel wat weerstand bied teen laatroes – die patogeen wat die Ierse hongersnood in 1845 veroorsaak het en steeds wêreldwyd ’n probleem is vir bedryf.

Fienie Niederwieser
Dr. Fienie Niederwieser. Foto: Verskaf
Pieter van der Zaag
Pieter van der Zaag. Foto: Verskaf

’n Wen-wensituasie

Cis-genetiese tegnologie kan dus onder meer probleme en die ongewenste gevolge wat chemiese stowwe vir ekostelsel-volhoubaarheid inhou, aanpak. Dit kan ook die antwoord wees op probleme wat klimaatsverandering vir voedselproduksie veroorsaak en die behoeftes van verbruikers vir ’n meer etiese en verantwoordbare voedselproduksiestelsel aanpak.

Volgens dr. Peter VanderZaag, aartappelboer van Kanada en navorser en dosent by die aartappelakademie van die Yunnan-universiteit in China, kan hierdie tegnologie vir die wêreld van baie waarde wees. “Daar is baie min regerings wêreldwyd wat GMO’s vir menslike gebruik goedkeur, hoewel dit doeltreffende oplossings vir probleme in wêreldwye voedselsekerheid en winsgewendheid in die landbou bring. Dertig jaar gelede het Monsanto, dalk effens arrogant en sonder oordeel en inagneming van die verbruiker se voorkeure, GM-tegnologie gekommersialiseer. Cis-genetika kan vir seker die wêreld verander en selfs meer waarde as GMO’s toevoeg, maar ons moet uit die GM-lesse leer en oordeelkundig te werk gaan. Die voordele van hierdie tegnologie is eindeloos en ons kan eintlik nie bekostig om dit te laat misluk nie,” het VanderZaag onlangs by Aartappels Suid-Afrika se Moerkwekersforum in Kaapstad gesê.

Mnr. John Bergh, ’n groenteboer van Clanwilliam, het die voorsitter en die uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika (ASA) gevra om ’n gesprek in die bedryf rondom die aanvaarding en uitbreiding van hierdie tegnologie aan die gang te kry. 

Die tegnologie is egter nog in sy babaskoene en daar is ’n paar kwessies volgens dr. Fienie Niederwieser, bestuurder van navorsing by Aartappels Suid-Afrika. “Daar is wetenskaplikes wat versigtig is vir hierdie tegnologie omdat daar nog onsekerheid is oor die presisie en doeltreffendheid waarmee genetiese eienskappe in organismes verander kan word.

Suid-Afrika is ook afhanklik van ingevoerde kultivars en wetgewing wat hierdie tipe tegnologie streng beheer. Suid-Afrika is afhanklik van kultivars wat in Brittanje en Europa ontwikkel word, waar wetgewing die ontwikkeling van cis-genetiese kultivars baie duur maak. Omdat kultivars eerstens ontwikkel word vir Europa en Brittanje, waar die verbruiker steeds gekant is teen enige geen-tegnologie, is die kans skraal dat cis-genetiese aartappelkultivars vir Suid-Afrika beskikbaar gaan word.

“ASA het reeds ’n gespreksdokument oorweeg waarin verskeie aspekte van genetiese modifikasie bespreek is. Die nasionale raad het besluit dat die tyd nie reg is in Suid-Afrika vir die tegnologie nie.

“Hierdie besluit is geneem op grond van die bogenoemde rede, asook die feit dat buurlande, waarheen Suid-Afrika aartappels uitvoer, ’n streng beleid teen GM voedsel het. Die gevoel is dat haploïede-teling, ’n nuwe manier om aartappels konvensioneel te teel, aanvaarbaarder blyk te wees en nie onderworpe is aan die wetgewing van GM plante nie,” het Niederwieser gesê.

Herklassifisering moontlik

Cis-genetika word in die meeste lande nog ingevolge GM-wetgewing gereguleer. Die plaaslike wetgewing wat hierdie wetenskap reguleer, is die Wet op Geneties Gemodifiseerde Organismes (Wet 15 van 1997).

Hiervolgens word alle GM gewasse wat as voedsel of voedselprodukte gebruik gaan word, ingevolge die Suid-Afrikaanse GM-wetgewing verplig om ’n deeglike en streng voedsel- en voedingsveiligheidsbeoordeling te ondergaan voordat dit vir kommersiële gebruik goedgekeur kan word. Lande wêreldwyd het soortgelyke wetgewing en in 60 lande, insluitend Brittanje, word GMO’s verbied.

’n Skuiwergat bestaan egter omdat wetmakers en wetenskaplikes wêreldwyd nog nie oortuig is dat alle GMO’s dieselfde is nie. Volgens VanderZaag word die moontlikheid ondersoek om verskillende klassifikasies van GMO’s te maak.

“Cis-genetika vind plaas tussen seksueel-verenigbare organismes en die resultate wat verkry word, is dieselfde as wat dit sou wees indien tradisionele selektiewe teling toegepas word. Die gesprekke om hierdie tegnologie dus in ’n ander groepering te klassifiseer as, argumentsonthalwe, die Bt-geen wat trans-geneties in gewasse ingeplant word, is steeds wêreldwyd aan die gang.”