Duncan skryf die sterk vraag toe aan toenemende bewustheid van makadamianeute se gesondheidsvoordele onder verbruikers. “Verbruikers begryp hoe voordelig die produk vir hul gesondheid is. Hulle maak dus ’n punt daarvan om makadamias by hul daaglikse dieet in te sluit en selfs deel van hul leefstyl te maak.”

Ondanks Covid-19 het Green Farms se bemarkingsmaatskappy, Green & Gold Macadamias, daarin geslaag om munt te slaan uit wisselvalligheid in die wêreld se wisselkoerse. Produsente is ’n bonus of agterskot van 10% op verlede jaar se oes uitbetaal.

Mnr. Alex Whyte, verkoopsbestuurder van Green & Gold Macadamias, sê dié maatskappy het reeds vroeg in die bemarkingseisoen besef die inperkings kan ’n nadelige uitwerking hê op die voedseldienste-sektor, waar hoofsaaklik kleiner en gebreekte neute bemark word. Daarom is leweringsooreenkomste vir dié neute vroeg in die seisoen aangegaan en transaksies is beklink voordat die vraag opgedroog het.

Ander neute in dié kategorie is bemark deur ’n reeks bestanddele wat Green & Gold bekend gestel het toe die vraag uit die restaurantbedryf begin verlangsaam het.

Die vraag – en die pryse – in die versnapperingsmark, waar heel neute geëet word, het deurgaans sterk gebly. Daar was trouens nie genoeg neute in Suid-Afrika om die gewone kwotas na die makadamia-honger China uit te voer nie.

Green Farms Nut Co. het soveel vertroue in die vraag na neute vir 2021 dat die verwerkingskapasiteit by die maatskappy se drie aanlegte in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal aansienlik uitgebrei is.