Dit sluit sowat 100 inskrywings uit Namibië, Frankryk, Brittanje, Australië se Clare-vallei, asook uit Moldawië en Slowakye in Sentraal-Europa in. Altesaam 24 trofeë en meriete-toekennings is aan die top-wenners vir 2020 gemaak tydens ’n klein, informele seremonie in die Paarl.

Daar was altesaam 615 toekennings, wat saamgestel is uit 21 trofeë, sewe meriete-toekennings, 24 platinum medaljes, 89 dubbelgoud, 363 goue en 111 silwer medaljes.

Chamonix in Franschhoek het die Grand Prix-trofee vir die topwyn ingepalm vir sy 2018 Chardonnay. Dieselfde Chardonnay het ook vanjaar se Chardonnay-trofee verower. Die Grand Prix-trofee vir die topsoetwyn is deur Aan de Doorns losgeslaan met ’n 2017 Rooi Muskadel. Aan de Doorns het ook ’n platinum medalje gewen vir sy 2015 Muscat D’Alexandrie – die enigste produsent wat hierdie prestasie kon behaal.

Die Grand Prix-trofee vir die beste spiritusinskrywing het aan Louiesenhof buite Stellenbosch gegaan. Sy weninskrywing, die ikoniese Le Roux Smit Alambic 16 Jaar Potstil Brandewyn, is opgedra aan Louiesenhof se eertydse eienaar, Stefan Smit, wat in 2019 op die plaas vermoor is, en die meesterdistileerder Jos le Roux, een van Suid-Afrika se brandewynlegendes. Dieselfde brandewyn het vanjaar se Brandewyntrofee, geborg deur African Cellar Suppliers, ontvang.

NUWE LEEFSTYLWENNERS

Twee nuwelinge in die spiritusbedryf het weggestap met twee trofeë en twee spesiale toekennings elk. Hulle is Doña Distillery van Kaapstad en L-Gin Craft Gin vanuit die Elgin Vallei.

Doña Distillery se gereed-om-te-drink Harry Bitter Orange Spritz was die trofeewenner in die kompetisie se nuwe kategorie vir verbruiksgereed gemengde drankies, ’n vinnig groeiende kategorie vir alkoholiese en alkoholvrye produkte. ’n Spesiale toekenning vir die beste alkoholvrye spiritus is toegeken aan Doña Distillery vir sy Mahala-jenewer.

L-Gin Craft Gin se innoverende Gin-on-the-Go-boksie het die kollig gesteel in die kategorie vir alternatiewe verpakkings. L-Gin Craft Gin het ook die 2020 Michelangelo Gin-trofee ontvang vir sy klassieke L-Gin Plush-jenewer.

Drie produsente het daarin geslaag om ’n trofee en ’n platinum medalje los te slaan:

• De Grendel, wat die Kuehne & Nagel Pinot Noir-trofee gewen het vir sy 2017 Op die Berg Pinot Noir, sowel as ’n platinum medalje vir sy 2018 De Grendel Shiraz.

• Aan de Doorns, wat nie net die Grand Prix-trofee ontvang het nie, maar ook ’n platinum medalje vir sy 2015 Muscat D’Alexandrie.

• Diemersdal het die Sauvignon Blanc-trofee gewen vir sy 2020 Winter Ferment Sauvignon Blanc, asook ’n platinum medalje vir die 2019 Diemersdal Pinotage.

Die volledige lys wenners kan by www.michelangeloawards.com gesien word.