Iemand by een van die groter wynmaatskappye is eendag gevra wat sy definisie van volhoubaarheid is. Hy het gesê: “Maar Rico, dis mos eenvoudig. Ons noem dit kontantvloei.”

Omset en wins is belangrik, maar kontantvloei is die werklikheid. Só vertel mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, oor ’n greinerige skerm tydens Vinpro se inligtingsdag vir die Robertson-streek. Zoom- of Microsoft Teams-vergaderings is immers deel van die nuwe normaal.

Kelders en wynboere se kontantvloei kom nou erg onder druk weens die Covid-19-pandemie wat oornag die wynbedryf in een van die grootste krisisse tot nog toe gedompel het. “Ons het lank gepraat van ’n klimatologiese droogte, maar nou gaan ons ’n finansiële droogte binne. Ons het die afgelope vyf weke altesaam R2 miljard se inkomste verloor weens die verbod op die verkoop van wyn op die plaaslike mark en op uitvoer. Die bedryf verloor R300 miljoen per week wat hy nie plaaslik wyn kan verkoop nie.”

Volgens projeksies gaan 60 tot 80 wynkelders in die volgende twee jaar hul deure toemaak. Waarskynlik gaan 14 000 werkgeleenthede verdwyn. “Ek sien dat ons ses maande lank ’n reusekontantvloeikrisis gaan hê. Dit het reeds begin en gaan teen Julie en Augustus baie erg wees. Ek kan nie sien dat die plaashekinkomste in geheel nie 25-30% laer gaan wees nie. Elke produsent en kelder moet hom voorberei daarvoor.”

In Basson se stem hoor jy die “laat nagte, vroeë oggende en baie, baie vergaderings” waaraan hy die afgelope vyf, ses weke onderwerp was. In Januarie, met Vinpro se groot inligtingsdag, het hy sy lede aangemoedig om van rat te verwissel vir die toekoms.

“Min het ek geweet dat ons twee maande later deur ’n wêreldwye krisis en pandemie getref gaan word. Dis nie asof die wêreld in Januarie van krag tot krag gegaan het nie. Die wêreldwye groeikoers was toe al onder druk, maar twee maande later sit ons met ’n scenario waar die twintig topekonomieë almal drasties afskaal en met negatiewe groeikoerse sit. Almal moet enorme skuld maak om die virus te bekamp, Suid-Afrika inkluis.

“Ons was al by krisisse, maar dié is waarskynlik die ergste een wat in 60 jaar gebeur het. In die verlede het aandeelbeurse gevries, markte het geval en bankrotskappe het gevolg, maar dit het gewoonlik in ’n tydperk van drie jaar gebeur. Dieselfde het nou gebeur, maar binne drie weke. Dit was ’n groot skok. Ewe skielik is 30 miljoen mense in Amerika werkloos.”

Mnr. Rico Basson moes die afgelope weke talle vergaderings, laat nagte en vroeë oggende trotseer in ’n poging om die regering tot ander insigte te bring oor die wynbedryf tydens die grendeltyd.

Irrasionele besluite en vae redes

Boonop sit Suid-Afrika ook met ander probleme, volgens Basson. “Ek dink nie almal het dieselfde kurwe beet as hulle sê ons moet dit platter maak nie. Ons sit met die teenstrydigheid waar jy ’n bevelsentrum het wat nou ’n beheersentrum geraak het. Een woord waarmee ons oor en oor te doen kry, is ‘onsekerheid’. Die afgelope ses weke het ons probeer om ’n datum te kry wanneer uitvoer of plaaslike verkope kan hervat, want dan kan jy beplan. Maar dis baie frustrerend tot dusver.”

Hy noem die afgelope weke sedert pres. Cyril Ramaphosa op 23 Maart ’n staat van inperking aangekondig het – ’n fase van begin, stop, begin, stop. Die onmiddellike probleem wat hulle moes afweer, was dat die regering die wynbedryf as nie-noodsaaklik verklaar het. Alle parsbedrywighede en uitvoer moes opgeskort word, en die plaaslike mark is gesluit.

“Vinpro het saam met die ander organisasies aan die werk gespring en inderhaas met die regering onderhandel. Ons het sowat vyf uur voordat die inperking begin het, toestemming gekry om te kan oes, wyn te maak en die wyn op te berg, al kon ons in daardie stadium nog glad nie wyn verkoop nie.”

Hul tweede voorrangsaak was om die uitvoermark te heropen. “Dit het ’n klein bietjie langer geduur, maar op 7 April kry ons dit toe reg dat slegs finale produkte vervoer en uitgevoer mag word. Net toe ons dink hier is nou ’n geleentheid om die gaping toe te maak, laat weet die minister van vervoer (mnr. Fikile Mbalula) uit die bloute op 16 April dit is nie meer moontlik om wynprodukte na die hawe te vervoer nie.”

Die redes wat hy verskaf het, was “baie, baie vaag”. Onder meer die misdadige element in Suid-Afrika. “Die besluit is sonder konsultasie geneem. Ek dink konsultasie sou insluit dat ons kyk na maniere om hierdie vraghouers te beveilig, deur byvoorbeeld in ’n konvooi te ry. Maar daar is net eenvoudig ’n irrasionele besluit geneem,” sê Basson.

Onwettige drankhandel

Op 1 Mei, toe Suid-Afrika na vlak 4-regulasies van die staat van inperking beweeg het, kon die wynbedryf weer die begin-knoppie druk. Produksie, versnyding, verpakking, etikettering en uitvoer deur hawens en padlangs na Afrika kon voortgaan, met die nodige veiligheidsprotokolle. ’n Rooi stopteken is egter ook opgerig om verkope op die plaaslike mark steeds te verbied.

“Ons het ’n voorstel aan die regering gemaak dat die plaaslike mark moet oopmaak in sekere kanale waar ons meen die risiko laag is. Ons het presies dieselfde benadering gevolg wat die regering voorstel, naamlik ’n risiko-aangepaste benadering. Ons meen as jy wyn binne normale handelsure, maar met volumebeperkings, in supermarkte met lisensies kan verkoop, is dit ’n lae risiko.

"Ons wil nie die ure beperk nie, want dan sal dit lyk soos wat oefening tans lyk tussen 06:00 en 09:00 in die oggend. Mense sal mekaar vertrap, en dit sal ’n risiko wees. Ons meen verder dat e-platforms, aflewering by die huis saam met kos, en ‘klik en laai op’ by kelderdeure moet kan voortgaan.”

Dis waaroor die wynbedryftaakspan (waarvan Vinpro ’n lid is) nou met die regering arm druk. “Ons kyk na ’n regsmening, maar gaan steeds met onderhandelinge voort. Ons weet dat dit op vlak 3 moontlik sal wees om wyn op die plaaslike mark te verkoop binne sekere beperkings, maar ons het nie die luukse om te wag vir vlak 3 nie. Ons weet nie hoe lank dit gaan duur nie, en tweedens kan dit wees dat die land na vlak 3 beweeg, maar ’n provinsie op vlak 4 bly.

"Ek word dikwels gevra of ons regsoptrede van stapel gaan stuur. Dis ’n opsie, maar soos – ek dink – dr. Johann Rupert gesê het, as jy wil kat-en-muisspeletjies speel, moet jy seker maak jy is die kat.

“Die probleme wat ons het met die anti-alkohol- en anti-tabakhouding is reusagtig en moet opgelos word. Dis sentiment. Iemand het gesê 80% van die ministers en parlementariërs drink glad nie. Of dit waar is of nie, weet ek nie. Wat ek wel weet, is van die besluite word irrasioneel geneem.”

Basson erken dat alkoholmisbruik ’n probleem in die land is wat nie weggeredeneer kan word nie. Hy meen egter die onwettige drankbrousels wat nou al hoe meer kop uitsteek, rig baie meer skade aan. “In 2016 het onwettige handel 24% van die alkoholbedryf uitgemaak. Dit beteken een uit elke vier liter drank in Suid-Afrika is onwettig. Vandag is dit waarskynlik nader aan 30%.

"Jy sit met ’n swartmark wat van krag tot krag gaan, en hoewel ek nie gaan bespiegel nie, lyk dit nie noodwendig of daar van regeringskant af ’n behoefte is om dit stop te sit nie. Dis onrusbarend dat ons ’n situasie het waar die konkoksies wat wél beskikbaar is, mense se lewens bedreig.”

Vanjaar se druiwe-oes is sowat 8% groter as dié van verlede jaar, maar daar heers groot kommer oor die bedryf se vermoë om dit te verkoop weens “irrasionele besluite” deur die regering.

Uitvoerbedryf ’n reddingsboei

In tipiese Basson-styl soek hy die sprankies hoop. Dit kry hy in die “nuwe normaal” waaroor almal deesdae praat – spesifiek in die uitvoermark, waar ’n lae brandstofprys, lae rentekoerse en ’n swak wisselkoers (“dis wel ’n tweesnydende swaard”) in boere se guns tel. “ ’n Nuwe sakemodel is besig om die lig te sien, terwyl die tradisionele bemarkingskanale gesluit is. Daar is geen twyfel nie dat e-platforms, aanlyn verkope en ‘klik en laai op’ beduidend gegroei het.”

Data deur Nielsen wys hoe mense oorsee wyn bestel om te geniet saam met etes wat hulle tuis voorberei. Ander statistieke toon dat verbruik by restaurante, op passasierskepe en by lugdienste met 35% gaan daal en die waarde met 50% – die on trade-sy van die bedryf.

“Dis slegte nuus vir restaurante, maar ’n geleentheid wat wynondernemings kan benut. Hier kom ’n klomp aanpassings. Ons sien in Suid-Afrika hoe ’n klomp ondernemings die geleentheid aangryp om virtuele wynproeë aan te bied of na ander maniere kyk om aanlyn seminare aan te bied. Dit is wel van ’n lae basis af, maar dis opwindend hoe innovasie kan plaasvind.”

‘Moenie wyn weggee’

Wat vanjaar se wyndruifoes betref, het Basson gesê dit is 8% groter as dié van verlede jaar. Die gehalte maak wynmakers ook opgewonde. “Dit klink asof ons die produk het om te gaan verkoop.”

Maar is die mark daar? “Selfs met ’n goeie poging om in te haal oor die volgende sewe maande, gaan ons met heelwat meer voorraad sit as wat ons sou wou hê. Dis nie noodwendig ’n krisis nie. As verkope gelyk is (aan verlede jaar), gaan die voorraad opgaan na 600 miljoen liter. Dit sal moeilik wees en druk op pryse plaas.

"Daar is egter geen rede om nou wyn teen R1 of R2 per liter minder weg te gee nie. Inteendeel, ons moet baie mooi besin oor volumes en markte. Ek sien reeds simptome waar ons begin om pryse afwaarts aan te pas. Ek reken die vloerprys behoort 30 eurosent per liter te wees. Ons praat van R5,86 by die kelderdeur.”

Sy raad is drieledig: Hou vas aan jou kontantvloei, kry stabiliteit in die ketting en neem ’n langtermynsiening in. “Daar gaan druk op die prys per liter wees, asook baie opportunisme. Wees dus ingelig en kyk na jou keldersituasie. Moenie dat iemand jou ore aansit nie.”

Intussen gee hy die versekering dat Vinpro hard werk om die plaaslike mark weer oop te kry en aksynsverligting te beding om die bedryf te help deurdra. “Dis nou tyd om saam te werk. Ons sal mekaar meer as ooit moet help en na maniere moet kyk om saam sake te doen, al is ons mededingers. As ons bly kommunikeer en mekaar ondersteun, kan ons deur hierdie krisis kom – dalk ’n bietjie kleiner, maar sterker.”