Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê Tru-Cape het veiligheidsmaatreëls getref wat in pas is met die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa op Sondag 15 Maart afgekondig het. Dié maatreëls sluit reisbeperkings en selfisolasie waar nodig in.

“Ons glo dié maatreëls is ’n stap in die regte rigting om ons werknemers se blootstelling te beperk. Ons gebruik ook waar moontlik buigsame werksure. Indien dit nie moontlik is nie, is daar maatreëls om te verseker dat ons persele veilig vir ons werknemers is.”

Hy sê tegnologie word ingespan om die moontlikheid van blootstelling te verminder. “Ons beperk byeenkomste en het al ons konferensies afgelas. Ons persele word ook meer gereeld skoongemaak.”

Pienaar sê streng internasionaal erkende higiëniese praktyke word in die pakhuise gevolg. Werknemers se liggaamstemperatuur word elektronies gemeet voor hulle die pakhuise betree en Tru-Cape se kliniek bied ’n veilige heenkome vir siek werknemers.

Kommunikasie oor Covid-19 aan werknemers het toegeneem. “Alle werknemers word aangemoedig om griepinspuitings te kry om die risiko van besmetting met griep en Covid-19 te verminder.”

Pienaar sê potensiële gevalle van Covid-19 sal hanteer word soos die Wes-Kaapse departement van gesondheid bepaal. “Ons het reeds huise geïdentifiseer waar ons, indien nodig, werknemers onder selfkwarantyn kan plaas as die departement van gesondheid hulle nie kan help nie.”

Hy sê dit is belangrik om die belangrike rol te erken wat vars vrugte en groente in die onderhoud van ’n sterk immuunstelsel en gesonde dieet speel. “As ’n besigheid en ’n samelewing betree ons nou onbekende terrein. Ons is egter vol vertroue dat ons ons verpligtinge sal kan nakom en ons span veilig kan hou.”