Vir ’n minimum belegging van R50 000 kan jy ’n aandeel in die daggabedryf bekom en die kans kry om ’n geskatte jaarlikse opbrengs van minstens 20% op jou belegging te verdien, volgens mnr. Pierre van der Hoven, mede-uitvoerende hoof van Silverleaf Investments.

In ag genome dat die meeste internasionale data-analiste voorspel die Amerikaanse daggabedryf gaan tot 2027 jaarliks met minstens 18% groei, en dat daardie mark reeds$20 miljard sterk is, is ’n groeivooruitsig van 20% vir die Suid-Afrikaanse bedryf, wat slegs ’n paar miljoen rand se daggaprodukte per jaar verhandel, dalk nie té vergesog nie.

“Ons het die fonds begin vanjaar van stapel gestuur en wag nog op beleggings. Soos met enige belegging, is daar gewis risiko verbonde aan beleggings in die daggabedryf, maar die vooruitsigte vir die bedryf wêreldwyd is baie gunstig.

“Ons gaan klem lê op beleggings in die hele waardeketting, hetsy dit primêre produsente, veselverwerkers, olie-onttrekkingsaanlegte, verwerkers vir die ontspannings­gebruik- en medisinale mark, groothandelaars, uitvoerders of kleinhandelaars is.”

Ekonomiese geleenthede

Volgens Van der Hoven is daar baie groeipotensiaal in al die sektore van die plaaslike bedryf, en is dit belangrik dat hierdie gulde geleenthede binne Suid-Afrika benut word. 

“As ons hierdie geleenthede misloop, gaan ons baie potensiële werk­geleenthede, geleenthede om valuta te verdien en ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede misloop. Dit sal tragies wees.” 

Tans bepaal wetgewing egter dat slegs private, persoonlike gebruik van dagga en beperkte produksie toegelaat word. Geen openbare gebruik of verhandeling word toegelaat nie.

Die medisinale gebruik van dagga word in ’n geringe mate toegelaat, maar wetgewing is van só ’n aard dat plaaslik geproduseerde dagga nie vir hierdie doel aangekoop mag word nie. Die produkte vir medisinale gebruik, gering soos wat dit tans is, word ingevoer.

Die verhandeling en gebruik van kanna­bidiol-olie (CDB) is egter wel wettig. Plaaslik is daar egter nog weinig olie-onttrekkings- en verpakkingsaanlegte gelisensieer om dié produkte in Suid-Afrika te vervaardig. Dit word dus ook ingevoer. 

Streng vereistes

Mnr. Ian Grant, ’n entrepreneur met meer as sewe jaar ervaring in die internasionale mediese kannabinoïedbedryf, meen die regulatoriese probleme met alle daggaprodukte is slegs die begin van die penarie waarin plaaslike produsente hulself bevind. 

“Die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) is al geruime tyd besig om met verskeie departemente in gesprek te tree, onder meer landbou en gesondheid. Sahpra skakel ook gereeld met verskeie universiteite, kleinboere en private maatskappye om ’n balans tussen al die kwessies te bewerkstellig.

“Dit is duidelik dat hy baie moeite doen om ’n relevante plaaslike raamwerk te vestig en terselfdertyd aan internasionale beste praktyke probeer voldoen. 

“Met die Verenigde Nasies en die Wêreldgesondheidsorganisasie wat eers in 2020 hul beleid oor dagga bekend gemaak het, en Covid-19 wat verder Sahpra se aandag geverg het, is vordering effens vertraag. Sahpra het egter die doel voor oë om ’n raamwerk te vestig wat die plaaslike medisinale bedryf toegankliker vir plaaslike produsente kan maak, en terselfdertyd pasiënte se beste belange dien en aan internasionale standaarde voldoen. 

“Dit is ’n moeilike taak as in ag geneem word dat hierdie standaarde versoen moet word met die probleme rondom die tradisionele sluikhandelmark en die belange van die tradisionele sangomas,” sê Grant.

Marktoegang ontbreek 

Medisinale dagga kan tans slegs uitgevoer word ingevolge die internasionaal aanvaarde vervaardigingspraktyke (Good Manufacturing Practice) vir medisinale produkte. In breë trekke beteken dit die hele ketting, van saadproduksie tot verkope, moet prak­tyke vir mediesegraad-dagga in geslote, mediese kweekhuise volg. 

Daar is heelparty plaaslike produsente wat leweringsooreenkomste aan die regering voorgehou het om produksielisensies te bekom, maar hierdie ooreenkomste is om twee redes waardeloos.

Die een is die oorproduksie van dagga van goeie gehalte deur die vernaamste multinasionale maatskappye, wat waar­skynlik vir nog ’n jaar of twee sal voortduur. Tweedens voldoen min plaaslike produksieaanlegte aan die streng voorwaardes wat die internasionale medisinale bedryf vereis.

Volgens Grant is daar tans min produsente wat seksie 21 van die wet (die Wet op Medisyne en Verwante Produkte, Wet 101 van 1965) verstaan. 

“Die seksie laat slegs die invoer van geskeduleerde, reeds vervaardigde medisinale produkte toe. Daarbenewens is die handel in enige daggaproduk vir ontspannings­gebruik ook steeds onwettig. Daar is dus tans weinig marktoegang vir plaaslike produsente van dagga, tensy hulle hul tot sluikhandel wend. 

Daar is talle bewyse van plaaslike maatskappye wat die afgelope twee jaar bankrot gegaan het, asook die onttrekking van multinasionale maatskappye aan lande soos Lesotho. 

“Suid-Afrika sal waarskynlik baie baat vind by die wettiging van ontspanningsgebruik en die vestiging van kleinhandelinfrastruktuur, maar die kompetisie van die sluikhandel­infrastruktuur gaan straf wees.

“Die geleentheid vir plaaslike produsente in die afsienbare toekoms is dus die medisinale bedryf. Daardie mark gaan wêreldwyd oorvoorsien wees weens groot uitset deur multinasionale maatskappye.”

Grant se raad aan voornemende beleggers is om seker te maak van die werklike marktoegang en verkoopsooreenkomste van die instelling waar geld belê gaan word.

“Die daggabedryf is sonder twyfel hier om te bly en daar is reuse­geleenthede in die bedryf. Dit is egter belangrik om midde-in die chaos van ’n bedryf wat sy voete probeer vind, die belanghebbendes te identifiseer wat ’n langtermynvisie het en ’n volhoubare besigheid met gesonde sakebesluite wil bou. 

“Die belanghebbendes wat in die medisinale mark belê, sal baie kapitaal en goeie kennis van die internasionale standaarde moet hê. Die medisinale mark gaan nie net oor produksie nie. ’n Voorbeeld hiervan is die Deense maatskappy Spectrum (ook bekend as Canopy Growth) wat hom aan die mark onttrek en sy splinternuwe vervaardigingsaanleg wat aan die hoogste standaarde voldoen, sluit weens ’n gebrek aan vraag, regulatoriese kwessies in die Europese Unie (EU) en verskillende regulasies in die verskillende EU-lande. Hierdie jong bedryf is dus selfs vir die groot multinasionale maatskappy wat genoeg kapitaal het, veeleisend.”

Volgens Van der Hoven het die regering sedert einde 2020 nuwe momentum met die uitgifte van lisensies gekry. 

“Teen einde Februarie is 16 produksielisensies reeds uitgereik en ’n verdere 11 is op pad. Sover dit produksiestandaarde aangaan, is dit waar dat nie alle plaaslike produksie-­eenhede aan veral die EU se aanvaarde vervaardigings­praktyke voldoen nie. Tog word daar tans heelwat daggablomme (die dele wat gebruik word om THC én CBD te onttrek) na Australië uitgevoer. Daar is dus stadig maar seker besig om beweging in die plaaslike bedryf te kom.” 

Vir nog inligting oor internasionale aangeleent­hede in die daggabedryf, besoek die blog op www.bdsa.com en Sahpra se webwerf by www.sahpra.org.za.