Barnard en Claassen is tydens glansgeleenthede in Kaapstad die week as wenners aangewys. Die bestuur van water is vir Barnard uiters belangrik.

“Dit is ’n groot prestasie vir ’n boer om hierdie toekenning te ontvang, maar elke boer sal met my saamstem – ’n mens vermag niks sonder ’n uitstekende span mense rondom jou nie. Ons is geneig om sukses aan bates te koppel, maar sukses is eintlik maar wanneer jy jou roeping kan uitleef. Op die plaas kan ek dit doen en daarvoor is ek ongelooflik dankbaar.”

Hy het by die geleentheid ook sy vrou bedank. Barnard plant tot 300 ha aartappels onder besproeiing aan slegs vir maatskappye wat dit verwerk. “Waterbestuur is uiters belangrik. Ons probleem in Suid-Afrika is nie temperatuur nie, maar relatiewe humiditeit. ’n Hoë relatiewe humiditeit in die land veroorsaak dat ’n plant vir ’n uur of twee per dag langer groei as jou buurman s’n en vir ’n groter opbrengs sorg.”

Barnard bewerkstellig hoër humiditeit deur laer volume besproeiings meer gereeld toe te dien. Hy monitor grondvog met ’n neutronvogmeter en permanente vogmeters wat deurlopend vogvlakke in die landerye meet. Om vir langer water in die landerye te hou, ’n hoër relatiewe humiditeit te verseker en beter indringing te verseker, word klein dammetjies in die landery, langs die aartappelbankie ongeveer 1,5 m uitmekaar uit, met die hand gemaak.

Mnr. George Barnard van Marble Hall in Limpopo
Mnr. George Barnard van Marble Hall in Limpopo is aangewys as die Aartappelboer van die Jaar vir 2019.

Water versamel in hierdie dammetjies en wanneer die plante groter raak en meer water nodig het, groei fyn wortelhare na hierdie dammetjies toe. “Hierdie praktyk stel ons in staat om baie water te bespaar en ook te bespaar op al die insetkoste, soos elektrisiteit, wat gepaardgaan met besproeiing.”

Die klein dammetjies is nie die enigste innoverende idee wat Barnard toepas nie. Hy lê sterk klem op biologiese middels. Hy dien produkte toe wat van sampioene vervaardig word.

Die antibiotikum wat ’n sampioen afskei, bekamp ongewenste swamme en bakterieë in die grond op ’n biologiese manier en dus gebruik hy toenemend minder chemiese produkte in sy boerdery.Barnard plant aartappels slegs vir verwerking en lewer aan Simba, McCain en Willards. Hy produseer oor twee seisoene en volg ’n driejaar-rotasiestelsel.

Die ander drie finaliste in vanjaar se kompetisie was mnre. James Lesley van Harrismith in die Vrystaat, Willie Mouton van Eendekuil in die Wes-Kaap en Fanie Kruger van Rysmierbult in Noordwes.

Hoekstene van sukses

Vir Claassen is noukeurige aandag aan detail en gedissiplineerde beplanning die hoekstene van sy sukses. “Die proses om goeie produkte te produseer hang af van ’n uitnemende span mense. Elke praktyk in die boerdery is ewe belangrik en niks kan afgeskeep word nie.”

Mnr. Louis Claassen van die Louis Claassen Familie
Mnr. Louis Claassen van die Louis Claassen Familie Trust van Sasolburg in die Vrystaat.

Claassen se presisie word goed uitgebeeld deur die bestuur van sy gifvoorraad. Hy het nie ’n gifpakhuis op die plaas nie en het ’n reëling met sy verskaffer, mnr. Werner Ras van Novon Protecta, om die benodigde gif vir die dag se bespuiting soggens te kom aflaai. “Dit beteken dat daar nie twyfel is oor of daar te min of te veel gif iewers toegedien is nie en sodoende skakel ons dus die kans op verrassings en foute uit,” sê Claassen.

Danksy ’n reëling met die Aartappelsertifiseringsdiens wat elke tweede dag tydens oestyd sy plaas besoek, kan Claassen sy moere binne vyf tot sewe dae op sy kliënte se plase hê en het hy die noodsaaklikheid vir ’n koelkamer op sy plaas uitgeskakel. Claassen het in 2014 vir die eerste keer moere geplant en het vanjaar moere op 97 ha vir Simba geproduseer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.