Selfs al is daar drie jaar laas ’n langwerkende onkruiddoder op die bankie toegedien, is dit nie lonend om dekgewasse dáár te probeer vestig nie. Dit is een van die lesse wat me. Angelique Pretorius geleer het uit die statistiese dekgewasproewe waarmee sy in 2019 op Glen Fruin in Grabouw begin het. Hierdie proewe duur voort en die voorlopige resultate het reeds waardevolle inligting opgelewer.

Dit klink logies dat dekgewasse nie aangeplant moet word waar langwerkende onkruiddoder toegedien is nie, maar Pretorius het permanente dekgewasse, soos medics en klawer, op die bankie van ’n driejarige boord probeer vestig waar onkruiddoder met plant laas toegedien is. Drie jaar later het hierdie gif steeds ’n ongunstige uitwerking op die ontkieming en groei van dekgewasse gehad.

“Ons doel met die permanente dekgewasse op die bankies was om organiese materiaal te vestig en onkruid te onderdruk. Dit was glad nie suksesvol nie. Uit ons proewe in die werksrye is dit duidelik dat dekgewasse wel hierdie twee doelwitte kan bereik.”

Bou gesonde grond

Die doel van die navorsingsprojek is om die beste moontlike dekgewaspraktyke te bevestig wat grondgesondheid, organiese inhoud van grond en onkruidonderdrukking in die boord kan bevorder. “Ons weet dat dekgewasse baie voordele inhou, maar daar is min statistiese bewyse van hierdie voordele in vrugteboorde. Hierdie navorsing is om hierdie aannames statisties te beproef en geloofwaardige data in te samel.”

Die voorlopige resultate van hierdie navorsing sal op 27 November in ’n aanlynpaneelbespreking deur produsente en kundiges in die veld bespreek word. Van hierdie kundiges is die herlewingslandbouboere mnre. Hendrik Pohl van ZZ2 se Bokveldskloof-boerdery en Ian Cunningham van Fine Farms in Grabouw. 

Me. Sheila Storey van Nemlab en mnr. Matthew Addison van Hortgro sal ook aan die bespreking deelneem. Barenbrug borg die bespreking en mnr. Ivan Jansen van Rensburg sal ook as spreker optree. 

Om jou plek te bespreek, klik op hierdie skakel: https://www.crowdcast.io/e/webinaar--dekgewasse