Boere lewer hul produkte aan die markte waar die markagente tot 7,5% kommissie vra van die totale waarde van die verkope. Boere moet ook aan die munisipaliteit ’n marktarief van 5% van die omset betaal, wat beteken die tarief is 12,5%. 

Me. Manketsi Thlape, ANC-LP, wou by die departement weet of die boere dan nie dubbel betaal as hulle die markagente én die munisipaliteit moet betaal nie en of boere nie hieroor kla nie. Munisipaliteite besit van die markte.

“Deur jou plaaslike ekonomiese ontwikkeling is munisipaliteite veronderstel om ondersteuning aan boere te bied.”

Mnr. Stanford Manthata, adjunkdirekteur vir landboulogistiek en markinfrastruktuur by die departement, het gesê dat die mark en die agente lewer albei ’n diens en word daarom vergoed. Hulle laai die produkte af, sit dit in ’n koelkamer en verskuif dit na ’n platform waar dit verkoop word. “Die 12,5%-betaling moet daar wees, want dit gaan saam met ’n diens wat gelewer word.”

Die land het 23 nasionale varsproduktemarkte, waarvan die meeste deur munisipaliteite besit word. Die markte het in 2019 altesaam 3,4 miljoen ton se vars vrugte en groente verkoop wat ’n omset van R17 miljard gelewer het.

Manthata het gesê die meeste munisipaliteite is onwillig om die 5%-vergoeding wat hulle van die boere kry, te herbelê. Nog ’n probleem wat ondervind word, is dat munisipaliteite nie markte as ’n kernmandaat sien nie. 

“Alle platforms is reeds benut om die markte te verbeter. Belanghebbendes wil nou met me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in gesprek te tree oor hoe belangrik dit is om die raad vir die nasionale varsproduktemarkte te stig.”

Wetgewing

Die wysigingswet op die Wet op Landbouprodukte-agente (Wet 12 van 1992) dien tans voor die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Die wysigings wil sien dat onder meer die bepalings van die hoofwet van toepassing is op alle agente in die verskillende kategorieë; die duidelikmaking van die aanstel en rol van die registrateur, dat finansiële state van die raad aan die ouditeur-generaal beskikbaar gemaak word vir oudit; om voorsiening te maak vir waarborgversekering; om die voorwaardes vir optrede as ’n agent uit te klaar; sodat uitvoeragente trustrekeninge vir produseerders kan open en versekering te bied vir uitvoeragente en varsprodukteagente. 

Die departement het vroeër gesê dit is noodsaaklik dat uitvoeragente versekering het, omdat hulle groot hoeveelhede produkte vir uitvoer hanteer. Maatreëls moet getref word om die belange van die boer te beskerm, byvoorbeeld as die landbouprodukte op pad na die mark beskadig word.

Mnr. Mooketsi Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal by die departement, het bygevoeg dat hulle kwessies soos korrupte aktiwiteite in die bedryf wil oplos. 

Hierdie kwessies kom na vore in inspeksies, ondersoeke en tugoptrede teen uitvoer- en vee-agente. Die korrupsie het te doen met die verhandeling van produkte, die verkoop van die ontvangde produkte en mense wat nie betaal word nie, asook die agente wat waarborgversekering vir die landbouprodukte gegee word.