Die gemiddelde prys oor alle grade en alle klasse is nie noemenswaardig laer as verlede jaar nie, met ongeveer dieselfde hoeveelheid aartappels wat verlede jaar en vanjaar geproduseer is. Die probleem is dat inflasie produksiekoste vinniger opstoot as wat die riële gemiddelde plaashekinkomste styg. Die bruto wins per kilogram en hektaar verbou raak dus stelselmatig kleiner en boere kom toenemend onder druk. Dieselfde neiging is gedurende die eerste ses maande van die jaar beleef, en sal na verwagting vir die res van die jaar voortduur.

Luidens die maandelikse markverslag van Aartappels Suid-Afrika (ASA) sal sowat 248 miljoen 10 kg-sakkies aartappels vanjaar gelewer word. Dit volg op die 249 miljoen 10 kg-sakkies van 2018. Die huidige gemiddelde prys oor alle grade, alle klasse en alle markte wissel al sedert middel Mei van R30/kg tot R36/kg. Indien die Vrystaat nie in April goeie reën gekry het en Vrystaatse boere nie aartappels kon uithaal nie, sou hierdie lae prys die markte sedert Maart oorheers het. Die prys van minder as R40 per 10 kg-sakkie is vir die meeste boere nie volhoubaar nie, hoewel langtermynneigings dalk goeie nuus kan bring.

Lig in die tonnel

Volgens inligting van ASA daal die volume aartappels op markte in die laaste helfte van die jaar aansienlik wanneer die Oos-Vrystaat, Wes-Vrystaat, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Suidoos-Vrystaat se lewerings afneem. Die prys begin stelselmatig tot die einde van die jaar styg omdat die streke wat dan begin lewer – Limpopo, die Noord-Kaap en Oos-Kaap – nie dieselfde volume produseer as die streke in die eerste helfte van die jaar nie.

Pryse kan egter onder druk bly as die normale neiging nie volg nie en die volumes uit Limpopo en die Sandveld hoër as verwag is, of as die Wes-Vrystaat se produksie langer as verwag aanhou. Die aanbod van aartappels op markte sal dan hoër wees en pryse kan onder dryk bly. Dit sal aanleiding gee tot ’n baie moeilike jaar vir aartappelboere.

Volgens ASA is die hektare wat vanjaar aangeplant is basies dieselfde as verlede jaar en die produksieomstandighede ook. Die organisasie verwag dus hoogstens dieselfde oes as verlede jaar. Tans is totale verkope vir die jaar tot op datum ’n miljoen sakkies agter in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar. Die kanse is skraal dat die volumes op die varsproduktemarkte vir ’n lang tydperk aansienlik hoër as verlede jaar sal wees, wat pryse verder onder druk kan plaas. Indien die weer gunstig is en produsente soos gewoonlik kan oes en bemark, behoort die mark sy normale neiging te volg. Die prys sal dus opwaartse druk ervaar in die laaste ses maande van die jaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.