Dis juis wat Overhex Wines International onlangs reggekry het toe sy reeks Mensawyne met Suid-Afrika se eerste AR-etikette verskyn het. AR staan vir verrykte werklikheid (augmented reality).

As jy die Mensa-selfoontoepassing gratis aflaai en die innoverende etiket met jou slimfoon skandeer, ontpop die etiket as ’n boek waarin die wyn se storie onthul word. “Almal praat van innovasie, maar hoe doen ’n mens dit?” het Gerhard van der Wath by die Mensa-bekendstelling in Kaapstad gevra.

Ná ’n gesprek met iemand van die Australiese Treasury Wine Estate, wie se wynreeks 19 Crimes baanbrekerswerk met AR verrig het, het Gerhard besef dis waar die toekoms van wynbemarking lê.

“Met ’n beperkte begroting het ons dit reggekry om die derde maatskappy ter wêreld, en die eerste in Suid-Afrika, te word wat met hierdie konsep vorendag gekom het,” vertel hy. “Soos Balie Swart altyd gesê het: Elke mens het ’n storie en ons wil mense met hierdie etiket aanmoedig om hul eie stories ten volle uit te leef.”

Die moontlikhede met AR is eindeloos, want benewens die wynstorie, kan resepte, herkoms, video’s en veel meer aan verbruikers oorgedra word. Mensa is ’n reeks mediumpryswyne (Sauvignon Blanc, Chardonnay Pinot Noir en Cabernet Sauvignon) wat verseël word met Amorim se Helix-kurkprop, wat sonder ’n kurktrekker met die hand oopgemaak kan word.

Dis genoem na Gerhard se vrou. Haar geliefde Schnauzer-hondjie, Grietjie, maak ook ’n draai op die slim etiket. Dit kos van R75 tot R85 by die kelder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.