Om met iets uitsonderliks vorendag te kom, het die kelder sewe Kaapse bakens gekies, dit by sewe van hul wyne gepas en die kunstenaar Theo Paul Vorster, bekend om sy kleurryke lino’s en fyn humor, vrye teuels gegee.

Die kelder het pas sy Collector’s Reserve-reeks, met Cabernet Sauvignon, Chardonnay, Chenin Blanc, Pinotage, Merlot, Sauvignon Blanc en Shiraz, bekend gestel. Die bottels spog met afdrukke van die mooiste weergawes van die Kompanjiestuin, Tafelberg-kabelkar, Kasteel, Groenpunt-vuurtoring, Seepunt-promenade, die Bo-Kaap en die mis wat om Tafelberg lê.

Dis juis die Kaapse mis wat help skep aan die koel klimaat wat met die Durbanville-renosterveld en terroir geassosieer word, ’n ideale teelaarde vir hul gebalanseerde Sauvignon Blanc. Die keldermeester, Martin Moore, sê ook die geheim van goeie Pinotage is dat dit die “oseaan moet sien”.

Dié wyn is 14 maande lank verouder, en het ’n volronde smaak met sweempies van kaneel. Die Merlot is uitnemend, en die beste druiwe is danksy satelliettegnologie op twee blokke uitgesoek vir dié fluweelsagte rooiwyn – ’n duidelike gunsteling by die bekendstelling.

Die Merlot pryk met opset met die Groenpunt-vuurtoring op sy ingevoerde Duitse etiket. Die mistige Kaapse weer is belangrik in die ontwikkeling van die wyn se karakter, wat gekenmerk word deur kersiegeure. Dis kuns in ’n glas. Die Sauvignon Blanc, Chardonnay, Merlot en Pinotage is in uitgesoekte winkels beskikbaar, en die res van die kultivars is by die kelder (www.durbanvillehills.co.za) of www.vinoteque.co.za beskikbaar teen vanaf R130.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.