Só sê mnr. Danie Jacobs, Agri Noord-Kaap se voorsitter van omgewingsake. “Dis die grootste sprinkaanuitbreking sedert 1974 waarvan ek bewus is.

In 1974 is die land deur deurdringende reën en gepaardgaande vloede geraak, wat sprinkaanplae tot gevolg gehad het. “Wes van Pofadder, Kenhardt, Brandvlei en Williston waar droogte heers, was daar nie sprinkane nie.

Oos van dié denkbeeldige droogtelyn waar reën geval het, was dit genoeg om sprinkane te laat uitbroei. Dit is daarom dat die oumense gesê het jy moet bid vir geseënde reën, en nie net reën nie.”

Jacobs sê dit is die eerste keer dat die insek drie lewensiklusse in een seisoen vanaf September 2020 kon voltooi.

GUNSTIGE TOESTANDE

“Die Boesmanland se droogte het agt jaar gelede baie ernstig geraak en geen sprinkane het uitgebroei nie.

In September verlede jaar het reën op plekke begin val, wat die omstandighede meer gunstig gemaak het vir dormante eiers om uit te broei. “Die eiers wat in eierpakkies gelê word, kan tot elf jaar oorleef.

Die reën laat die ensieme om die eierpakkies oplos. Hoe meer reën val, hoe meer los die ensieme op en hoe meer eiers broei in dié gunstige toestande uit.

“Die gunstige toestande behels ook temperature van 22-37 °C, en daar moet groen plantegroei wees waaraan hulle kan vreet. “Hulle vreet enigiets, tot ’n driedoringbos word kaal gestroop.”

Wat vir die droogtegeteisterde Boesmanland se boere juis ’n probleem is, is dat enige groen gras wat danksy die reën opgekom het, weggevreet is. “Dit was baie uitmergelend.

Bedags moet ons in die droogte boer en skaap voer, en smiddae, snags en vroegoggend sprinkane bespuit. Humeure het maar by tye opgevlam.”

Die sprinkane leef ongeveer 130 dae. Indien die eerste eiers op 1 Oktober 2020 uitgebroei het, is die voetgangersprinkaan teen November gereed om te begin vlieg en Desember begin hulle eiers lê.

Hulle het waarskynlik in Februarie en April 2021 ook eiers gelê. Dit is drie generasies van- af die dormante eiers wat binne een seisoen hul lewensiklusse voltooi het.

GOEIE BYSTAND

“Met die heersende oostewinde wat gewaai het, kon die sprinkane oor ’n wye gebied versprei het, tot 120 km per dag. Hulle kon in een dag van Pofadder tot in Upington beweeg het.

Teen die einde van die somer het die noordwestewinde begin waai, wat die sprinkane na Kuruman, Hartswater en die Vrystaat, Wes-Kaap en die Oos-Kaap weggevoer het.

“Op dié wyse het enorme swerms gevorm wat ons dees- dae in hektaargrootte meet. Op plekke is swerms van tot 600 ha groot aangetref en bespuit.

Sowat 2,5 liter gif is per hektaar gebruik. “Ek glo ons moeite was tot 80% doeltreffend om die sprinkane te bekamp.

Die Noord-Kaapse departement van landbou het ons baie goed bygestaan deur gif en pompe te verskaf. Ek vermoed die sprinkaanplaag is nie só doeltreffend in Namibië bekamp nie,” sê Jacobs.