Mnr. Jaco Oosthuizen, die uitvoerende hoof van die RSA Groep, het onlangs RSA die ‘Wall Street van varsproduk-verhandeling’ genoem. Mnr. Peter Tuchman, bekend om sy akkurate voorspellings as ’n aandelemakelaar op Wall Street, mis nooit ’n handelsdag op Wall Street nie.

“Daar is nie nog so ’n plek op aarde nie. Jy weet nooit wat gaan gebeur nie.”

Oosthuizen is vasbeslote om juis hierdie onvoorspelbaarheid wat die varsproduktemarkte met Wall Street deel, uit die weg te ruim wanneer RSA sy kliënte se produkte verhandel.

“Die grootste omwenteling vir RSA het gekom toe ons vir onsself gaan duidelik maak het wat ons doen. By gebrek aan ’n beter woord word ons steeds agente genoem, maar ons beweeg eintlik in die veld van ’n professionele verkoopsorganisasie.

“Die tweede aspek was om mooi te verstaan wie ons kliënte in hierdie unieke omgewing is. Dis die boere, maar ons moet dieselfde diens aan ons boere se kopers bied as wat ons aan hulle lewer. Ons lewer dus ’n diens aan die boer én namens hom aan sy koper. Dis ’n unieke situasie.

“Destyds, in 1995, het ons ons laat lei deur ’n klein boekie genaamd The Grand Strategist. Dit het gesê ’n onderneming moet ’n waardestelsel ontwikkel. Toe ons ons waardes begin verstaan en uitleef, het RSA omgedraai. Ons visie en missie is steeds die siel en DNS van RSA.

Inligting is koning

“Die ander bepaler van RSA se sukses is inligting. Ons volgende kwantumsprong is die gebruik van WiFi-tegnologie om data te versamel. Dit sal ons help om verkope vir ons kliënte voort te dryf, maar ons sal ook presies weet wie ons kopers is en wat hulle koop. Ons sal kopersgedrag begin verstaan, wat nuwe denke sal ontwikkel,” verduidelik Jaco.

Dit is hierdie inligting wat van ’n agent ’n goeie aanwins vir ’n boer maak, juis omdat dit ’n doeltreffender omgewing skep waarvandaan produkte verkoop word.

Die kans dat ’n produk vir minder as sy werklike markwaarde op ’n gegewe tydstip verkoop word, is dus skraal. In hierdie opsig moet boere besin oor watter prys hulle beding met kopers wat produkte regstreeks van die plaas af koop.

“Die kopers betaal nie kommissie nie,” verduidelik Jaco. “Soms gebruik hulle dit om mense te verwar, soos wanneer hulle aanbied om ’n boer dieselfde prys te betaal as wat hy op die plaas verdien, maar sonder die kommissie van 12,5%  ? (5% vir die mark en sowat 7,5% vir die agentskap). Die prys wat jy by die plaashek kry, is egter nie jou prys nie. Die prys is die een wat (deur die wisselwerking tussen vraag en aanbod) bepaal word. Dis R48, nie R48 minus 12,5% nie. As jy dus die markprys aan die boer wil betaal, betaal hom R48, maar gaan haal die produkte op die plaas. Die enigste afslag wat die boer dan eintlik kan gee, is vir die vervoer.”

Só bly pryse betroubaar

Hierdie aspek sluit aan by die bekommernis van boere oor die invloed wat handelaars buite die markvloer op die bepaling van pryse kan hê.

“Ek glo nie in die situasie van ’n mark buite die mark nie. As die mark ’n meganisme is om pryse te bepaal, hoekom wil jy ’n situasie skep waar die prys ’n tweede keer beding word? Die stadsvaders in Johannesburg het destyds gesê hulle wil inwonende groothandelaars op die mark hê vir wie hulle min huur sou vra, maar die reël was dat hulle op die markvloer moet koop en deel moet wees van die vraag.

"Dit geld steeds, maar het al ’n bietjie verwater. Waar markte toegelaat het dat die proses in sy geheel verwater, het die mark in die moeilikheid beland omdat die prysbepalingsmeganisme onder druk gekom het. RSA se mening is dat ons die voete op die boere se markvloer wil hê en dat almal moet deelneem aan prysbepaling.”

Oosthuizen is nie gekant teen direkte bemarking van die plaas af nie, inteendeel, RSA staan produsente by deur direkte kontrakte met kettingwinkels, soos Woolworths, Pick n Pay, Spar en Shoprite, te bestuur en administreer. Hy maan boere egter om hul bemarkingskanale te balanseer om sodoende die beste pryse te behaal.

“Niks klop gehalte en kontinuïteit nie en ’n handelsmerk en goeie verpakking help ook. Stuur van jou uitvoergehalte, eerste- en tweedegraadprodukte mark toe, want die mark gee jou ’n prysaanduiding. Dan eers sal jy ’n beter idee hê van wat jy by die kettingwinkel moet verdien.”

Die RSA groep mik daarna om vanjaar een miljoen ton produkte te verhandel nadat hulle verlede jaar 865 000 ton produkte van boere van reg oor Suid-Afrika, landwyd verkoop het. Volgens die mark se jaarverslag is in 2016-’17 1,31 miljoen ton produkte op die ganse Johannesburgse Varsproduktemark verhandel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.