Die bloubessiebedryf herinner my baie aan die volstruisbedryf van die vroeë 1980’s. Al- mal wou betrokke raak, maar gebrekkige inligting het baie boere hul vingers – en bankbalanse – lelik laat verbrand. Die bloubessiebedryf is tans een van die mees geslote landboubedrywe in die land wat betref die navorsing en tegniese advies oor vestiging, verbouing, verpakking en bemarking wat beskikbaar is.

Kennis is mag, maar die bestaande groot ondernemings wat die plaaslike bessiebedryf oorheers, dra geensins hul kennis aan boere van buite oor nie. Dié praktiese oorsig behoort boere egter ’n beter aanduiding te gee van waarvoor hulle hul inlaat.

Kultivars

Daar is hoofsaaklik vier tipes bloubessies: die noordelike hoëbos (Northern Highbush), suidelike hoëbos (Southern Highbush), Rabbit Eye en immergroenkultivars (Evergreen). Die noordelike hoëbos het gewoonlik ’n hoë kouebehoefte (600-1 000 uur) en word in die middel- tot laatseisoen (November tot Januarie) geoes. Dit word tradisioneel nie in Suid-Afrika geplant nie, maar bepaalde koue klimate het wel potensiaal daarvoor.

Plaaslik is nog min Rabbit Eye-kultivars geplant, maar daar is groot potensiaal vir dié soort bessies, veral in ’n koeler klimaat soos die Hoëveld, die Vrystaat en sekere dele van die Wes- en Oos-Kaap. Die bessies blom laat (September tot Oktober) en oestyd is ook later (Januarie tot April). Dit vereis mediumkoue (400-600 uur) en is bekend vir goeie opbrengste (25-30 ton/ha). Dis veral geskik vir gebiede waar ryp voorkom, omdat blomtyd eers ná die koue aanbreek. Blomme kan ook met gemak temperature van -3 °C weerstaan.

Die suidelike hoëboskultivars, wat ’n medium- tot lae (200-450 uur) kouebehoefte het, en die immergroentipe, wat feitlik geen koue (0-200 uur) nodig het nie, is die gewildste soorte wat tans plaaslik aangeplant word. Die suidelike hoëboskultivars aard in gebiede met ’n gematigde klimaat. Die immergroenes sal in feitlik enige matige, warm klimaatstreek aanpas.

Dié kultivars word tradisioneel van Augustus tot Oktober ryp in die noorde van die land, en ’n maand later in die Kaap. Die grootste risiko vir oesverliese is ryp tydens vrugvorming en rypwording. Kouebehoeftes word gemeet in die geakkumuleerde ure onder 7,2 °C.

Vestiging: Grond of substraat?

Bloubessies kan op twee maniere gevestig word: In die grond óf in ’n houer met substraat. Om ’n keuse te maak, moet twee belangrike faktore eers in ag geneem word – grondtipe en watergehalte. Die grond moet goed gedreineer, sanderig (minder as 15% klei/slik) en sonder beperkende ondergrondse lae wees. Dit moet ’n lae pH-waarde (4,5-6 KCl-basis) hê.

Die grondchemiese aspekte is net so belangrik, en daarvoor is ’n gedetailleerde grondontleding nodig wat regstellings sal uitwys. Die algemeenste struikelblokke is gewoonlik ’n swak kalsium-tot-magnesium-verhouding, wat dui op hoë magnesiumsoutvlakke (brak) en ’n gebrek aan kalsium. Hoë vlakke van natrium dui ook op ’n gedestabiliseerde grondstruktuur en verbrakking. As die grond enigsins nie aan hierdie vereistes voldoen nie, moet houers oorweeg word.

Watergehalte is ononderhandelbaar. Bessies vereis water met ’n lae geleidingsvermoë (’n EC van verkieslik 0,7 mS/cm of minder). Dit moet minder as 120 dele per miljoen (d/m) karbonate (kalk) bevat en laag wees in natrium en chloriede (natrium moet minder as 50 d/m en chloried laer as 70 d/m wees). Die pH-waarde moet 7 of minder wees. Dit is belangrik om die water te laat ontleed. Laat ’n bemestingkundige met kennis oor bessies dan aanbevelings doen.

In die grond sal die bessieplante gewoonlik op ’n grondwal (1,5 m wyd by die basis, 0,75 m wyd bo-op en 40 cm hoog) geplant word. Gekomposteerde dennebas en/of veen word in die grondwal ingewerk. Dennebas word aanbeveel teen 450 m³ per hektaar en veen teen 250 m3. Die doel van die bas of veen is om die grond se pH te verlaag of stabiliseer, die grond se buffervermoë te verhoog en die organiesemateriaalinhoud te verbeter. Dit verbeter wortelontwikkeling, bevorder bogrondse groei en lei tot vinniger produksie.

Veen word verkies, aangesien sommige bessiekultivars wat vir ’n grondgedraagde swam, Botryosphaeria spp., vatbaar is, geneig is om besmet te word wanneer dennebas toegedien word (veral as dit ongekomposteerd is en op grond met ’n te hoë klei-inhoud toegedien word).

Laastens word die grondwal met ’n geweefde polietileen-onkruidmat bedek. Dit voorkom dat onkruid opkom en groei, en reguleer grondtemperature. Bessieplante is baie vatbaar vir onkruiddoders, en geen middels is vir bessieplante geregistreer nie.

Mnr. Pieter Zietsman
Sweet Duchess is ’n bessie met ’n lae kouebehoefte wat volg op Early Duchess wat betref rypwording. Dit het besonderse eetgehalte. (Blaai om vir foto’s van nog kultivars.)
Plastiektonnels het die voordeel dat dit ’n kweekhuiseffek skep waarbinne plante vinniger groei en vroeër in drag kom.
Blue Duchess is ’n midseisoenbessie en ’n plaasvervanger vir Star, met beter grootte.
Sky Blue is ’n midseisoen-Rabbit Eye-kultivar met besonderse eetgehalte.
Velutto Blue is ’n laat produserende Rabbit Eye-kultivar met produksie van tot 30 ton/ha.

Houers wetenskap op sigself

Om bessies in houers te vestig is as sodanig ’n wetenskap. Die belangrikste aspekte is die houer se dreineringsvermoë en die substraat se samestelling. ’n Plastiekpot met ’n volume van 25 liter, verskeie dreineringsgate in die bodem en kepe teen die kante word aanbeveel. Met substraatbesproeiing word altyd voorsiening vir dreinering gemaak.

Ons pas 25% oorbesproeiing met elke siklus toe om te voorkom dat kunsmissoute opbou. Dreinering is dus noodsaaklik.

Die pot moet verkieslik vierkantig wees en stewig op pote weg van die grond af staan, sodat die plantwortels nie deur die bodem tot in die grond kan groei nie. Die groeimedium mag nie met besmette grond- of oppervlakwater in kontak kom nie.

Spilo (www.boostpot.co.za) se potte bied die beste ontwerp. Benewens doeltreffende dreinering, maak dit ook voorsiening om die drupperpyp bo-op die pot te plaas. Dit voorkom dat die water tydens warm somerdae in die druplyn verwarm. Verder beperk dit ook skade aan die druppers as werkers tydens oestyd dalk daarop trap, wat tot lekkasies kan lei.

Die samestelling van die plantmedium of substraat wat in potte gebruik word, moet bestaan uit ’n derde elk veen (blocked peat), perliet en kokosneutklapperhaar (cocopeat). Gebruik slegs betroubare substraatverskaffers. Daar is baie mengsels wat ’n paar jaar goed werk, maar later afbreek en ’n waterversadige pappery agterlaat, wat lei tot swak dreinering en wortelvrot.

Vermy goedkoop kitsaanbevelings, soos om plante in plastieksakke met dennebas te plant. Die substraat kom hoofsaaklik van Nederland, en gevestigde maatskappye soos BVB, Legro en Klasmann voorsien die meeste van die grondstowwe.

Nette of plastiek?

Produsente (en konsultante) word altyd gevra of bessie-aanplantings met skadunet of plastiek bedek moet word, en of ’n tonnel (hoepelstruktuur) of platdakstruktuur (pale en net) gebruik moet word? Albei strukture en bedekkings bied voordele. Koste is natuurlik ook ’n oorweging.

Die voordele van ’n platdak- of saagtandstruktuur is dat die plante en vrugte teen hael, stormwinde, voëlskade en skadelike direkte sonstrale beskerm word. Voorts kan daar gemaklik met trekkers en masjinerie onder die struktuur beweeg word. Heuningbye, wat noodsaaklik is vir bestuiwing, werk ook beter onder nette as plastiek.

Die aanbeveling is om die nette 4,2 m hoog te span en 20%-skadunet te gebruik. Die ligblou nette is die gewildste onder bessieboere. Nette word onder meer deur Plusnet, Allnet en Knittex vervaardig. Tonnels bied die opsie om skadunet en/of plastiek as bedekking te gebruik. Die meeste tonnelboere verkies egter plastiek. Plastiektonnels het die voordeel dat dit ’n warm omgewing (kweekhuiseffek) skep waarbinne plante vinniger groei en vroeër in drag kom.

In die Wes- en Oos-Kaap se koeler klimaat kan produksie met tot drie weke vervroeg word. Die produksie per plant kan in die eerste twee jaar selfs verdubbel as onder plastiek geplant word. Nog ’n voordeel is dat reën tydens oestyd van die plante weggehou word. Dit voorkom swamsiektes soos botritis. Plukkers kan ook op reëndae oes, omdat die plante en vrugte nie nat word nie.

Die volgende vraag is watter tonnelstrukture en plastiek om te gebruik. Daar is heelwat opsies, maar strukture met afmetings van 8,5 m wyd, 4,75 m hoog, ’n beenhoogte van 1,8 m en ’n tonnellengte van 50-60 m is die gewildste. As van dié spesifikasies afgewyk en ’n laer tonnelhoogte gebruik word, moet die lengte van die tonnel verkort word om lugvloei te verseker en te voorkom dat hitte opbou.

Dakgeventileerde plastiekhuise is ’n baie goeie, maar duur opsie. Dit veroorsaak ’n vorteks deur lug wat by die dakopening instroom en lugstroming en verkoeling in die tonnel verseker sonder om ruimte in te boet. Verskillende tipes plastiek is beskikbaar, onder meer plastiek met ’n verhoogde binnedringing van ultravioletstrale, ’n anti-dou-effek (non-drip), ’n verkoelende effek (anti-thermal), anti-virusplastiek, fotoselektiewe en gelamineerde plastiekraffianette.

Dis belangrik om ’n kundige te raadpleeg oor die plastiek, afmetings en spesifikasies van die tonnelstruktuur en die oriëntasie van die tonnel ten opsigte van die heersende windrigting, veral in die somer. Gaan klop aan by maatskappye soos Vegtech, Haygrove en Greenhouse Technologies en Armando Alvarez van Spanje.

Early Duchess het ’n lae kouebehoefte, word vroeg ryp en aard in warm klimaatstreke.
Miss Jackie is ’n midseisoenkultivar vir koeler gebiede, wat ná Star ryp word.
Sweet Duchess het ’n lae kouebehoefte, met ferm vrugte van ’n goeie eetgehalte.
Vierkantige plastiekpotte van 25 liter word aanbeveel vir substraat­aanplantings. Hierdie tipe pot het uitstekende dreineringseienskappe.
Die pompkamer is die hart van die stelsel en die uitleg hiervan is uiters belangrik. Dit moet deur ’n deskundige beplan word.
’n Vierjarige Rabbit Eye-aanplanting in die grond, met ’n platdakskadu­netstruktuur vir beskerming teen wind, hael en voëls.

Beproeiing en bemesting

Die sleutel tot die sukses van bessieproduksie lê by besproeiing en bemesting. Dit moet goed beplan en uitgevoer word. Die ontwerp van die stelsel en besproeiingskedulering sal daarvan afhang of in die grond of in potte geplant word. Volwasse bessieplante benodig sowat 7 500 m³ water per hektaar per jaar. Dit wissel na gelang van die seisoen, klimaat (temperatuur, verdamping, bestraling), die vruglading, die volume loof en die plant se ouderdom.

Die besproeiingstelsel moet só ontwerp word dat dit in die plant se spitswaterbehoeftes kan voorsien – dus vir ’n volgroeide plant op dae met temperature bo 35 °C. Besproeiing vir plante in potte moet voorsiening maak vir dreinering van gemiddeld 25%. Daar word dus altyd 25% meer besproei om seker te maak soute bou nie op in die medium nie. Die skedule sal ook afhang van die mediumtipe, watergehalte en of met verrykte water besproei word.

'n Tipiese stelsel vir potte sal bestaan uit ’n drupperlyn met een drupper per plant en lewering van 4 liter per uur. Die drupper verdeel dan in vier uit- late van 1 liter per uur elk. Hierdie uitlate voer die water na die plant deur vier spaghettibuise met boogdruppers. Die stelsel moet ook tót tien besproeiings van 10 minute elk per dag kan gee in ’n siklus van agt uur.

Plante in die grond word anders besproei. Twee laterale pype word per ry bessies gebruik. Die lyne het drukgekompenseerde druppers met ’n lewering van 1 liter per uur per drupper, wat 30 cm wyd in die drupperlyn gespasieer is. Die pype word, terwyl die wortelstelsel nog klein is, nou gespasieer (10 cm wyd). Ná ses maande word dit na ’n 40 cm-wydte uitgeskuif. Dié stelsel moet ook 6 liter water per plant per dag tydens piekwaterbehoefte vir minstens vier siklusse per dag kan lewer. Die stelsel moet baie vinnig op druk kan kom en druppers moenie lek waar teen ’n helling geplant is nie.

Die drupperlyne word onder die onkruidmat gelê. Gebruik dus die beste filter moontlik om die water te suiwer. In baie warm klimaatsones is oorhoofse mikrosproeiers ook nodig wat die plante met gereelde tussenposes vir kort periodes kan afkoel wanneer die kwik bo 35 °C styg.

Bemesting is die volgende aspek wat wyd beredeneer word en waar boere steeds kleitrap. Die algemene neiging is om plante in potte met verrykte water te besproei. Elke keer as daar besproei word, is dit dus met ’n vorm van opgelosde kunsmis in die water. In die grond is die neiging om bepaalde dae van die week te bemes en die ander dae skoon water te gee. Daar is wel boere met baie sanderige grond wat bykans elke dag met verrykte water besproei.

Die stelsel in die pompkamer wat die skedulering en toediening van kunsmis tot die water beheer, is uiters belangrik en moet deur ’n kundige ontwerp word. Netafim en Agriplas is die leiers op hierdie gebied.

Die basiese riglyn is twee stelle van A-, B- en C-tenks (5 000 liter elk), asook ’n ad hoc-tenk (2 500 liter). In die A- en B-tenks word verskillende kunsmisstowwe gemeng, en in die C-tenk ’n vorm van suur om die beproeiingswater se pH te verlaag. In die ad hoc-tenk word spesiale doepas, soos wortelstimulante, gehou.

Die tenks word gekoppel aan ’n outomatiseringstelsel wat die toediening van die inhoud reguleer sodat die verrykte water die korrekte konsentrasie van kunsmisstowwe bevat en die water se pH en EC korrek is. Die basiese riglyn is dat die verrykte water ’n EC van 1,2 mS/cm met ’n pH van 5,5 moet hê.

Elke aanplanting se voedingsprogram gaan verskil ten opsigte van die watergehalte, die plant se fisiologiese stadium, die vruglading en die ouderdom. Gebruik ’n kenner met ondervinding van bessievoeding om die program saam te stel en te monitor.

Planttyd en koste

Die beste planttyd is gewoonlik in die winter of lente. Plante moet ten minste 25 cm lank wees en ’n vertakte stelsel lote hê. Die wortelvolume moet ten minste 300-400 ml wees. Hou die plante klam tydens vervoer en aanplanting en maak ook onmiddellik na dit geplant is, nat. Na gelang van watter net- of tonnelstruktuur gebruik gaan word, die plantdigtheid en die beskikbare toerusting en infrastruktuur, kan vestigingskoste vanaf sowat R850 000 per hektaar vir ’n paal-en-net-stelsel tot R4 miljoen per hektaar vir ’n plastiekhuis wees.

Gaan die bedryf hou?

Een van die eerste vrae wat voornemende bessieprodusente gewoonlik vra, is hoe lank die bedryf nog winsgewend gaan wees. Dié vraag word maklik beantwoord deur die statistieke en volumes wat maandeliks in Europa verkoop word. Gaan loer gerus na https://www.internationalblueberry.org/live-stats/ om ’n idee te kry van hoeveel Suid-Afrika tans lewer. Dis nog ’n druppel aan die emmer en plaaslike aanplantings sal tot sowat 8 000 ha moet groei om enigsins ’n impak op die Europese mark te maak.

Hortgro, die vrugteprodusentevereniging, werk ook hard om bessie-uitvoer na China te bewerkstellig. As dit ’n werklikheid word, wag daar groot uitvoergeleenthede. Die plaaslike bessieprodusentevereniging (www.saberries.co.za) doen ook baie moeite om die binnelandse bedryf te bevorder en voornemende produsente te adviseer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.