Mnr. Rossouw Cillié, een van dié produsente wat nou die hele jaar werk vir hul personeel kan voorsien, het bedrywighede by Laastedrif Agri, op die Matroosberg in die Bo Swaarmoed-gebied by Ceres, uitgebrei om ’n reeks waardetoegevoegde produkte in te sluit. Dit stel hom nie net in staat om meer werk vir sy personeel te voorsien nie, maar ook voedselvermorsing te verminder – iets wat hom na aan die hart lê.

“Ons gebruik alles,” sê hy. “Elke wortel, beet of soetpatat wat op ons plase groei, sal uiteindelik iemand voed. Daar is so te sê geen vermorsing nie.”

Hy sê vrugte en groente wat te klein of te groot is, of miskien effens misvorm is, word onder meer opgesny of gerasper om in sopmengsels gebruik te word. Sodoende verseker hulle dat hul groente en vrugte gevind kan word op die rakke van die meeste Suid-Afrikaanse supermarkte.

Behalwe vir Cillié se hoësorg-aanleg waar vars produkte gewas, gesny en verpak word, het hy vier jaar gelede besluit om werksaamhede op die plaas verder uit te brei. Sy vrou, Anelia, wou gehad het hulle moet ’n peuselhappie vervaardig wat mense sal aanmoedig om meer groente te eet. Die nodige toerusting is aangekoop om groenteskyfies te maak.

Rossouw en Anelia Cillié. Foto: Verskaf
Rossouw en Anelia Cillié. Foto: Verskaf

Ross, Laastedrif se soetpatatskyfie, is nie net ’n gesonder peuselhappie nie, maar is ook daaraan toegewy om die bedreigde rivierkonyn (Bunolagus monticularis) op hul plaas naby Touwsrivier te help bewaar. Anelia sê geld van Ross se verkope word gebruik om die rivierkonyn te beskerm.

Dié konyn kom veral in die Karoo voor en is een van die mees bedreigde spesies in Suid-Afrika.

Bewaring is baie belangrik vir die Cillié-familie en hulle tree as beskermhere op vir belangrike diversiteitsgebiede. Hulle beskerm die Verlorenvlei-vleiland langs die Weskus. Dit is een van die min varswaterkusmere in Suid-Afrika.

Die uiters seldsame Aspalathus compacta-plantspesies kan ook op Laastedrif gevind word.