Sy het nie meer trane nie, en kan nie meer huil oor dit wat sy sien nie, vertel me. Denise Stubbs, hoofbestuurder van Thokozani Wines and Tourism op Wellington.

Soggens, nadat sy haar kind by die skool afgelaai het en sy deur die Diemersfontein-landgoed se hekke ry, staan daar hordes mense wat hoop om vir die dag te kom help druiwe pluk.

“Al wat ek hoor is: ‘Asseblief, Mevrou, asseblief . . .’ Gewoonlik neem ons so 60 mense per dag in om tydelik te help, maar ons moes dit verlaag tot 30 of selfs minder. Dan moet ek vir hulle sê: ‘Jammer, jammer, ons kan nie. Julle moet teruggaan huis toe.’ ”

Want die wrede werklikheid is dat hulle sedert pres. Cyril Ramaphosa verlede Maart die eerste grendeltydperk en alkoholverbod ingestel het, voorraad van sowat 90 000 liter Shiraz en van hul bekende koffie-Pinotage opgebou het (hul totale produksie is sowat 200 000 liter per jaar).

Van hul belangrikste kontrakte met supermarkgroepe is in ernstige gedrang. Boonop het hul gastehuisonderneming se besoekers oornag opgedroog, die restaurant het verlede jaar gesluit en die deli en proelokaal staan leeg. Troues vind nie meer plaas nie.

“Kyk, daar is ons yskaste. Dit is dolleeg, want ons moes alles uitgooi. Ek het nog nooit gesien dat ’n besigheid só vinnig agteruitgaan nie. Die dag toe die landsgrense sluit, was ons nog hoopvol, want daar is mos darem plaaslike toeriste ook. Nou kry ek hoendervleis. Dit was vir my . . . shocking.

“Waar ons voorheen ’n inkomste gekry het, daar voortdurend voete deur die deure was en die wyn geloop het, was dit asof iemand ’n lyn trek. Dood. Weg. Oornag. Vader weet, dit is ons saving grace dat ons nie die bank geld skuld vir ons kothuise nie.”

Personeel moes oorleef op 60-70% van hul salaris en in die gasvryheidsafdeling moes hulle werknemers aflê. “Ek gaan eerlik wees met jou, ons het hulle laat terugkom, want die mense ly honger. Nou krap ons maar vir hulle iets uit om te doen, want hulle is gewillig. Maar dan kom die departement van arbeid wragtig hier aan en vra hoeveel ons minimum loon is! En dít in hierdie tye!” sê sy ontstoke.

Ons gesels op ’n Maandagoggend, net ure voor Ramaphosa se aankondiging dat die jongste alkoholverbod weer ten dele opgehef word. Die gerugte loop sterk oor ’n moontlike verligting, en terwyl ons praat, spreek Stubbs kort-kort die hoop uit dat hulle wel toegelaat sal word om in Suid-Afrika handel te dryf. Die plaaslike mark maak immers 90% van hul wynbesigheid uit.

“Ek mag nie vloek nie, maar ons is in k*kstraat. Ek het vanmiddag ’n Skype-vergadering met oorsese ouens. Die mense verkrag ons op die oomblik. ‘We want your product, but give it to me at $1,’ is al wat ek hoor. En ons is desperaat. Dit gaan nie meer oor wins of gelykspeel nie, dit gaan net oor oorlewing. ’n Bietjie kontantvloei.

“Maar oor twee jaar, wanneer dinge hopelik reggekom het, wil ons weer teruggaan na minstens $4-5 per liter, wat die wyn werd is. Dan gaan hulle sê hulle stel nie belang nie. Ons is diep, diep in die knyp . . .

“Sedert die begin van die Covid-19-tyd het ek probeer om ’n bietjie hier en ’n bietjie daar te kry net sodat ek salarisse kan betaal. Ons is nou reeds só ver agter, maar selfs ’n bietjie inkomste sal ’n groot verskil maak. Ek sou nooit kon dink dat alles wat ons só mooi opgebou het, binne sekondes onder ons uitgeruk sou word nie. Vrou, ons is letterlik op ons knieë.”

Was dit nie vir Diemersfontein se eienaars, mnr. David en me. Susan Sonnenberg, wat hul hande in hul persoonlike sak gesteek het om hulle te help salarisse betaal nie, weet Stubbs wraggieswaar nie.

“Ons het probeer finansiering kry en met verskeie banke gesit, ook dié wat groot geadverteer het as jy transformeer, gaan hulle jou help by die Land Bank of met beter rentekoerse. Maar die banke wil deesdae nie aan die wynbedryf vat nie. Wynmakers kan nie eens meer huislenings kry nie, want hulle hou ’n risiko vir die banke in. Alles waaraan jy tans in hierdie bedryf raak, is besig om te verkrummel en kraak,” sê sy moedeloos.

Stubbs, die dogter van plaaswerkers van Pniel, sê sy is grootgemaak om te glo wyn is ’n maatskaplike euwel. Maar sedert sy haarself hart en siel in die wynbedryf gegooi het, weet sy van beter. Daarom meen sy wyn moenie oor dieselfde kam as hardehout en ander alkoholiese brousels geskeer word nie. Sy meen egter die politici het dieselfde beeld van die bedryf as die een waarmee sy grootgeword het. Daarom verstaan hulle glad nie die rimpeleffek van hul “onverantwoordelike besluite” nie.

Vanjaar neem Thokozani net die helfte van sy gewone getal seisoenswerkers in diens. Daar is nie geld om meer mense aan te stel nie, en daagliks moet voornemende werksoekers by die hekke weggewys word. FOTO: DENISE STUBBS

POLITICI VERSTAAN NIE

“Ek het tydens die verbod vele geleenthede gekry om ons saak te stel – selfs aan die nasionale regering – maar om die een of ander rede dink ek nie ons goewerment verstaan die prosesse in die wynbedryf nie. Hy verstaan nie waarom jy nie die proses kan aan- en afskakel soos jy wil nie. Die goewerment moet hom van die bedryf se werkinge vergewis, sodat hy die kettingreaksie verstaan as hy dit net afsny.”

Dit pla haar baie dat daar nooit enige konsultasie met of voorafwaarskuwing aan die bedryf is as die regering beoog om ’n alkoholverbod in te stel nie.

“Die dag nadat Ramaphosa die jongste verbod ingestel het, was ons veronderstel om R300 000 se wyn aan Woolworths te lewer. As ons betyds gewaarsku is, kon ons gesorg het dat die wyn betyds op sy perseel kom sodat hy ons daarvoor kon betaal.”

Dit is ook nie asof die wynbedryf nié probeer het om met opbouende oplossings vorendag te kom nie.

“Die wynbedryf was in die moeilikheid voor Covid-19. Daar was droogte en ander probleme, maar ons het nog altyd ons deel bygedra aan die ekonomiese kant. Van die begin af het die wynbedryf gesê hy wil help. Daar was voorstelle oor hoe om aksynsbelasting aan te wend, honderdduisend maskers te koop, handreiniger te maak . . . Ons help waar ons kan, maar die staat het vir ons ’n baie bad name gegee.”

Net onwettige handel wen

Terwyl die wynbedryf gedwing word om handjies gevou te sit, floreer die onwettige drankhandel.

“Die staat het nie beheer oor mense wat in alkoholverwante motorongelukke betrokke is nie. Die curfew-storie is dieselfde, want die ouens gaan tog êrens plek kry om te drink. Hoekom praat niemand oor die mense wat alkoholvergiftiging kry weens die brousels wat hulle drink nie? Die mense op die plaas maak vir ons video’s van wat in hul agterplase aangaan. Die mense lê met skuim wat uit hul mond kom soos hulle siek raak van die bier wat hulle maak. Op Facebook kry jy oral posts wat sê: ‘Wine for sale!’ Dit is oop en bloot, en die staat doen niks daaraan nie. Die illicit trade maak geld soos bossies.”

Meer as een keer sê Stubbs sy is nie ’n “politieke viva-mens” nie, maar sy kan nie help om te wonder wat werklik aan die gang is nie. Vir eers wil sy nie meer uitbrei hieroor nie, en sy wil liewer die politiek met rus laat, maar sy hoop sowaar nie dit gaan politieke redes wees wat keer dat sy “môre ’n stukkie brood op my tafel kan sit” nie.

“Hier is ons soos familie,” sê me. Denise Stubbs (naaslinks) oor Thokozani se werknemers en aandeelhouers. Hoewel parstyd gewoonlik in groot opgewondenheid gehul is, is daar vanjaar ’n sluier van onsekerheid oor die plaas. By Stubbs staan, van links, mee. Tholine Liebenberg, Surene Jaftha en Fransiena Basjan. FOTO: DENISE STUBBS

‘HET NIE ANTWOORDE’

Die gesprek keer terug na die kelder waar die tenke vol wyn lê, terwyl die nuwe oes buite ingesamel word. Hoe gaan hulle maak? “Jy vra my vir ’n antwoord, maar ek het nie een nie. Jy probeer bulk-wyn bottel en aan klante die kans gee om self die etiket op te sit, of jy probeer dit in ’n groot sak sit en uitvoer. Jy moet dit net wegkry.

"Ons berg nou ook wyn by Wellington Wyne, natuurlik teen ’n koste. Ek het vanoggend die druiwe gaan kyk. Die sap wat daar uitkom, is van die beste, maar waarheen? Ons het ’n groot pakhuis waar ons wyn kan opberg, maar ons kort ’n spesiale lisensie. Al hierdie wette . . . Kan die staat ons nie net daarmee help nie?

"Die regering moet ons vra waar hy betrokke kan raak by die bedryf en ons kan help met die ooraanbod. As jy boonop dink daar is eenvoudige maniere hoe ons die situasie kon voorkom het . . . Hoekom sal jy ’n bedryf wat soveel geld inbring vir die land, só laat cripple?”

Terwyl baie wynplase regstappe gedoen het teen die staat, het Thokozani nie by dié aksie aangesluit nie en eerder teruggestaan en gehoop dinge sal regkom. Vinpro het intussen aangedui hy gaan die Wes-Kaapse hooggeregshof versoek dat die mag in provinsiale owerhede se hande geplaas word om van die nasionale drankverbod af te wyk wanneer die situasie dit toelaat. Hul versoek geld aanvanklik vir die Wes-Kaap en ander provinsies sal volg. Die bedryf wag tans vir ’n hofdatum.

Ons gesels vlugtig oor die regsaksie, maar Stubbs wil liewer nie meer uitbrei daaroor nie. Sy stuur eerder die gesprek weer in die rigting van haar kollegas en mede-aandeelhouers.

“Ons is 75 mense wat hier werk en ons is familie hier, man. Ek ken elkeen se situasie. Hul hart en sweet en liefde is in hierdie besigheid in. Ons het die verantwoordelikheid om ons werkers optimisties te hou, maar ek maak myself amper siek, want ek kan my nie afsny van wat hier aangaan nie. Die nie-weet vreet my op. As ek vir jou een woord kan sê, is dit die Engelse woord: Dit is devastating.

“Ons moet probeer om momentum te behou, maar finansieel kan ons nie meer nie. Ons finansiële bestuurder is so straightforward soos ’n bullet wat jou raakskiet. Hy het gesê hierdie maand . . . Ek het nooit gedink ons sal op dié punt kom nie. Dit is parstyd, en die gees is daar. Maar dit is ’n gees met ’n front, want daar hang ’n swaard oor ons kop.”

Die leë restaurant en deli op die Diemersfontein-landgoed. “Niemand het nog ooit só ’n foto geneem nie. Gewoonlik sit hier baie mense,” sê me. Denise Stubbs. FOTO: LUCILLE BOTHA

THOKOZANI SE GROEIPAD

Thokozani het in 2002 ontstaan toe 35 werkers van die Diemersfontein-landgoed elkeen aandele in die maatskappy ontvang het. Deur maandeliks ’n persentasie (2%) van hul salaris op te offer, kon hulle meer aandele bekom. Die werkersforum besit tans 80% van Thokozani en die res behoort aan Diemersfontein Wines. Thokozani het tans 65 aandeelhouers.

Diemersfontein is destyds deur mnr. David en me. Susan Sonnenberg begin. Hul besluit was nie gegrond op die staat se behoeftes aan transformasie nie. Hulle het ’n opregte bedoeling gehad om mense se lewens, die gemeenskap en Suid-Afrika se toekoms ten goede te verander.

Thokozani het ook grond by Sonnenberg gekoop teen 20% laer as die markwaarde. Dit is betaal deur banklenings, personeelbydraes en beleggers se hulp.

Me. Denise Stubbs het in 2002 aangesluit en haar pad opgewerk deur sweetkapitaal te belê. Vandag is sy die meerderheidsaandeelhouer in Thokozani. Haar mede-aandeelhouers het destyds in die wingerd begin, maar werk vandag in senior posisies.

VIR HULLE WAS DIT TE LAAT

Linton Park Wines op Wellington was een van die eerste slagoffers vir wie die Covid-19-pandemie die laaste spyker in die doodskis was. Dié kelder, proelokaal en restaurant moes onlangs sy deure toemaak, en sowat 70% van die administrasie- en bestuurspersoneel is afgelê.

“Ons kan nie alle blaam op Covid-19 en die regering pak nie, want dit het lank sleg gegaan met die wynbedryf,” sê me. Erika Nortier, finansiële bestuurder.

Volgens haar gaan druiweverbouing steeds voort op die plaas, maar die druiwe sal voortaan aan Wellington Wyne gelewer word. “Dit is ’n bittersoet gevoel om te weet ons pars ons druiwe, maar ons gaan nie self een liter wyn daarvan maak nie. Dit het egter nie meer finansiële sin gemaak om self wyn te maak nie.”

Sy sê hulle het sowat 80% van hul wyn in die buiteland verkoop, maar aangesien kopers besef in watter benarde situasie die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, word hulle in baie gevalle gedwing om lae pryse te aanvaar.

Intussen gaan hulle hul laaste uitvoerkontrakte met bestaande voorraad eerbiedig, waarna hulle selektiewe kopers vir die res van die wyn sal vind.

Daarna sal die kelder moontlik verhuur word, indien die logistieke en bedryfsreëlings uitwerk.

Daar is tans ’n groot geskarrel vir kelderspasie in die bedryf. Die wynbedryf het die oesjaar ingegaan met sowat 640 miljoen liter wyn in voorraad, waarvan sowat 300 miljoen liter ongekontrakteer was.

“Ek glo en hoop in my hart dat ons wel eendag weer ons eie wyn op die plaas sal maak, sodra die situasie beter lyk,” sê Nortier.

Die plaas behoort aan Camellia PLC, ’n internasionale sakegroep wat op die Londense aandelebeurs genoteer is.

NAVRAE: Me. Denise Stubbs, e-pos: denisestubbs@thokozani.co.za, 021 864 5050; web: thokozani.co.za