Die nasionale drankhandelaarsvereniging het weer ’n dringende beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die verbod op alkoholverkope in die plaaslike mark te lig. Dis nou altesaam 18 weke wat die bedryf nie toegelaat word om plaaslik alkohol te verkoop sedert die aanvanklike grendeltyd in Maart verlede jaar aangekondig is nie.

“ ’n Versoek om met die president te vergader is ons eerste prioriteit,” het mnr. Lucky Ntimane van die vereniging vanoggend gesê.

“Die volgehoue verbod op alkoholverkope dryf drankhandelaars al nader aan armoede en die taverne-bedryf kan inplof as handel nie binne sewe dae hervat kan word nie.”

Onwettige styg skerp

Mnr. Kurt Moore, hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (SALBA), onwettige drankhandel of georganiseerde misdaad maak sowat 15% van die drankbedryf se markaandeel uit.

“Dis in die hande van sindikate wat net verder verskans word deur die Covid-19-inperking.”

Volgens Salba weeg die onbedoelde gevolge van die verbod, spesifiek die vinnige pas waarteen onwettige alkoholproduksie- en verspreiding geskied, swaarder as die doeltreffendheid van die verbod.

Mnr. Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, skep die verbod ’n ‘pandemie van armoede’

“Daar is ’n enorme verlies aan belasting, insluitend BTW en aksynsbelasting, sowel as ’n verlies aan die werkgeleenthede wat wettige alkoholprodusente en handelaars skep.”

Die regering sal na raming sowat R6,4 miljard per jaar verloor weens die skerp toename in onwettige drankhandel.

‘Gelykbreekweek’

Volgens Ntimane het Ramaphosa tot dusver min tot geen belangstelling getoon in die benarde toestand van die drankbedryf nie.

“Hy hou vol dat hy lewens probeer red, maar die regering het misluk met die mees basiese ding om lewens te red, en dit is om entstof in die hande te kry. As die president moeite gedoen het om met die bedryf te konsulteer, sou ons aan hom gesê het dis moontlik om lewens en lewensmiddele te red sonder om die bedryf tot by ’n ekonomiese afgrond te verdoem.”

Ntimane beskou die volgende sewe dae as die ‘gelykbreekperiode’ voor ’n groot deel van ’n kwartmiljoen werkgeleenthede wat tans op die spel is, tot niet gaan.