Die vrugtebedryf gebruik die onsekerheid wat die droogte gebring het, om nuwe geleenthede te ontgin. Die droogte, wat produksieverliese van sowat 25% in die sagtevrugtebedryf teweeggebring het, het volkome bewustheid van die belangrikheid van oordeelkundige watergebruik en -besparing tot gevolg gehad.

Prof. Wiehann Steyn, assistent-hoofbestuurder van Hortgro Science, sê alle produksiestreke, buiten die Klein-Karoo, is vanjaar beter af as verlede jaar wat die beskikbaarheid van besproeiingswater betref. Ten spyte daarvan is talle boere besig om nuwe, verbeterde praktyke en tegnologie aan te gryp.

Hortgro het al voor die droogte besef dat meer kennis nodig is om die regte besluite tydens ’n droogtekrisis te neem. Hortgro is besig met navorsing oor die uitwerking van droogte op sagtevrugte in die groeityd en ná oestyd. “Ons wil sien wat die uitwerking van droogte op die huidige oes en die daaropvolgende oes is. Ons wil ook sien wat die uitwerking van droogtetoestande ná oestyd op bottyd en die daaropvolgende oes is. Ons het baie lesse geleer in die drie jaar van droogte tot die 2017-’18-seisoen, maar die droogte en bestuuraanpassings was so uiteenlopend dat dit moeilik is om spesifieke neigings sonder navorsing vas te stel,” sê Steyn.

Drupbesproeiing

In die Koue-Bokkeveld plaas boere al sedert 2003 se droogte deklae op boombankies om verdamping teen te werk. Ná die afgelope droogte het dit ’n meer algemene praktyk in die bedryf geword. Volgens Steyn het groter bewustheid die bedryf in ’n nuwe rigting gestuur. “Daar is hernude belangstelling in drupbesproeiing. Toe die bedryf dit meer as tien jaar gelede beproef het, was die meeste boere skepties of die drup ’n oeslading van 100 ton/ha doeltreffend, met optimale besproeiing, volhoubaar sou kon groot kry. Die stelsels het nou verbeter en die bedryf het meer kundigheid. Daarom word opnuut daarna gekyk.”

Hortgro doen ook navorsing oor moontlike waterbesparing met nette, hetsy dit vaste nette of seisoenale, oorgetrekte nette is. “Internasionale literatuur toon dat waterbesparing van 15% tot 20% met nette moontlik is. Ons wil kyk watter praktyke in welke klimaatsomstandighede die beste resultate so kostedoeltreffend moontlik kan lewer. Ons doen ook navorsing om verskillende onderstamme se prestasie in droogtetoestande te toets,” sê Steyn. 

Die droogte se uitwerking op lang termyn is volgens Steyn nie so groot by kernvrugte soos wat verwag is nie. Hy sê dit is moeilik om ’n enkele faktor uit te sonder wat die oeslading kan beïnvloed. “Ons weet dat die klimaat (te hoë of te lae temperature in gevoelige stadiums) ’n groot rol speel met vrugset, opbrengs en gehalte, maar in dieselfde asem het die verwagting dat die ongewone hittegolwe in Oktober vrugset sou benadeel, nie heeltemal by kernvrugte gerealiseer nie. Dit is dus belangrik dat ons geloofwaardige, bruikbare inligting oor hierdie aspekte bekom.

“Ons het reeds ons waterbehoeftenavorsing afgehandel. Daarmee kon ons bewys dat vir ’n boord Golden Delicious met ’n oeslading van 100 ton/ha is ongeveer 9 000 m3/ha tot 10 000 m3/ha water steeds die norm.”

Steyn sê hierdie tipe maatstawwe skep ’n goeie grondslag vanwaar tegnologiese vooruitgang en verbeterde praktyke gemeet kan word. In fase twee van die navorsing sal hierdie maatstawwe gebruik kan word om aspekte soos boordvloer-bestuur en die gebruik van dekgewasse, nette, tweedimensionele boomstrukture en drupbesproeiing te toets.