Dit is een van die vernaamste bevindings van ’n interdissiplinêre navorsingstudie wat onlangs in die vaktydskrif Sustainability verskyn het. Die studie is gedoen in die na-oestegnologie-navorsingslaboratorium van die departement hortologie en die departement veekundige wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ons navorsing toon dat die gebruik van neweprodukte van sitrus en wyn wat ryk aan bioaktiewe organismes is, ’n doeltreffende, goedkoop, maklik beskikbare en omgewingsvriendelike platform vir die produksie van natuurlike en volhoubare voedselpreserveermiddels kan bied,” sê dr. Cletos Mapiye van die departement veekundige wetenskappe, een van die navorsers.

SAMESTELLINGS ONTLEED

Mapiye en sy medenavorsers het die fitochemiese (biologies aktiewe verbindings) samestelling en die antioksidante en antimikrobiese eienskappe van druiwe-afval, druiwepitte en mandarynskille en -pulp wat in Suid-Afrika verbou is, ontleed. Hulle het monsters van die vrugteneweprodukte versamel, dit gewas, in die oond drooggemaak en toe tot fyn poeier gemaal voordat hulle die fitochemikalieë vir ontleding onttrek het. Hulle het bevind dat druiwe-ekstrak die grootste hoeveelhede saamgeperste tanniene bevat, terwyl mandarynskil-ekstrakte die grootste hoeveelheid askorbiensuur (vitamien C) gehad het.

“Druiwepit-ekstrakte het oor die algemeen die meeste antioksidante van ál die ekstrakte wat getoets is, getoon. Antimikrobiese aktiwiteite het die meeste in ekstrakte van mandarynskil en -pulp voorgekom, gevolg deur die ekstrakte van druiwepitte en druiwepulp. “Ekstrakte verkry uit druiwepitte en mandarynskil en -pulp kan individueel of gekombineerd as uitstekende antioksidante en antimikrobiese bronne vir die moontlike gebruik in voedsel oorweeg word.”

GOEIE ALTERNATIEF

Mapiye sê druiwe-afval, druiwepitte en mandarynskil en -pulp kan ’n lewensvatbare alternatief bied vir sintetiese preserveermiddels wat algemeen gebruik word om die prosesse wat voedselbederf veroorsaak, te vertraag. Dit kan dus die gehalte, veiligheid en rakleeftyd van voedsel help verbeter. “Danksy hul antimikrobiese eienskappe kan mandarynskil en -pulp ’n geskikte alternatief vir sulfate bied. Sodoende kan dit die allergierisiko wat die gebruik van sintetiese preserveermiddels inhou, verminder.”

Mapiye voeg by dat verbruikers se kommer oor gesondheid daartoe gelei het dat mense skrikkerig is vir voedsel wat sintetiese preserveermiddels bevat en dit eerder vermy. Hy sê die gebruik van vrugteneweprodukte as natuurlike preserveermiddels vir voedsel het die potensiaal om nuwe waardekettings vir die vrugteproduksiebedryf te ontsluit. Dit kan ’n groot bydrae tot volhoubare voedselstelsels lewer, veral in die lig van die hoeveelheid kos wat jaarliks vermors word. 

Die volledige artikel kan hier afgelaai word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.