Hoewel dit naby dieselfde prys is as verlede jaar, meen mnr. Louis de Rocha, mede-eienaar van die De Rocha Broers-boerdery op Delmas, dat ’n moeilike winter op die boere wag.

“Die mooi weer wat ons tot nou ervaar het, het ’n effense volume-bottelnek op die markte veroorsaak. Die somer- en winterkultivars is nou saam op die mark, teenoor die verwagting dat die somerkultivars teen die tyd reeds klaar sou wees. Dit het die prys onder druk geplaas. 

“Hoewel ons verwag dat produksie en dus volume binne die volgende twee tot drie weke sal daal vanweë die winterkoue, blyk die ekonomie nie sterk genoeg te wees om pryse aansienlik hoër te dryf as wat dit tans is nie.”

De Rocha meen die tydelike prysverhogings vir blomkool vanweë die natuurlike, -wisselvallige lewering aan die mark, het die afgelope 12 tot 18 maande met tot 50% afgeneem. “Die tydelike pryshoogtepunte gebeur wel, maar dan styg die prys slegs tot R15 per pakkie. Voor 2020 het hierdie hoogtepunte R25 en selfs R30 ’n pakkie bereik. 

“Sedert 2020 het ons nog nie weer hierdie hoë pryse gesien nie. Tensy die weer drastiese skade bring en beskikbare volume dus baie laag daal, sien ek nie dat ons oor die volgende maand sommer meer as R15 per pakkie sal verdien nie. Daar is tans net te veel weerstand teen hierdie hoë pryse.”