Materiaalingenieurs aan die Rice-universiteit in Houston, Texas, het daaruit ’n proteïengebaseerde vloeistof ontwikkel om vrugte en groente in te doop.

Dit kan ook aangespuit word om ’n mikrondun beskermende lagie om vars produkte te verseker. Aarbeie, avokado’s en piesangs wat in die vloeistof gedoop is, het heelwat langer vars gebly as vrugte wat nie behandeling ontvang het nie.

Luidens ’n verklaring deur die Rice-universiteit het dit goed vergelyk met die beskermende uitwerking wat ander standaardbedekkings, soos was, bied. Die afwasbare lagie bied antimikrobiese beskerming. Dit is grootliks ondeurdringbaar deur waterdamp om dehidrasie te beperk. Omdat dit ook ondeurdringbaar vir gasse is, keer dit voortydige rypwording.

Eiers is die basis van ’n proteïengebaseerde mikrondun beskermingslagie vir vars produkte wat tans ontwikkel word.

Die vloeistof is heeltemal natuurlik. Dit bestaan uit omtrent 70% eiers. Daarby word nanoskaal-sellulose wat uit hout verkry is, gevoeg, asook ’n bietjie gliserol om dit elasties te maak. Die sellulose help onder meer dat die produkte nie uitdroog nie.

Inligting oor die Amerikaanse span se ontwikkelingswerk is in die vaktydskrif Advanced Materials gepubliseer. Hulle het eiers gebruik wat afgekeur is en nie na winkels versend is nie. Dit is deel van ’n poging om ’n plan te maak met kosoorskotte.

In Amerika word daar jaarliks 7 miljard eiers geproduseer. Daarvan word minstens 3% (of sowat 200 miljoen) verwerp en waarskynlik weggegooi.

Vir ’n video oor die navorsing, volg die skakel https://bit.ly/3flfTfm