“Konvensionele boerdery het boring geraak. Jy volg jaar ná jaar net ’n reseppie. Hoe hou jy dit interessant? Waar is die stimulasie?” Mnr. Jasper Raats, wat lank in Nieu-Seeland geboer en wyngemaak het voor hy na die Kaapse wyngebied teruggekeer het, vou sy hande saam.

“Ons het opgehou dink oor wat ons doen, oor hoe ons boer en hoe ons beter vorentoe kan gaan. Met biologiese maniere van boer – wat organiese of biodinamiese boerdery eintlik maar is – is jy baie meer in voeling met wat in jou grond en jou plante aangaan.” Juis in Nieu-Seeland het hy besef sy bio- logiese en organiese kollegas – bekende plase, soos Milton, Seresin en Felton Road – se grond is lewenskragtigter en hul wyne lewendiger.

Later, op besoek aan Europa, het hy dieselfde neiging op biodinamiese wynplase, soos die eksklusiewe Domaine de la Romanée-Conti, in Frankryk gesien. Dit het hom oortuig om ook sy boerderybenadering te verander. “Ek was besig om ’n skaapplaas in ’n wingerdplaas om te skakel. Ons grond was dus eintlik baie mooi, maar verder af in die pad, by die ouens wat al langer met wingerd geboer het, kon ek sien die grond het begin doodgaan.

‘Netjies boer’ was hoog op almal se agenda. Jissou, jy kon sulke reg- uit strepe sien waar hulle onkruiddoder gespuit het.” Dit was nie ’n maklike taak nie, maar hy het die Franse eienaars oortuig om ’n organiese roete in te slaan. Later het Jasper as konsultant opgetree wat grondoudits op plase doen en dan aanbevelings maak vir ’n organiese produksieplan. Terug in Suid-Afrika het hy ook as konsultant by Longridge betrokke geraak.

Kort voor lank was hy ’n aandeelhouer en het sy vennote ingestem dat die plaas en kelder volgens biodinamiese beginsels bestuur word – mits die somme klop. “Biodinamika is die oudste vorm van organiese boerdery. Dis eintlik kennis wat ons gehad het, maar verloor het. Ek het al met die ouer mense daaroor gepraat. Hulle het geweet daar is sekere tye, soos wanneer die maan aanwas, wanneer dit beter is om jou boontjies en ertjies te plant, want dis groente wat na bo groei. Met ’n afgaande maan plant jy weer wortels en beet, wat afwaarts groei.

“Daar is ’n wanindruk dat ons tydens volmaan kaalgat in die wingerd ronddans en sulke goed. Die maklikste manier om biodinamika te verduidelik is, om na die see te verwys. Almal weet daar is hooggety, laaggety, dooiegety, springgety . . . Mense aanvaar dit is vanweë die kragte van die maan en die water wat op mekaar inwerk. Nou, die mens en plante bestaan omtrent uit 80% water. Hoekom sal die maan dan nie dieselfde uitwerking op ons hê nie?

“Hoe diep jy in die mistieke sy van biodinamika wil inbeweeg, is jou keuse, maar op ’n praktiese vlak gee biodinamika jou ’n groter gereedskapstel (as byvoorbeeld organiese boerdery) om jou grond en plante gesonder te kry,” sê Jasper. Hy vertel van mnr. Claude Bourguignon, ’n Franse landboukundige ingenieur, wat die mikro-organismes in konvensionele, organiese en biodinamiese grond bestudeer het. Die organiese grond het baie meer mikro-organismes as die konvensionele grond gehad, maar die sprong tussen organiese en biodinamiese grond was net so merkbaar. “Daar is dus empiriese maniere om die goed te toets. Dis nie net wollerige braaivleisstories nie.”

BOER VIR DIE TOEKOMS

Wat biodinamika van organiese boerdery onderskei, is dat die plaas as’t ware tot ’n selfonderhoudende, holistiese organisme moet ontwikkel waar verskillende goed verskillende rolle speel. So min as moontlik elemente mag van elders (as die plaas) verkry word. “As jy suksesvol wil wees, moet jy egter baie goed beplan.”

Longridge se oorskakeling het in 2011 begin met wingerde wat toe van ses jaar tot dertig jaar oud was. Voorheen is konvensio- neel op die plaas geboer. “Ons het eerstens grondmonsters geneem sodat ons kon sien wat in die grond aangaan. Die grond is ons brandstoftenk en die wingerd die voertuig wat aangedryf moet word. Ons moet weet of die tenk vol of leeg is. Ons probeer nie net die individuele aspekte in die grond regkry nie, maar kyk ook dat die verhoudings (byvoorbeeld die kalsium-magnesium-balans) reg is,” sê Jasper.

Hulle sal tipies gips inwerk, veral waar die grond kleierig is, om te help met waterhouvermoë. In die spesifieke deel van Stellenbosch (teen die hange van die Helderberg) is die grond ook geneig om suur te wees. Daarom werk hulle ’n bietjie kalk by hul kompos in (veral as druiwedoppe of dekriet in die kompos gebruik word). Die voorkoms van boor en molibdeen word ook ondersoek, want dié spoorelemente speel ’n belangrike rol in produksie.

Jasper maan ’n mens kan nie net een keer in vyf jaar regstellings doen nie. Hulle doen elke herfs grondontledings en reageer dan daarop. “Ons toets ook die blare se suikerinhoud om te sien wat bo die grond aangaan.” Die blokke se organiese inhoud (in Mei gemeet) wissel van 0,86% (die blok met die minste organiese inhoud) tot 1,94%.

Die tweede stap was om die gebruik van plaag- en onkruiddoders te staak. “Onkruiddoders is een van die grootste sondaars wat jou grond vernietig. Ons grond was so wit soos sement. Daar het niks gegroei nie. Selfs toe ons opgehou spuit het, het daar aanvanklik niks gegroei nie. Stadig maar seker het die onkruide egter opgekom.

“Jy leer vinnig om anders oor onkruid te dink. Ons sien dit nie as boos of ’n vyand wat met mag en mening uitgeroei moet word nie. Dis soos die Here se eie saad wat hy hier saai. Waar jou grond die heel slegste, ‘doodste’ is, kom die onkruide op wat ons altyd as die ‘ergste’ beskou het omdat ons altyd so gesukkel het om dit dood te kry. Dis goed wat ’n diep penwortel het, soos duiwelsvoet en kiesieblaar (mallow). Namate die onkruide begin groei het, kon ons sien watter dele beter en swakker grond het.

“Aanvanklik kom die geharde, houtagtige onkruide op – plante wat ’n taamlik sterk wortelstelsel het en wat diep penetreer. Dis great! Hoekom? Dit breek die grond, maak paadjies vir vog en lug en dit het wortels. En sonder wortels is daar nie mikrobes nie.”

Mettertyd verminder die hardebaard-onkruid. Namate die grondgehalte verbeter, tree breëblaargewasse en later fyner grasse en klawer in. Hulle het voorheen “meer gewenste” gewasse gesaai, maar besef hulle vernietig net mikro-organismes elke keer as die bogrond oopgemaak word. “Ons het dit toe gelos sodat wat ook al hier wil groei, kan.”

Een van die eerste goed wat mnr. Jasper Raats gedoen het toe hy die Longridge-wynlandgoed na ’n biodinamiese plaas omgeskakel het, was om die gebruik van onkruiddoders te staak. Dit dwing ’n mens om anders te dink oor onkruid. Een van die voordele is dat hul wortels in die grond as ’n voedingsbron vir mikrobes dien.

‘BOER MET DIERE’

Mikrobes, kom jy gou agter, maak Jasper sommer baie opgewonde. Jy kan byna sê dit is die spil waarom die plaas draai. “Ons boer eintlik met diere – miljoene klein diertjies. Mikrobes voed op die neweprodukte van die wortels. In grond waar alles heeltyd doodgespuit word, is daar niks waarop hulle kan oorleef nie. Dit lei daartoe dat die grond doodgaan en water dit nie kan binnedring nie, maar net afloop. By ons is die grond soos ’n spons. Dit suig alle vog in. Ons het byna geen afloopwater of erosie nie, want die plante bind die grond vas.”

Mikrobes is ook belangrik om organiese materiaal (soos kompos) af te breek. Ook wat plaagbestryding betref, is mikro-organismes nuttige bondgenote. “Daar is opwindende en interessante ontwikkelinge aan die natuurlikeboerdery-kant. Mense soos prof. Strauss Ferreira werk hard om die swam Trichoderma te isoleer wat as natuurlike vyande van sekere swamme optree. Dis net nog ’n voorbeeld van die ekstra gereedskap wat biodinamika jou gee.”

Goeie lugbeweging in die wingerd help ook om die wingerde gesond te hou. In digte, benoude wingerde neem die humiditeit toe, wat gunstig is vir swamontwikkeling. Suierpraktyke is dus noodsaaklik om siektedruk te verlig, maar boonop help die sonlig op die lote met vrugbaarheid.

NGUNI-KOMPOSMASJIEN

Mikrobes is nie die enigste “diere” waarmee Jasper boer nie. Hy het ook ’n Ngunikudde (sowat 30 diere) begin en troppe hoenders, ganse en eende aangeskaf. Soms is daar ook ’n paar skape op die plaas. “Nguni’s is gehard en kan organies – sonder medisyne en allerhande goed – oorleef. Hulle is ook klein van raam. In die winter, wanneer hulle in die wingerde wei, vind daar dus minder verdigting plaas.

“Nog ’n voordeel is dat die beeste selfs tydens die droogte nie kondisie verloor nie. Ons werk taamlik intensief met hulle en kamp hulle in stroke af om te wei. Ons volg maatreëls oor hoe kort hulle die plantegroei kan bewei.” Die Nguni’s is Longridge se komposmasjiene.

“’n Bees se spysverteringstelsel is ingewikkeld met al die verskillende mae wat elkeen verskillende soorte bakterieë en gisse bevat. Elkeen het ’n rol te speel,” sê Jasper.

Die beeste word saans op kraal gehou en alle komposteerbare materiaal, soos grasse, druiwedoppe of –stingels, word in die kraal gegooi. Die beeste vertrap, meng en vreet dit en produseer mis.

“As jy gesonde beesmis het, is dit ’n ongelooflike hulpmiddel om kompos te maak of te help aktiveer. Dit is mis wat vry is van antibiotika en groeihormone en van beeste kom wat nie net mielies vreet en derhalwe diarree ontwikkel nie,” sê Jasper. Die geslote sirkel, wat so belangrik is in biodinamika, kom weer ter sprake.

“As jou grond se mineraalinhoud reg is, sien jy dit in jou grasse en plante en dus ook in die beeste se dieet. Dit kom weer deur in jou beeste se mis, wat beteken jy sit beter kompos uit, wat weer jou grond bevoordeel . . .”

Die kraalmis word bymekaargeskraap en daar word dekriet of houtkerfsels bo-op gepak. Saam met die biodinamiese preparaat voeg hy soms ook ’n probiotika by. Die kompos word sowat ’n jaar met rus gelaat voor dit hoofsaaklik in die lente uitgestrooi word. Blokke wat ekstra oemf nodig het, kry ook in die herfs kompos.

Omdat daar nie altyd genoeg kompos is nie, word dit aangevul met ’n organiese, verkorrelde hoendermisgebaseerde produk. Die ganse en eende help natuurlik met plaagbeheer en die hoenders is ook nuttig om onkruid te help komposteer. Die plaas het uitgebreide groentetuine wat onder meer die restaurant van vars produkte voorsien. In die groentebeddings word onkruid wel uitgetrek.

Aanvanklik het hulle dit by die kompos ingewerk, maar dan het dit bloot weer opgekom. Hulle het dit ’n rukkie lank verbrand, maar toe lees Jasper van Amerikaanse boere wat dit aan hul hoenders voer. “Nadat die onkruid deur ’n hoender se spysverteringskanaal is, het jy lieflike, stikstofryke mis. Nou gaan ál die onkruid, tesame met enige kosafval uit die restaurant, na die hoenders. Hul eiers – en dieselfde met die eende – kom weer restaurant toe.”

Die Nguni-beeste met hul ingewikkelde spysverteringstelsel speel ’n sleutelrol in die komposmaakproses op die plaas. Daar is ook hoenders en eende wat “hand bysit”.

DIE REGTE TOERUSTING

As deel van Jasper se beplanning het hulle uit die staanspoor in die regte toerusting belê om hulle te help. Sy Arabierperd, Marsala, van wie se rug af hy graag die wingerde beskou, het die vierwielmotorfiets se plek ingeneem, maar verder speel tegnologie ’n groot rol in dié boerdery.

“Dis belangrik dat jou reaksietyd goed is, veral in die begin as jou plante se immuunstelsel nog swak is.” Hulle het ’n Puricare-osoonmasjien geïnstalleer wat volgens Jasper “naboots wat in elk geval in die atmosfeer gebeur”.

Hy vergelyk die osoongelaaide besproeiingswater met reënwater (veral tydens ’n donderbui) wat plante “blougroen laat uitslaan”. “Dis gelaai met suurstof en aktiveer ook dit wat in die grond is. Dis ’n wonderlike metode om te help om grond weer lewend te kry.”

’n Skoffelmasjien en ’n spuitkar wat oor verskeie rye spuit, is ook aangeskaf – juis om vinnig en doeltreffend deur die plaas te kom. “Ons het trekkers wat ons nie meer vertrou het nie, vervang. Jy wil nie onklaar toerusting in die middel van die seisoen hê nie. “Ons het ook ’n masjien, soortgelyk aan ’n bossieslaner, gekoop, maar dit het verskillende lemme en kan dus help om jou snoeisels te kerf. Aan die kante het dit rollers wat op die bankie loop om die plantegroei daar kort te sny.”

Jasper vertel daar was ’n “kakiebos-woud” voor die kelder. Voorheen het hulle sommer van die kakiebos of kooigoed gepluk om die biodinamiese preparate uit te spat. Toe dit begin min raak, het hulle kwasse ingespan. “Ons het nou self ’n masjien gebou wat ons help om die biodinamiese preparate toe te dien. Dis baie eenvoudig en werk basies soos ’n motor se ruitveër.”

Die skoffelwerktuig, wat plaaslik vervaardig is van ingevoerde onderdele, het twee lemme wat onkruidwortels ’n paar sentimeter onder die grond afsny. Veral nou in die droogte rek dit die beskikbare water, sonder om die voordele van die groen kompos en wortels te verloor.

PLANTKALENDER EN PREPARATE

Hoewel die kalender ’n belangrike rol speel in enige biodinamiese boerdery, sê Jasper dit is nie altyd vir hulle prakties moontlik om alles volgens dié riglyne uit te voer nie. “Jy kan nie álles op die vrugtedae pars nie. Ons begin met ons hoëpryswyne se druiwe op die gunstige dae en die res kom later, soos die prysvlakke afneem.” Hulle maak self preparate, soos CPP (cow pat pit) en bamboestee.

Die Biodinamiese Vereniging van Suid-Afrika se kantoor is egter nie ver van die plaas af nie, daarom koop hulle BD500 en BD501, twee preparate wat hulle dikwels gebruik, daar aan. CPP bestaan basies uit beesmis, basalt en fyngemaakte eierdoppe.

“Dit gaan deur twee 28 dae-siklusse. Dan het jy ’n wonderlike stimuleerder waarvan jy ’n tee kan maak om op wingerd, groente of grond te spuit. Jy kan ook bietjies daarvan uitstrooi. Ons gebruik dit deurlopend. Dis byna soos ’n vitamienpil wat lewe in die grond stimuleer.”

Van tyd tot tyd gaan maak hulle bamboes en seegras op die nabygeleë strande bymekaar – veral ná ’n storm wanneer die strand besaai lê daarvan.

“Bamboes is ’n wonderlike ding vanweë die minerale-samestelling. In Nieu-Seeland het die ouens byvoorbeeld agtergekom as jy bamboestee in die lente op plante gebruik, is jou kans vir rypskade minder, want bamboes vries nie.”

Mnr. Huey van Rensburg, plaasbestuurder op Longridge, by die CPP-preparaat wat hulle op Longridge maak. Volgens mnr. Jasper Raats kan dit met ’n vitamienpil vir die wingerd vergelyk word. Foto: LONGRIDGE

KELDERPRAKTYKE

Biodinamiese wynmakers stroop die pro- sesse bykans tot op die been. “Daar is organiese giste vir organiese wynmakers beskikbaar, maar ons haal alle eksterne goed uit die proses, buiten swael (wat ons ook eers baie later in die proses gebruik). Alles is natuurlike gisting en geen ensieme of breimiddels word bygevoeg nie. Filtrasie vind ook nie plaas nie. Ons behoefte aan bentoniet is ook baie laer omdat ons gismoer gebruik om die wyn vars te hou.”

Hierdie aanslag laat ’n mens weer opnuut dink oor die begrip “terroir”. “Wat my betref, as jy wil praat van terroir, kan jy nie ’n klomp eksterne goed in jou grond gaan sit nie. Jy moenie ’n klomp chemiese middels gebruik nie en jy moenie ’n klomp breimiddels en dié soort goed in jou kelder gaan bysit nie,” sê Jasper.

Die fases van die maan word ook tydens die kelderpraktyke in gedagte gehou. Hulle battonage (die proses waartydens die moer met die wyn gemeng word) byvoorbeeld tydens volmaan wanneer die suspensie hoër is. “Ek het altyd een vat met ’n glasbodem en agterkant sodat ek kan sien wat gebeur.” Jasper sê gistingsdinamika is ook belangrik.

“Witwyn word nie in vlekvrye staal gegis nie. Ons gebruik betoneiers wat dieselfde effek as ’n vat gee, maar sonder die houtinvloed. Ons gebruik ook klei-amfore.” Dit verskaf ’n sekere evolusie aan hul wyn, meen Jasper. “Jy keer nie die ontwikkeling van jou wyn nie. Die Franse noem dit élevage. As ons die hel uit ’n wyn swael, dit filter en daar en dan sommer bentoniet byvoeg, word ontwikkeling eintlik belemmer.

Wat bly oor? Watter karakter het dit? En dan kan ons nie verstaan waarom so baie wyne dieselfde smaak nie, veral as almal nog dieselfde kommersiële giste gebruik.

“Ons wyne is spesiaal, want niemand anders in die wêreld gaan ’n wyn hê soos ons s’n nie. Dis heeltemal uniek – van die grond af tot in die bottel. Niemand kan dit naboots nie. Die lewende organisme (wat die plaas is), gaan in die bottel bly en daar lewe.” Boonop kan veganiste die wyn drink (nie eens eierwit word in die bereiding gebruik nie) en mense meen ook hulle kry nie asma, hoofpyn of jeukerige oë van dié wyn nie.

“Ek spot altyd en sê ons wyn is so gesond, jy kan dit deur jou siekefonds bestel!” Jasper sê sy plaaswerkers werk nou ook lekkerder. “Hulle hou daarvan dat hulle nie meer deur gif omring word nie.”

‘As ons die hel uit ’n wyn swael, dit filter en daar en dan sommer bentoniet byvoeg, word ontwikkeling eintlik belemmer.’

LBW vra . . .MNR. JASPER RAATS

WATTER ORGANIESE OF BIODINAMIESE BOERE BEWONDER JY?

Die vrugte-en-druiweboer Fritz Breytenbach van Robertson (wat natuurlike boerderybeginsels aanhang) is ’n ongelooflike inspirasie. Hy sê hy het in die afgelope tien jaar van sy lewe meer geleer van boerdery as in die vorige vyftig jaar. Hy is ’n goeie voorbeeld vir boere. Hy wil nie net by die gifsmous ’n program kry en volg nie.

Hy dink na oor sy boerdery en oor wat sy grond en boorde nodig het. ’n Mens kan ook nie met sy syfers stry nie. Dan is daar ook mense soos Graeme Sait, wat die boodskap aan boere gee sonder om hulle die skrik op die lyf te jaag. Ek en Johan Reyneke (van Reyneke Wines) kom van tyd tot tyd bymekaar om te gesels. Oorsee bewonder ek James Milton en Gareth King, albei van Nieu-Seeland.

WATTER BOEKE OOR BIODINAMIKA BEVEEL JY AAN?

Nicolas Joly (’n Fransman wat beskou word as die peetpa van biodinamiese wynbereiding) en Monty Waldin se werk is goeie leesstof. Rudolf Steiner se boek Die lewenskragtige boerdery is ook wonderbaarlik in Afrikaans vertaal.

Buiten Frans, Engels en Duits dink ek dis die enigste ander taal waarin die boek beskikbaar is. Ek lees ook graag Peter Pollock se boeke. Hy is ’n Kiwi wat baie werk doen in Indië, waar biodinamiese boerdery vinnig veld wen.

HET JY FOUTE GEMAAK SEDERT JY BIODINAMIES BEGIN BOER EN WYNMAAK HET?

Ons het die swam Trichoderma teen donsskimmel gebruik, maar steeds met koper bespuit. Ek het eers later besef koper maak swamme — die slegtes én die goeies — dood. Ons moes dus die een of die ander kies. Wat kon ons nog beter gedoen het?

Ons moes vroeër besef het hierdie droogte is nie ’n eenjaarstorie nie en gouer begin aanpas het. Gelukkig is ons grond se waterhouvermoë baie goed; dis soos ’n spons wat alles opsuig.

NAVRAE: Webblad: www.longridge.co.za