Mnr. Bernie van den Heever, ’n vrugteboer van Citrusdal in die Wes-Kaap, is een van die sakemanne wat al twee keer infrastruktuur moes vestig om die invloed van Eskom se onbevoegdheid op sy besigheid te beperk.

Van der Heever het meer as ses jaar gelede aansoek gedoen om ’n groter kragpunt omdat hy sy mango-boorde wou uitbrei. In die proses sou hy dus nóg werk skep en die ekonomie uitbou. Eskom het egter ’n stokkie daarvoor gesteek omdat die kapasiteit op die hoofkraglyn van Graafwater na sy plaas nie groot genoeg was nie.

“Ons het toe self die infrastruktuur geskep deur meer as R1,5 miljoen te bestee om ’n 100 kVa-sonkragstelsel op te rig. Die sonkragstelsel is by Eskom se kragrooster ingeskakel, wat beteken dat dit nutteloos is vir my wanneer daar beurtkrag is.” 

Hy het noodgedwonge ’n dieselkragopwekker aangeskaf om te verseker dat hy tydens beurtkrag wel krag het om water te pomp en sy pakskuur aan die gang te hou.

Me. Martli Slabber boer ook naby Citrusdal met sitrus. Sy het ook besluit om ’n dieselkragopwekker te koop om beurtkrag teen hoë koste die hoof te bied.

“Dit is bykans drie maal duurder om te besproei met diesel as met elektrisiteit.”

Kragonderbrekings veroorsaak ook ander komplikasies vir Slabber. Haar besproeiing in die boorde is alles gerekenariseer. Die aanhoudende kragonderbrekings beteken die rekenaars skakel af en moet aanhoudend herprogrammeer word. 

Proaktief

By verpakkingsaanlegte is kragprobleme hanteerbaar, maar net tot op ’n punt. By Ceres Aartappels, ’n uie-en-aartappelpakskuur in Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap wat bykans 12 maande van die jaar uie en aartappels verpak, werk die werknemers sowat 45 minute langer elke dag om ’n buffer op te bou vir die verlore tyd tydens beurtkrag.

Mnr. Danie Malan, hoofbestuurder, sê dit is voldoende as fase 1- of fase 2-beurtkrag ingestel word. “Wanneer fase 3 en hoër ingestel word, is die verlore tyd net te veel om met slim planne in te haal. Ons begin reeds alternatiewe kragbronne soos sonpanele op die dak oorweeg en sal ’n besluit hieroor neem ná die seisoen.”

Ervaar jy probleme met beurtkrag? Laat weet ons gerus by Johan.vandermerwe@landbou.com.