Só het me. Bolutife Onaneye van Euromonitor op ’n onlangse sake-ontbyt van die varsproduktebemarkingsvereniging PMA in Pretoria gesê.

Onaneye het die PMA se nuutste verslag oor varsprodukneigings in Suid-Afrika bekend gestel en vergelykings getref tussen kooppatrone onder Suid-Afrikaanse verbruikers en dié van die ontwikkelde wêreld in hoofsaaklik Europa.

Hoewel Suid-Afrikaanse verbruikers tans minder kieskeurig is met hul voedselaankope, kan produsente nie bekostig om wêreldneigings te ignoreer nie. Altesaam 90% van die groente en vrugte wat Suid-Afrika produseer, word uitgevoer.

Sy sê wêreldwyd raak verbruikers al hoe meer bewus van chemiese residu op vars produkte. Veral in Europa dring die verbruiker al hoe meer aan op organiese produkte op winkelrakke.

Die top-vyf uitvoerbestemmings vir Suid-Afrikaanse vrugte is Nederland (23%), Brittanje (16%), Rusland (6%), die Verenigde Arabiese Emirate (5%) en China (5%). Die top-vyf uitvoerbestemmings vir groente in Afrika is Mosambiek (25%), Botswana (16%), Namibië (12%), Lesotho (8%) en Angola (2%).

Pryse

Onaneye sê in Afrika is die belangrikste oorweging onder verbruikers die prys van produkte, want dit moet kan meeding met die land se plaaslike markte. In Europa is daar nie net ’n sterk vraag na organiese produkte nie, maar verbruikers plaas al hoe meer klem op etiese landboupraktyke, volhoubaarheid, regverdige en verantwoordelike watergebruik, en regverdige handels- en arbeidspraktyke. Hierdie verbruikers hou kwessies soos die afstand wat voedsel vervoer moet word, die koolstofspoor van hul kos en omgewingsvriendelike verpakking in gedagte wanneer hulle kos koop.

“Hierdie tipe verbruiker besluit maklik om nie ’n avokado te eet wat oor 30 000 km verskeep moes word nie, en kies dan iets anders wat plaaslik verbou word en beskikbaar is. Hulle is ook gekant teen die vermorsing van voedsel en al hoe meer produsente en handelaars boet wins in om die guns van hierdie verbruikers te wen,” sê Onaneye. Sy vertel van ’n varsproduktemark in Nederland wat aan die einde van die dag al die produkte wat oorgebly het, bymekaarmaak en mense toelaat om dit gratis te kom oplaai.

Sy sê hoewel van hierdie kwessies nog nie in die res van Afrika ’n belangrike rol in koopbesluite speel nie, raak dit al hoe belangriker in Suid-Afrika. Die plaaslike verbruikers se voorkeur vir die gerief van plastiek, maak dat hulle nog nie bereid is om dieselfde premie as Europese verbruikers vir hul verpakking te betaal nie. Produsente moet dus aan twee stelle vereistes voldoen, want vir baie Suid-Afrikaners is alternatiewe verpakking eenvoudig te duur.

Bolutife Onaneye
Me. Bolutife Onaneye van Euormonitor in Kaapstad. Foto: Jasper Raats