Luidens ’n berig op die Spaanse webwerf Valencia Plaza het mnr. Leopoldo Rubinacci, die kommissie se direkteur vir handelsbeskerming, aangedui dat die kommissie die beskermingsbevel teen die handelsooreenkoms tussen Europa en lande in Afrika ondersoek.

Daar word aangevoer dat die invoer van Suid-Afrikaanse sitrus, asook sitrus van lande soos Marokko, Egipte en Turkye lei tot onvolhoubaar lae pryse in Europa.

Rubinacci sê die besluit sal op feite gegrond word en het gevra om met verteenwoordigers in die Spaanse sitrussektor te vergader. Die kommissie sal ook saam met Italiaanse en Griekse produsente moet werk om die probleem reg oor die vasteland aan te pak.

Volgens die handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Europese Unie (EU) wat in 2016 ingestel is, het Suid-Afrika tariefvrye toegang vir sekere sitrusprodukte na Europa van Junie tot 15 Oktober elke jaar. Die tariewe vir sitrusprodukte was 16% van 15 Oktober tot 30 November, maar sal geleidelik verminder word tot dit uiteindelik teen 2027 verwyder is. Die tariewe van 1 Desember tot 31 Mei bly behoue. 

Standaardprosedure

Mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) se gesant vir markaangeleenthede in die EU, sê hy weet van die ondersoek. Dit is standaardprosedure. Die Europese Kommissie mag die beskermingsbevel ondersoek.

Hy sê die SASKV het die nodige data aan die kommissie verskaf het en dat die situasie deeglik ondersoek en beredeneer word.

Joubert sê die beskermingsbevel is ingestel om te voorkom dat die Europese markte of enige land se plaaslike mark ineenstort of permanent beskadig word, “en dit gebeur nie”.

Volgens Joubert het die Spanjaarde aangevoer dat veral probleme met Suid-Afrikaanse valencias of laat lemoene ’n impak het op die Spanjaarde se sagtesitrus op die Europese markte. Suid-Afrika het egter in die vorige seisoen ’n miljoen kartonhouers lemoene minder aan die Europese mark gelewer het. In die vorige jaar – toe meer Suid-Afrikaanse sitrus gelewer is – het die mark nie ineengestort nie.

Suid-Afrika, wat in die Suidelike Halfrond geleë is, se lewering aan Europa stem nie ooreen met die Spaanse seisoen in die Noordelike Halfrond nie. Joubert verwag dus nie dat daar enige afkondiging sal wees om die beskermingsbevel in aksie te stel nie. 

Interne probleme

Swaar reën het die Valencia-streek in Oktober en November 2018 getref, wat vruggrootte van verskeie kultivars geraak het en ook beduidende skade aangerig het. Die vrugte was byna onbemarkbaar.

Die Europese Kommissie het reeds aan die begin van die jaar aangedui dat die krisis binne die Spaanse sitrusbedryf grootliks veroorsaak word deur interne probleme en nie invoer uit Suid-Afrika nie, veral aangesien Suid-Afrikaanse uitvoer buite die Spaanse seisoen plaasvind én Suid-Afrika se laatseisoenuitvoer aansienlik minder was as die vorige jaar.

Politieke partye het ook dié onderwerp gebruik om steun te werf met Spanje se algemene verkiesing wat op 28 April plaasgevind het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.