Toe mnr. Nico Fourie in 2010 besluit het om die Bosveld in Limpopo vir die Tuinroete te verruil, was sy plan om ’n skaapboerdery aan te pak. Nadat hy vir die snaaksigheid probeer het om sy eie wyn van die vorige eienaar se aangeplante Pinot noir-wingerd te maak, was dit egter neusie verby.

Vandag neem die wynmakery op die plaas Herold Wines die grootste deel van sy tyd in beslag. Die Klein-Karoo, met sy warm, droë klimaat, is bekend vir soeter wyne, soos port. Danksy die unieke klimaat het dié plaas egter al naam gemaak met sy droër wyne in die Europese styl, soos Pinot noir en Weis- ser Riesling.

Nico het in braaikuikens gespesialiseer tydens sy studies in diereproduksie aan die Technikon van Pretoria. Hy het toe 16 jaar lank ’n hoenderboerdery in Limpopo bestuur, waarna hy sewe jaar lank sy eie tamatieboerdery gehad het. Hy het toe alles verkoop en besluit om Kaap toe te trek om ’n dubbeldoelskaapboerdery in die Suid-Kaap te begin.

“Voor die eerste parstyd het ’n besoekende wynmaker, Louis Strydom van Ernie Els Wyne, vir my gesê ek sal vooraf moet besluit of ek met die wynmaak wil voortgaan of nie, want sodra ek die eerste fermentasie-aromas ruik, gaan daar geen keer wees nie. Toe lag ek vir hom . . . maar hy was reg,” sê Nico.

“Toe ek op die plaas kom, het ek nie eens geweet daar bestaan iets soos ’n Pinot noir-druiwekultivar nie!”

Nico sê hy verkies Franse eikehout bo Amerikaanse eikehout vir die veroudering van die wyn danksy die speserygeure wat dit aan die Pinot noir gee.

Geurontwikkeling

Die plaas is geleë in ’n vallei aan die agterkant van Cradockpiek, een van George se bekendste bakens, en die wingerd is 650 tot 700 m bo seespieël. Aangesien dit slegs 15 km van die kus af geleë is, word dit steeds baie deur die see beïnvloed.

“Die potensiaal vir kultivarspesifieke eienskappe by druiwe, soos Pinot noir, is baie beter hier waar dit koeler is. Ek dink dit is een van die kultivars wat die omgewing die beste kan vertoon. In droë, warm gebiede begin die suiker te vroeg styg en moet jy begin pars, anders is jou alkoholinhoud te hoog. Maar dan verloor jy geur,” sê Nico.

“Dit maak ’n verskil aan hoeveel geure in die rooi druiwe vorm, aangesien die gesogte geure meer aan die einde van rypwording vorm. Aangesien die druiwe langer in die wingerd is – omtrent 210 dae teenoor die bedryfsgemiddelde van 180 dae – is daar meer kans vir geure om te vorm.”

Daarom is die wyne op dié plaas meer in die Europese styl as die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyn. “Die alkoholinhoud is laer, daar is nie so baie houtgeure nie en die wyn is meer elegant.” Noudat die streek steeds onder die droogte deurloop, is sy wingerd vir die eerste keer in balans, hoewel die oes ietwat kleiner is, sê Nico.

“Die plaas se reënval is eintlik te hoog vir wynproduksie en die droogte bevoordeel die wingerd. Ander jare moes ek met lowerbestuur die wingerd terugsnoei. Vanjaar het die wingerd net tot ’n sekere stadium gegroei, waarna al die energie in die rypmaak van die druiwe gegaan het en nie in verdere groei nie.

“Dit reën oor die algemeen te veel vir wingerd en dan groei die plante te geil, wat die opbrengste afbring; of dit reën ontydig as die druiwe blom, wat tot swak vrugset lei.”

Nico moet gewoonlik in Desember ’n span werkers inkry om blare uit te breek ten einde donsskimmel te voorkom en lig deur te laat om die stokke se vrugbaarheid te verbeter. Vir die rooi druiwe breek hy die blare weg waar die trosse geset is.

Hy het al geleer dat die rooi druiwe nie sonskade kry indien hy dit net ná vrugset doen nie. Vir die wit druiwe breek hy meer blare aan die oostekant van die trosse oop om sonskade van die westekant af te beperk.

Meer wingerd geplant

Intussen het Nico die 5 ha aangeplante Pinot noir en Sauvignon blanc uitgebrei en ander druifkultivars, soos Weisser Riesling en Sémillon, bygeplant, sodat die huidige aanplantings nou altesaam 8 ha beslaan. Party is proefaanplantings.

“Ek het die Pinot noir en Sauvignon blanc uitgebrei, maar Weisser Riesling bygevoeg omdat die koel klimaat baie goeie sure met parstyd teweegbring, wat nodig is in ’n goeie Riesling. Die wingerd is teen die noordwestelike helling in die vallei geplant met die rye in ’n suidoostelike rigting om die meeste van die koel lug van die kus af te kan benut en sonskade te beperk.

Die onderstokke is oorwegend Richter 110 en 101-14, wat die groeikragtigheid van die stokke effens rem sodat hulle nie so geil groei nie. Dit werk baie goed.

“Die Cabernet Sauvignon staan op Paulsen-onderstokke wat te laat bot, dan sukkel ons om die druiwe ryp te kry voor die seisoen om is. Sémillon het laer sure en kan help om in ’n versnit die Sauvignon blanc se suur op ’n natuurlike manier te tem sonder dat ons in die kelder suur hoef te onttrek. Vinpro se Johannes Mellet het waardevolle raad verskaf.”

Die opbrengs van 3 tot 4 ton per hektaar op die plaas is aan die lae kant vergeleke met die gemiddelde in ander produksiegebiede (tot 17 ton).

“Die geil wingerdgroei kan toegeskryf word aan die goeie reënval in die somer en die ryk leemgrond. Die koel klimaat met gemiddelde maksimum temperatuur van 24 ºC en koel nagte (minder as 10 ºC) help om die kleurstabiliteit en geurontwikkeling te bevorder. Veral die Pinot noir wil nie aangejaag word met rypwording nie, en met die koel weer vorm die suiker stadig in die korrels, wat ons gewoonlik eers in April pars.”

Vir sekere van die kultivars het hy van vertikale posisionering na ’n Guyot-stelsel oorgeskakel, wat tot dusver suksesvol was. “Dit bring die arbeidskoste af, aangesien die lowerbestuur nou minder werk per stok behels en dus makliker en vinniger verloop.” Hy produseer nagenoeg 18 000 liter wyn per jaar en bottel ongeveer 24 000 bottels, waarvan 60% rooi en 40% wit wyn is.

Die hoofwyn is Pinot noir en omdat die ander blokke nie groot genoeg is nie, maak hy versnitte van die ander rooi kultivars. Indien die oes dit toelaat, maak hy wel Shiraz of Merlot op hul eie. Hy glo daaraan om op die hoogte te bly van ontwikkelings in lowerbestuur.

“Ek kyk gereeld na verskillende snoeimetodes, hoe ek dit kan aanpas en wat die verskil is. Ek eksperimenteer ook met verskillende oplei- stelsels om te sien of dit die plant se genetiese potensiaal kan laat realiseer.”

Me. Ingrid Scheepers is Nico se regterhand en help hom met die bestuur van die restaurant en proelokaal. Hy glo sy het nog baie potensiaal wat ontgin kan word en beplan ook verdere opleiding om haar vaardighede uit te brei. “Sy kan alles doen. Jy moet sien hoe sy die gaste hanteer, maak nie saak hoe besig dit raak nie, terwyl die kasregister beman moet word, wyn geskink en die kos gemaak moet word. Sy blink uit as sy onder druk is.”

Een groot plaasfamilie

Om die wynmaakproses van nader te leer ken, het Nico ’n kort kursus in kleinskaalse wynmaak, aangebied deur prof. Wessel du Toit, aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

“Dit is ’n goeie basiese kursus, want my proses van wynmaak is eenvoudig. Ek manipuleer nie die wyn nie. Ek is baie geseënd met goeie druiwe uit die wingerd. Dit maak dit moontlik om die wyn op ’n basiese manier met minimale inmenging te maak.” Elke stap van die wynmaakproses – van die pluk van die druiwe tot verkope in die proelokaal – gebeur op die plaas.

“Ons verwerk ons eie druiwe tot wyn wat ons in ons eie kelder maak en self bottel. Dieselfde mense wat in die wingerd werk, maak ook die wyn en bottel dit.”

As iemand wat nie vertroud was met die wynbedryf en die gebied toe hy daar gekom het nie, glo Nico sy behoud was die vyf heeltydse werkers wat toe reeds op die plaas gebly het.

“Die plaas is eintlik ’n ‘plaasfamilieprojek’ en elke heeltydse werker se naam pryk op elke wynbottel-etiket.” Aangesien hulle die meeste van die werk self doen, is die werkers regdeur die jaar besig. Nico bring wel seisoenwerkers in vir besiger tye, soos pluktyd.

Net te laat vir Platter

Een van die wyne wat Nico maak, is die Red Men-versnit van Merlot, Shiraz en Cabernet Sauvignon. “Ons het ’n Khoisan-tekening op die plaas ontdek en die tekening pryk nou op die Red Men-bottel se etiket.” Die oes lewer jaarliks van 1 000 tot 1 200 bottels en die versnit word taamlik vinnig uitverkoop.

Aangesien Nico homself nie as ’n wynmaker beskou nie, bemark hy nie die wyne baie aktief nie en is die meeste besoekers aan die plaas daar op aanbeveling van ander mense. Boonop is daar nog geleentheid om sy wynproduksie uit te brei en wil hy nie bemark voor hy sy volle leweringsvermoë kan handhaaf nie.

Hy verduidelik dat die gewilde Pinot noir egter besoekers lok. Dit is ook die enigste wyn wat aan vyf restaurante aan die Tuinroete en in Kaapstad gelewer word.

Omdat sy produksie taamlik klein is, word die meeste van die plaas se wyn uit die proelokaal of by ’n nabygeleë padstal verkoop. Hy pars vanjaar sy sewende oes en verkoop baie van die wyn gewoonlik al in die besige Desembermaande uit. Weens die groot aantal Duitsers wat die plaas besoek, het hy ook besluit om Weisser Riesling aan te plant. Dié kultivar vaar tans baie goed.

“As hulle hier kom en die Pinot noir proe, wil hulle weet waar is die Riesling. Toe plant ek ’n stukkie aan.”

Benewens sy eie oes kry hy druiwe van Waboomskraal, ’n plaas in die omgewing. Volgens Nico wil hy graag sy wyne vir die Platter-wyngids voorlê, maar omdat hy gewoonlik eers in Maart en April pars, is die wyn nie betyds klaar nie – en dit is gewoonlik voor die volgende jaar uitverkoop.

Aangesien die omgewing nie bekend is vir sy droë wyne nie, het die Klein-Karoo-wynroete hom verlede jaar aangemoedig om ’n Sauvignon blanc aan die wynkritikus Tim Atkin voor te lê op sy jaarlikse toer deur Suid-Afrika. “Hy het die wyn 91 punte gegee. Dit is gelykstaande aan ’n silwermedalje. Dit was ’n jaaroudwyn, en dit was goed om te besef ek kan in die mark meeding.”

Die plaas bied ook opsies vir oornagverblyf en klein onthale.

Winsgewend op klein skaal

Hoewel die wingerduitbreiding die plaas se grootste verdiener van inkomste is, glo Nico die wyn is ’n plaasproduk net soos sy skape en beeste. “Die wyn moet inpas by die res van die plaas. Die bestuurstake daarvan word egter hoofsaaklik deur die weer bepaal.”

“Die ideaal is om winsgewend te wees, maar ek dink ons kry dit reg deur waarde op die plaas toe te voeg. Ons doen alles hier, kontrakteer niks uit nie en verkoop regstreeks aan die verbruiker. Dit besnoei baie onkoste, soos verpakking, vervoer of agentekommissie. Dit sou baie moeiliker wees om dit hier op ’n groter skaal reg te kry. Maar wat jy aan die een kant aan onkoste bespaar, verloor jy dalk aan tyd.

“Dit is duur om wyn op so ’n klein skaal te maak. Die be- dryfskoste is hoog en daarvan is arbeid en elektrisiteit die grootste komponent. Ons produksiekoste beloop R53 000 per hektaar, wat hoër is as die bedryf se sowat R46 000. Ons gemiddelde inkomste is R120 per liter by die kelder. Ons bespaar egter baie aan kunsmis, besproeiing en gifstowwe.”

Op die plaas beskerm hulle die druiwetrosse met nette om die voëls weg te hou. Die foto toon ook hoe die blare rondom die trosse weggebreek is om lig deur te laat; dit bevorder rypheid en voorkom donsskimmel.

Geduld geleer

’n Groot deel van die plaas word deur Cape Nature-natuurbewaringsgebiede omring en voëls en bobbejane is ’n groot probleem in die wingerde. Daarvoor het Nico ’n elektriese heining om die wingerd opgerig, asook ’n gaskanon wat elke paar minute afgaan. Nette oor die druiwe hou weer die voëls weg.

“Dit werk soms, en keer dat die kwaaddoeners sommer net inkom. Tog is daar altyd ’n paar wat deurkom. Ek het my Shiraz-oes twee jaar agtereenvolgens verloor weens die bobbejane wat deur die heining gekom het.” Volgens Nico was die belangrikste les in die wingerd om geduldig te wees.

“Wyn en druiwe vra geduld, veral aan die wynkant. Ek het nie formeel wingerdbou of wynmaak gestudeer nie en moet nou maar self leer. “Baie kere dink ek dat ’n wyn nie sy potensiaal gaan bereik nie, maar as jy dit net ’n rukkie kans gee om te ontwikkel, kom dit weer reg.”

Hoewel daar nie meer ’n enkele hoender of tamatie op sy plaas is nie, is daar wél ’n paar gevestigde beginsels wat hy op die plaas toepas. “Omdat die hoenderbedryf so intensief is, help my vorige ondervinding dat ek nou aandag gee aan die detail. En danksy die tamatieboerdery het ek ’n gevoel vir plante aangeleer.”

Die Bonsmarakudde word kommersieel aangehou om vleis aan die slagmark te lewer.
Nico moes eers self ’n kampstelsel vir die skape en beeste uitlê toe hy die plaas gekoop het.

Gemengde boerdery

Vir ’n egaliger en meer volhoubare kontantvloei deur die jaar hou mnr. Nico Fourie van die Herold-vallei ook 35 Bonsmara-beeste en 100 Afrino-skape aan wat hy aan die kommersiële slagmark lewer. Die skape en beeste speel ook hul rol om grondgesondheid in die wingerd te verseker en só sy koste verder te besnoei.

“Wanneer die oes af is, wei die vee in die wingerd. Ons besproei ook nie en hier is geen insekdoder op die plaas nie.” Sedert Nico op die plaas gekom het, het hy nog geen bemesting toegedien nie. Aangesien die omgewing baie mistig en nat is, moet Nico wel donsskimmel en blaarsiektes bestry.

“Ek spuit voorkomend met swael- en kopermiddels, maar omdat dit lank mistig kan bly, gebruik ek ook sistemiese middels, soos Folpet (Folpan 50 WP, reg.no. L4663, Wet 36 van 1947), Flint Max (reg.no. L8827 van Bayer en Curzate Pro (reg.no. L5698) van Du Pont.”

Hy huiwer om die plaas organies te noem, maar poog om sover moontlik weg te bly van skadelike chemiese middels. “Dit maak die plaas meer volhoubaar. Ek het dit gesien toe ek met tamaties geboer het. Ek glo in kompos en organiese bemesting, en die skape doen dit vir my. As jy in die grond grawe en daar kom erdwurms uit, is ek taamlik seker die grond is gesond.”

Nico ondersoek alle moontlike inkomste-strome en glo nie daarin om al sy eiers in een wynmandjie te plaas nie. Hy wil ook ’n mikrobrouery begin, en plant onder meer bloubessies aan. Sy vrou, Maureen, bestee die inkomste daaruit by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Die bloubessielaning het egter nie die droogte oorleef nie en hy wil dit weer aanplant. Daar is ook ’n laning haselneute waarmee hy eksperimenteer. Benewens ’n proelokaal is daar ook ’n gewilde restaurant-bistro op die plaas, wat Maureen bestuur. “Maureen se bistro en selfsorgbesigheid groei vinniger as my wynbesigheid.”

Navrae: Mnr. Nico Fourie, e-pos: info@heroldwines.co.za; webwerf: heroldwines.co.za; sel 072 833 8223.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.