PROMOSIE

Die vyfde jaarlikse FELCO snoeikompetisie het vanjaar op 22 Augustus op La Motte by die Paarl plaasgevind en meer as 60 beroeps- en studentesnoeiers het aan die finale ronde deelgeneem. Mnr. Jaco Engelbrecht van Visual Viticulture, die beoordelaar, sê die gehalte van die snoeiwerk wat in die bedryf gedoen word, is ooglopend aan die verbeter.

Vir mnr. Gys Liebenberg, besturende direkteur van FELCO Afrika, is dit bemoedigend. 

“Ons wil met die kompetisie ’n hoë snoeistandaard bereik. Vanjaar is die eerste keer dat die Intervarsity-deelnemers saam met die beroepsnoeiers deelgeneem het. Ek dink dit was vir die studente ’n goeie ervaring om te sien watter gehalte snoeiwerk die werkers teen ’n verstommende tempo kan verrig.

“Die belangrikste van die snoeikompetisies vir plaaswerkers is egter om erkenning te gee aan daardie werkers wat 'n moeilike, maar belangrike taak op ons plase moet verrig. As 'n wingerdstok nie reg gesnoei word nie, kan dit die lewensverwagting van die wingerdstok, die gehalte en opbrengs van die oes beïnvloed,” verduidelik Gys.

Dié Hoër Landbouskool Boland, Agter-Paarl, het ook aan die skolierkompetisie deelgeneem. Die wenner van die eerste plek was Van Zyl Engelbrecht (middel), Anro Viviers (regs) was tweede en Janu de Jager derde. Foto: Verskaf
In die intervarsity-kompetisie het Anandi Theunissen (middel) van Stellenbosch Universiteit met die louere weggestap terwyl Fourie van Zyl (regs) van die Landboukollege Elsenburg tweede gekom het en Suné Botha, ook van die Landboukollege Elsenburg, die derde plek verwerf het. Foto: Verskaf

Die FELCO-snoei-Intervarsity vind plaas tussen die Universiteit Stellenbosch, Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie en die Landboukollege Elsenburg. In die professionele kompetisie en intervarsity albei word die volgende aspekte geëvalueer.

• Spasiëring van draers.

• Getal ogies per draer.

• Hoogte van snit bokant ogie.

• Hoogte van snit op tweejaarhout.

• Onderskeid tussen dik en dun lote.

• Doeltreffendheid van halflank-draers (Cazenave).

• Toelating vir vernuwin.

• Toemaak van gapings.

• Gladheid van snit op hout ouer as twee jaar.

Henry Simmerie van Louisvale by Wellington het die beroepsnoeikompetisie gewen terwyl Anandi Theunissen van die Universiteit Stellenbosch die intervarsity-snoeikompetisie gewen het. 

Die Hoër Landbouskool Boland het ook skoliere ingeskryf vir die kompetisie en Van Zyl Engelbrecht het in hierdie afdeling met die louere weggestap. 

Die Agriwerker-snoeikompetisie het vanjaar saam met FELCO se internasionale konferensie plaasgevind en 35 internasionale gaste van Kanada, Switzerland, Australië, Duitsland, Frankryk, Oosternryk, Amerika en Asië kon die kompetisie bywoon. 

“Die gaste was beïndruk met die tempo waarteen snoeiwerk hier gedoen word sonder om tegniek en gehalte prys te gee. Hierdie kompetisie is eie aan Suid-Afrika en die gaste was veral beïndruk hoe dit die werklikhede in die wingerd en die snoeiteorie nader aanmekaar bring,” sê Gys.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.