Dié nuwe uitvoermark voeg R205 miljoen per jaar tot die plaaslike bedryf se uitvoerinkomste toe en die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) beraam die potensiaal op 20 000 ton per jaar. ’n Afvaardiging van die SKV het op Dinsdag 8 Junie gaan kyk hoe die eerste vrag sitrus wat vir die Filippyne bestem is, in die Durbanse hawe verpak en gelaai word.

“Die historiese geleentheid is die gevolg van 12 jaar se samesprekings tussen die twee lande wat uiteindelik aan einde 2020 tot ’n ooreenkoms tussen die department van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en sy Filippynse eweknie gelei het,” sê mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV.

Hy sê die Filippynse mark gaan oop op ’n tydstip dat werkgeleenthede in Suid-Afrika skaars geword en Covid-19 verskeie bedrywe ’n ernstige knou toegedien het. Die plaaslike sitrusbedryf verwag om met ’n verdere 500 000 ton oor die volgende drie tot vyf jaar te groei. “Om te verhinder dat ons met ’n oorskot in ons bestaande markte sit, is dit noodsaaklik dat ons toegang tot nuwe oorsese markte kry.”

Mandaryne

Die huidige produksieseisoen lyk belowend met tot 29% meer sagtesitrus wat in 2021 geproduseer gaan word vergeleke met die vorige jaar. Binne hierdie kategorie sal die produksie van mandaryne na verwagting met 42% toeneem.

Daarom, sê Chadwick, is dit bemoedigend dat dié kategorie die grootste volume is wat deur die Filippyne ingevoer word. Dié land het van 2016 tot 2018 altesame 117 000 ton sitrus ingevoer, waarvan 80 000 ton sagtesitrus was.

“Tot dusver het die meeste van die mandaryne wat die Filippyne uit die Suidelike Halfrond ingevoer het, van Argentinië en Australië gekom. Ons hoop ons plaaslike bedryf sal in die volgende paar jaar daardie lande verbysteek as die hoofverskaffer van sagtesitrus aan die Filippyne.”

Chadwick sê die sitrusbedryf is goed geposisioneer om ’n bydrae tot die land se ekonomiese herstel te lewer. In 2020 is ’n rekordgetal van 146 miljoen kartonhouers sitrus uitgevoer en die vereniging verwag vanjaar nog ’n uitvoerrekord. “Die SKV sal aanhou om saam met die regering te werk om toegang te verkry tot ander sleutelmarkte, insluitend China, Amerika, Indië, Japan, Viëtnam en die Europese Unie, om ons deel tot werkskepping en inklusiewe groei by te dra.”