Te midde van dié onsekerheid het mnre. Roelf Pienaar en Conrad Fick, onderskeidelik besturende direkteur en bemarkingsdirekteur van Tru-Cape, met ’n optimistiese uitkyk vanaf vanjaar se Fruit Logistica-handelskou in Berlyn, Duitsland, teruggekeer.

Fruit Logistica is ’n jaarlikse handelskou wat deur die vernaamste belanghebbendes in die vrugtebedryf van reg oor die wêreld bygewoon word. Pienaar en Fick het vyf neigings geïdentifiseer wat hul aandag getrek het op vanjaar se Fruit Logistica.

Een daarvan is die handelsoorlog tussen China en Amerika, en die verbod van Rusland op die invoer van vrugte uit die Europese Unie. Dit sorg vir groot onsekerheid, maar ook vir goeie geleenthede, meen Pienaar. Die geleenthede kom op ’n goeie tyd aangesien daar ’n toename van 6% in Suid-Afrikaanse appelproduksie verwag word vir die komende seisoen.

Chinese mark groei fluks

“Die situasie tussen China en Amerika plaas druk op ander markte omdat die Amerikaanse vrugte iewers heen moet gaan, maar dit skep ook geleentheid vir ons vrugte om ’n groter teenwoordigheid binne China te bou. Ons het eers in 2015 toegang tot die Chinese appelmark gekry. Hierdie is ’n geleentheid wat ons graag wil ontgin,” sê Pienaar.

Die tweede neiging is onsekerheid en moontlike handelstilstand weens die koronavirus in die Ooste. Volgens Fick kan dit meebring dat hawens nie vraghouers hanteer nie. “Dit kan verliese in handel en ’n opeenhoping van vraghouers meebring. Of dit wel die geval gaan wees, sal ons moet sien.”

Wêreldekonomie is pap

Die druk op ekonomieë wêreldwyd gaan vereis dat slegs die beste gehalte vrugte teen ’n aantreklike prys vir die kontant-arm verbruiker aangebied moet word. Dit is die derde neiging en Pienaar meen ’n goeie vertrouensverhouding met die groot- en kleinhandelaar op die internasionale markte sal belanghebbendes help om die probleem te bowe te kom. Die vierde neiging wat in internasionale kringe bespreek word, is die mate waartoe klimaatsverandering produksie en die verbruik van vrugte op lang termyn sal beïnvloed.

“Die laaste neiging wat vir ons uitstaan, is die behoefte van aankopers om nader aan die eindverbruiker te kom. Dit gaan al hoe meer druk op die kosteketting plaas, maar skep terselfdertyd die geleentheid vir die produsent om regstreeks in die kleinhandel betrokke te raak,” sê Pienaar.

Afrika het (steeds) potensiaal

Suid-Afrika lewer net meer as 800 000 ton appels per jaar waarvan 400 000 ton uitgevoer word. Dit maak nagenoeg 25% uit van alle appels wat uit die Suidelike Halfrond uitgevoer word. “Suid-Afrika is dus ’n vername produserende land in die Suidelike Halfrond. Ons lewer egter slegs 2% van China se tamaai 44 miljoen ton jaarliks en nie eens 1% van die bykans 100 miljoen ton appels wat jaarliks wêreldwyd geproduseer word nie. Wêreldwyd is ons dus nie groot nie, maar in Afrika is ons verseker die grootste.”

Sedert 2012 het die groei in appeluitvoer na Afrika gestagneer. Tru-Cape voer sedertdien van 15% tot 20% van sy totale produksie na Afrika uit. “Daar is potensiaal om die Afrikamark verder te ontwikkel, maar die infrastruktuur en betalingswaarborge is ’n groot risiko en strem groei,” sê Pienaar.