In ’n wêreld waar verbruikers al hoe meer druk op boere plaas om verantwoordelik met natuurlike hulpbronne te werk te gaan, raak hierdie inligting al hoe belangriker, sê mnr. Paul van den Berg van Bekmar-besproeiing.

Van den Berg sê 40 liter water is nodig om ’n enkele sny brood te produseer, 35 liter vir ’n koppie tee, 200 liter vir ’n glas melk, 50 liter vir ’n lemoen, 70 liter vir ’n appel en 135 liter vir ’n eier. Vleis verg nog meer water. Beesvleis vereis 15 500 liter water per kg, skaapvleis 6 100 liter/kg, varkvleis 4 800 liter/kg, bokvleis 4 000 liter/kg en hoendervleis 3 900 liter/kg.

Waterkrisis in Chili

’n Waterkrisis in Chili se provinsie Petorca het die potensiaal om Suid-Afrikaanse avokadokwekers te benadeel op die Europese mark, sê mnr. Gilberto Biacuana, ’n ontleder van die Land Bank.

Volgens The Guardian het die mededinging om water vir avokadoproduksie in dié provinsie die potensiaal om in ’n humanitêre krisis te ontaard. In 2011 het ’n ondersoek deur die Chileense waterowerheid 65 onwettige kanale geïdentifiseer van groot landboumaatskappye wat water uit riviere na avokadoboorde herlei. Met die bietjie water wat oorbly, moet mense nou kies of hulle wil kook of was, het me. Veronica Vilches, ’n wateraktivis, aan The Guardian gesê.

Biacuana sê ten spyte van die talle gesondheidsvoordele van avokado’s is daar glo restaurante in Brittanje wat dreig om die vrug van hul spyskaarte te verwyder oor die waterkwessie.

Volgens aktiviste soos Vilches gebruik avokado’s baie meer water as ander landbougewasse, maar navorsing wat Van den Berg by Allesbeste-boerdery by Tzaneen gedoen het, wys dat die vrug ’n gemiddelde besproeiingsbehoefte van omtrent 85 liter/kg het. Vir vrugte met ’n telling van 16 per 4,5 kg-houer is dit omtrent 24 liter water per vrug.

Op die onlangse Maluma-simposium in Tzaneen het mnr. Mark Buhl van Data Harvest in Amerika gesê dit raak toenemend belangrik vir produsente om inligting soos hierdie regstreeks by die verbruiker uit te bring. Data Harvest beoog om met verskeie soorte tegnologie data oor die hele produksietydperk van ’n vrug op te bou in ’n blokketting wat tot in die verbruiker se huis strek.

Só kan verbruikers hulle dan vergewis van die oorsprong van hul vrugte en die storie agter die produksie daarvan in ’n wêreld waar mense hul verbruikspatrone as ’n al groter deel van hul identiteit as etiese individue inweef.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.