Mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) se gesant vir handelsbetrekkinge met die EU, het dié slegte nuus op die Fruit Logistica-handelskou in Berlyn, Duitsland, aan Suid-Afrikaners oorgedra.

SKV by Fruit Logistica, Deon Joubert,
Mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) se gesant vir handelsbetrekkinge met die EU bespreek die nuus met rolspelers by Fruit Logistica 2019. Foto: Jasper Raats

Joubert sê hoewel daar verlede jaar net twee onderskeppings van vrugte met tekens van die swartvlekswam was, het die SKV se pleidooie op vrystelling vir Suid-Afrikaanse sitrus uit swartvlekgebiede op dooie ore geval.

“Ons eerste strategie was om te vra dat daar ’n uitsondering gemaak word, soos vir vrugte wat tot sap verwerk word. Die versappingsaanleg vernietig mos die swam. Toe dit nie werk nie, het ons weer daarop gewys dat ’n dooie swam geen risiko inhou nie. Ons het gevra dat onderskeppings van vrugte waarop daar tekens van ’n dooie swam gevind word, nie as onderskepping sal tel nie.”

Albei voorstelle is verwerp. Met die twee onderskeppings verlede jaar is dooie swamme op vrugte waargeneem.

Sitrus teen immigrasie

Die SKV het daarom besluit om op alle ander fronte te baklei vir sy lede. Een strategie is om dit onder Europeërs se aandag te bring dat die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf 10 000 werksgeleenthede skep.

Europese ekonomieë is tans onder groot druk om in die behoeftes van miljoene vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Afrika te voorsien. Die EU het onderneem om ’n miljoen werksgeleenthede in Afrika te help skep in ’n poging om Afrikane in Afrika te laat bly. “Ons is deel van die oplossing en dit maak nie sin om ’n bedryf soos ons s’n te straf as dit nog mense in Afrika se werksgeleenthede in gedrang plaas nie,” sê Joubert.

Dit is reeds wetenskaplik bewys dat swartvlek geen bedreiging vir sitrus in Mediterreense gebiede soos Spanje inhou nie. Spanje is die grootste teenstander van Suid-Afrikaanse sitrus in die EU. Dit kos die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf R1,8 miljard per jaar om te voldoen aan maatreëls om die verspreiding van swartvlek na die EU te bekamp. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.