Die koste van die bekamping van onkruid is ’n aspek wat die kosteknyptang se bek al hoe nouer toedruk in sagtevrugteboerderye, maar met noukeurige bestuur en ’n bietjie waagmoed kan hierdie koste maklik drasties verminder word.

Vir mnr. Riaan Smit, landgoed-bestuurder van Môrester-landgoed in die Koue-Bokkeveld, is gehalte en opbrengs uiters belangrik. 

Met hierdie twee doelwitte voor oë kan verwag word dat die boorde op die plaas pynlik netjies sal wees. 

“Die tyd van mooi, skoon boorde is iets van die verlede,” verklaar Smit egter. “Ons boer nie vir die mense wat verby die plaas ry nie. Ons boer vir en volgens resultate.”

Grondbedekking

Een van die praktyke waarin Smit vas glo, is grondbedekking op die boomry. Die hoofrede daarvoor is vogbewaring, maar daar is heelwat ander voordele, soos dat die grond se temperatuur stabieler is. Nog ’n belangrike voordeel, mits die grondbedekking dik genoeg aangewend word, is doeltreffende onkruidonderdrukking. Dit is egter nie voldoende om alle onkruid volgehou te onderdruk nie.

“In jonger boorde, waar die grond se mikrobe-lewe nog deur bakterieë oorheers word, is die onkruid oorwegend breëblaaronkruide. In ouer, gevestigde boorde, waar swamme reeds posgevat het en die grondlewe oorheers, is smalblaaronkruide oorheersend. Dit maak dit eenvoudiger om onkruid in boorde te bekamp, omdat slegs een tipe onkruiddoder nodig is. Ons dien deesdae slegs ’n enkele onkruiddoder toe en dan slegs in boorde waar dit werklik nodig is. Vroeër jare het ons tot drie maal die onkruid op die bankies gespuit, maar dit is lankal nie meer die gebruik nie. Hierdie enkele bespuiting vind plaas voor einde Desember en dit is belangrik om die regte dosis op die regte tyd toe te dien.

“Ons bespuit slegs onkruid op die bankie en is nie meer bekommerd oor die onkruid in die werksry nie. Ons sal dit een maal, hoogstens twee maal per jaar kap: Een maal voor oestyd om die proses te vergemaklik en indien dit werklik nodig is, sal ons dit teen einde November ook kap,” sê Smit.

Die nuwe boorde op Môrester is almal nou aanplantings, (gemiddeld 1,5 m x 3 m), met nou-radiusmikrospuitjies. Smit meen dié mikrospuitjie help ook om die onkruiddruk te verminder. 

“Ons besproei nie meer 60% of 75% van die oppervlak nie. Ons besproei slegs waar die grondbedekking lê. Die beskikbare vog vir onkruid op kaal grond waar die deklaag dit nie onderdruk nie, is dus baie minder,” sê Smit.

In van die boorde sal onkruiddoder sommige jare oorgeslaan word. Die meeste boorde se onkruid word egter een maal per jaar bespuit. “Ons sal teen einde Desember klaar gespuit wees om seker te maak die ergste onkruid in die boomry word doodgespuit. Dit is die enigste bespuiting wat ons deur die seisoen sal toedien.”

’n Jong appelboord met onkruid wat deur die houtsplinters groei. Hierdie onkruid sal nie in die huidige seisoen bekamp word nie. Die houtsplinters is ’n goeie grondbedekking en hou dubbel solank as kaf. Foto: Johan van der Merwe
Jong voedingswortels in ’n 11-jarige Braeburn-boord ontwikkel steeds goed aan die einde van die somer in die laag humusryke grond wat bo-op die sandgrond gevestig word weens die volgehoue toediening van organiese materiaal. Foto: Johan van der Merwe
Mnr. Riaan Smit, landgoedbestuurder by Môrester-landgoed. Foto: Johan van der Merwe

Die onkruid in die werksry is so byna nie meer ’n onkruid is Smit se oë nie. “Ek sien die onkruid as diverse dekgewasse. As ons grawe, sien ons nie boomwortels daar nie, want dit is droog omdat ons nie daar besproei nie. Maar ons gaan dit beslis nie doodspuit nie. Dit dien as ’n habitat vir voordelige insekte, bedek die grond, bewaar grondgesondheid in die boord en hou die mikroklimaat koeler in die somer.”

Daar word geen meer kunsmis breedvoerig toegedien in boorde op Môrester nie. Die bome kry almal jaarliks kompos en indien die grondontledings dit aandui, word aanvullende chemiese kunsmis by die boom toegedien voordat nuwe grondbedekking in die boord uitgesprei word. 

Buiten dat daar dus nie vog vir onkruid in die werksry is nie, word daar nie onnodig kunsmis in die werksry versprei wat as voedsel vir onkruid kan dien nie. 

Vir mnr. Recardo Vrey, bestuurder op die Arborlane-boerdery se plaas Weltevrede, is onkruidbekamping glad nie meer ’n probleem nie. 

“Ons gebruik redelik baie grondbedekking wat die onkruid onderdruk. Die feit dat ons met drupbesproeiing werk, beteken dat die beskikbaarheid van vog beperk is. As jy 500 mm weg van die boom se stam is, is dit baie droog. Daar is dus baie min mededinging vir die bome in die somer. Ons sal hoogstens twee maal per jaar ’n bossiekapper deur die boord stuur. As dit nodig is, sal ons dalk voor Kersfees ’n enkele onkruidbespuiting toedien, maar dit gebeur in min boorde.” 

Klop die somme?

Die praktyke wat op Môrester volg, bespaar hom minstens twee onkruidbespuitings per jaar. Maar maak dit finansieel sin?

As die somme gemaak word deur die koste van die grondbedekking slegs teen die besparing van die onkruidbespuitings af te skryf, gaan dit nie klop nie. 

Die grondbedekking is egter aangebring om vog in die grond te bewaar. Hierdie som is effens moeiliker om te maak. Sedert 1997, toe die eerste proef met grondbedekking op Môrester gemaak is, het waterverbruik van minstens 10 000 m3 per hektaar afgeneem tot 6 500 m3 per jaar. Dit is moeilik om ’n bedrag aan hierdie besparing te koppel. Dit is ook moeilik om ’n geldwaarde te koppel aan die beter gehalte van die vrugte vanweë verlaagde stres omdat die grondtemperatuur minder wissel.

Om die werklike voordeel te bepaal, moet die verhoogde inkomste weens beter gehalte vrugte en die besparing weens verminderde pompkoste ingereken word. Smit reken dit sal lank neem voordat voordele soos hierdie met dekgewasse onder die boom verkry sal word in ’n warm, droë gebied soos die Koue-Bokkeveld, omdat dit moeilik gaan wees om die dekgewasse die hele jaar aan die lewe te hou.

Navrae:
Rig navrae aan Riaan@morester.co.za.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.