Dié bedrag is hoeveel die afslaer Christie’s verwag ’n bottel Petrus 2000, ’n welbekende Merlot wat goed verouder, op ’n veiling kan behaal. Dit verhandel gewoonlik teen sowat $7 000 (R98 000).

Die spesifieke bottel is in Januarie vanjaar teruggebring aarde toe deur ’n Dragon-vragruimteskip van die Amerikaanse maatskappy SpaceX, nadat ’n kis daarvan 14 maande lank in die internasionale ruimtestasie gehou is.

’n Proepaneel van die Universiteit van Bordeaux in Frankryk het in Maart noukeurig probeer vasstel watter invloed dié ruimtereis op die wyn gehad het.

Luidens ’n verklaring deur Christie’s is dit vergelyk met ’n bottel van dieselfde wyn wat op aarde by ’n plaaslike Franse kelder opgeberg is. Die kenners was ná die proesessie oortuig dat die wyn die swaartekraglose reis goed deurstaan het. Dit het egter in aroma, kleur en smaak verskil van die bottel wyn wat op aarde opgeberg is.

Saam met die 12 bottels wyn is 320 wingerdstokkies ook ruimte toe gestuur. Aanvanklike studies wys dat dié stokkies vinniger gegroei het as hul eweknieë op aarde, al het dit minder lig en water ontvang.

Hierdie eksperimente vorm alles deel van uitgebreide navorsing oor die invloed wat gewigloosheid en ander aspekte van ruimtereise en veranderende omgewings op organiese materiaal het.

Die uiteindelike doel is om nuwe tegnologie te skep wat die landboubedryf kan ondersteun in die lig van klimaatsverandering op aarde.

Die geld wat verkry word vir die wyn wat deur Christie’s opgeveil word, sal vir verdere navorsing gebruik word.