Dit kan ’n risiko wees om ’n relatief vreemde gewas, soos draakvrugte, op groot skaal aan te plant. Daar is egter uitvoerpotensiaal vir Suid-Afrikaanse draakvrugte en dit kan help om die boerdery teen ’n onbestendige wisselkoers te verskans, sê mnr. CT van der Merwe, uitvoerende hoof van AL 3 Boerdery.

Die feit dat verbruikers wêreldwyd al hoe meer gesondheidsbewus word en draakvrugte met hul talle gesondheidsvoordele as superkos verklaar is, gee ’n mens ’n lekker invalshoek as dit by bemarking kom.

AL 3 het tans 10 ha onder draakvrugte by Waterpoort in Limpopo, ’n groot aanplanting vir Suid-Afrika. Die eerste plante is sowat vier jaar gelede gevestig. Van der Merwe weet van ’n aanplanting van 15 ha in KwaZulu-Natal, en dit is waarskynlik die grootste in die land. Wat die soeter kultivars betref, is AL 3 se aanplanting beslis een van die grootstes.

AL 3 het Waterpoort gekies omdat dit ’n rypvrye gebied is en omdat die water op die boerdery se grond by Dendron vir aartappelproduksie gespaar word.

Om doer agter die Soutpansberg te boer, moet jy egter jou oespraktyke en pakgeriewe by die hoë temperature kan aanpas. AL 3 pluk net tot 09:00, want daarna is dit te warm. Die vrugte word dan afgekoel sodat dit teen 16 °C verpak kan word.

Die koueketting moet tot by die uiteindelike afsetpunt volgehou word. Sonder ’n koueketting verkort draakvrugte se rakleeftyd met tot 50%. Dit beteken boere moet nogal skaalekonomie hê om die koelgeriewe te regverdig. Andersins moet hulle hul vrugte in een mandjie gooi om dit as ’n groep die moeite werd te maak.

Die opleistelsel is die duurste komponent van draakvrugte se vestiging, maar daar is verskillende opsies en maniere om dit op te lei, en boere kan dit effe goedkoper doen. Met die betonopleistelsels wat AL 3 gebruik, beraam Van der Merwe die vestigingskoste van boorde op sowat R400 000 per ha in die eerste jaar. Daarna kom die bemesting- en bestuurskoste by tot jy jou eerste oes afhaal.

Lede van die AL 3-span is, van links, mnre. CT van der Merwe (uitvoerende hoof), Pierre Welman (werkwinkel- en meganiese bestuurder), Ernest Rossouw (akkerboubestuurder) en Gert Ehlers (navorsing en ontwikkeling). FOTO’S: AL 3 BOERDERY

Van der Merwe sê die draakvrugte word soos ander boomgewasse hoofsaaklik in sy rustyd tussen oeste bemes. Daarvoor gebruik AL 3 baie kompos en bestuur NPK-vlakke na gelang van vierweeklikse blaarontledings.

Volgens hom kan jy in die meeste gevalle reeds op ’n kleinerige oes in die eerste jaar reken, en behoort jy teen jaar drie of vier gelyk te speel.

Die opbrengs hang van die kultivars en bestuurspraktyke af, maar 20 t/ha is volgens hom ’n konserwatiewe gemiddelde. Hy sê boere verdien tans R20-R50/kg vir hul vrugte na gelang van die gehalte.

Van der Merwe waarsku egter dat dit maklik is om die seisoenale koste van draakvrugproduksie te onderskat. Dit kan tot R150 000/ha beloop, want so min water as wat die plant nodig het, soveel arbeid verg dit. Daar moet voortdurend gesnoei word.

Daar is talle maniere om draakvrugplante op te lei. AL 3 Boer- dery gebruik doelgemaakte betonpriële. Dit is duurder, maar het ’n langer gebruiksduur as hout- en draadpriële.

SIEKTES EN PLAE

Blaaspootjies en stinkgoggas is die insekte wat boere die meeste pla. Met vanjaar se uiters nat toestande in party gebiede was daar ’n tipe antraknose wat vlekkies op die vrugte se skil veroorsaak het.

Om siektes, swamme en plae te bestuur, is moeilik, want daar is tans geen chemiese produkte vir gebruik by draakvrugte in Suid-Afrika geregistreer nie. “Ons gebruik biologiese middels, maar ons sal produkte geregistreer moet kry,” sê Van der Merwe.

Hy meen nie ’n streng biologiese benadering gaan ’n langtermynoplossing vir draakvrugboere wees nie, maar eerder natuurvriendelike landboupraktyke waar jy “sagter” chemiese middels gebruik en in harmonie met die natuur boer.

“Ons plant byvoorbeeld bokwiet saam met die draakvrugte om roofinsekte te lok, wat help om die druk van die blaaspootjie te verminder. Ek dink dit is hoe jy die ding regkry. As jy egter ’n swamprobleem het, spuit jy koper, solank dit nie ’n harde koper is nie, maar ’n sagte vorm wat geen weerhoudingstyd het en wat geen nadelige uitwerking op mense het nie.”

Draakvrugte blom saans wanneer die dae op hul langste is. Op sommige plekke is dit nodig om die dae te “verleng” deur saans ligte in boorde te laat brand. Vlermuise en motte is die plant se oorspronklike bestuiwers, maar op Waterpoort bly blomme soggens tot sowat 10:00 oop en word dit suksesvol deur bye bestuif.

PRODUSENTEVERENIGING

Om produkte geregistreer te kry, is dus ’n voorrangsaak. Dit is hoekom AL 3 en ander boere wat hul kennis onderling op ’n draakvrug-WhatsApp-groep uitruil, graag ’n tipe kwekersvereniging op die been wil bring. Dit is reeds verlede jaar in die vooruitsig gestel, maar Covid-19 het die boere se planne omver gewerp.

“Ons het Subtrop genader, wat kans sien om ons te help. In hierdie stadium is ons finansies egter nie van so ’n aard dat ons jong bedryf lidmaatskap van dié organisasie sal kan bekostig nie. Op lang termyn sal dit ideaal wees om ’n produsente-organisasie te hê wat onder die Subtrop-sambreel val.”

Dit sal draakvrugboere ’n goed gestruktureerde organisasie bied wat kan help met onderhandelinge vir marktoegang tot uitvoerbestemmings. Daar is ook baie werk wat op eie bodem gedoen moet word. Draakvrugte is eintlik nog ’n vreemde vrug vir Suid-Afrikaanse verbruikers, maar met reusepotensiaal. Verbruikersopleiding is dus noodsaaklik.

Vir die beste rakleeftyd moet draakvrugte nie in die hitte van die dag verpak word nie. Dit moet afgekoel word om teen 16 °C verpak te word, en dan moet die koueketting volgehou word totdat die verbruiker dit koop. Sonder hierdie koueketting kan die vrug se rakleeftyd tot 50% korter wees.

Daar word deesdae onderskeid getref tussen smaaklike en smaaklose kultivars. Dit beteken nie die sogenoemde smaaklose kultivars is sleg nie, hulle is net nie so soet soos die nuwer, smaakliker soorte nie. Van die kultivars wat bekend is om smaaklike vrugte kan soms ook nie só soet wees nie. Dit het alles te make met die Brix-syfer. AL 3 probeer om net vrugte met ’n suikerinhoud van 15 °Brix of meer vir die mark te verpak.

Hoe gemaak met die vrugte wat onder hierdie drempelwaarde val? Dit is beslis ’n probleem, sê Van der Merwe. Daarom ondersoek baie boere maniere om waarde tot vrugte van laer gehalte te voeg. Alles van roomys tot vrugtesap en lekkergoed kan van draakvrugte gemaak word. Volgens hom kan jy selfs vlugtige olies uit die plant se blare distilleer.

Hoewel draakvrugboorde eers van die derde tot vierde jaar ’n gelykspeelpunt bereik, kan boere al in hul eerste jaar ná vestiging op ’n kleinerige oes hoop.

TROTS SUID-AFRIKAANS

AL 3 sal graag ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse handelsmerk wil sien wat vrugte van goeie gehalte van Suid-Afrikaanse oorsprong op die internasionale mark verteenwoordig.

Van der Merwe meen só ’n handelsmerk kan vir alle Suid-Afrikaanse boere wat bereid is om aan die handelsmerk se gehaltestandaarde en vereistes te voldoen, ’n voet in die deur gee op internasionale markte.

“Die draakvrugte wat tans deur Suid-Afrika uitgevoer word, is reeds van baie goeie gehalte. Dit sal dus maklik wees om die gehaltereputasie aan ’n Trots Suid-Afrikaans handelsmerk te koppel. Ek dink ons is reeds op ’n hoër standaard as ons grootste mede- dinger, Viëtnam.”

Hoewel hy nie meen die Verre-Ooste gaan ooit ’n primêre bestemming vir Suid-Afrikaanse draakvrugte word nie, voorsien Van der Merwe die moontlikheid om vrugte aan lande soos Rusland en selfs Indië te verskaf, met eilande nader aan Suid-Afrika, soos Mauritius, die Seychelle en die Maldive, as belangrike afsetpunte.

Die soort draakvrugte wat AL 3 verbou, het pienkrooi vleis en ’n hoër suikerinhoud.

Suid-Afrika voer tans sy draakvrugte hoofsaaklik na Europa en Brittanje uit. Die volumes is nog klein en in dié stadium beskik min boere oor die geriewe om ’n koueketting van die plaas tot by die hawens te handhaaf. AL 3 Boerdery is een van net drie sulke boerderye waarvan Van der Merwe weet.

AL 3 het ’n pakhuis met koelgeriewe by Waterpoort spesifiek vir draakvrugte opgerig, en is een van twee in Suid-Afrika wat al klein hoeveelhede vrugte uitgevoer het. Die meeste van AL 3 se draakvrugte word aan die plaaslike varsproduktemarkte gelewer.

“Ek dink nie enige boer verbou in dié stadium draakvrugte vir die geld nie. Dit gaan eerder oor die opwinding oor die gewas en die opbou na iets waarvoor ons potensiaal sien,” sê Van der Merwe.

NAVRAE: Me. Stephanie vd Merwe, e-pos: stephanie@al3.co.za