Mnr. Matome Ramakgopa, hoofbestuurder van die internasionale saadmaatskappy Enza Zaden in Suid-Afrika, sê groenteboere moet hul ontwikkeling voortdurend by verbruikersvoorkeure aanpas.

“In die verlede moes verbruikers verlief neem met die produkte wat die kleinhandelaar te koop aangebied het,” sê hy. “Deesdae dring die verbruiker daarop aan om te weet hoe die produkte verbou word en of die saadmaatskappy by die jongste voorkeurneigings aanpas.”

Verbruikersvoorkeure word ook bepaal deur die smaak, geur en reuk van die produkte.

In die geval van tamaties val die voorkeur eerder op kleiner vrugte wat as peuselhappies verorber kan word, as die groot vrugte wat vroeër in aanvraag was.

Volgens Ramakgopa het die vraag na die tradisionele kropslaai ook plek gemaak vir die verwerkte blare wat vinniger gebruik kan word. In die geval van pampoen konsentreer saadkwekers deesdae op pampoensaad wat produkte lewer wat beter in blokkievorm verwerk kan word as die groot pampoene. “Van die pampoenkultivars met ’n hoë suikerinhoud het nie ’n lang rakleeftyd in hul verwerkte vorm nie, aangesien dit gouer verbruin.”

Hy sê verbruikers is meer ingestel op fynproewer-eetpatrone wat in die geval van soetrissies die vraag na peuselgroottes laai swaai. “Die verbruiker eet nie net meer om versadig te raak nie, maar dit gaan oor die smaaksensasie.”

Die neiging ten opsigte van komkommers is ’n vraag na gladder en groener produkte met ’n langer rakleeftyd. In die geval van uiesaad is die ontwikkeling daarvan toegespits op produkte wat die meganiese oesproses beter kan weerstaan.