Verwagtinge in die bedryf wissel van ’n oes soortgelyk as 2020 s’n of effens groter. Die voorlopige oesskatting van die Nasionale Oesskattingskomitee is 57 900 ton vergeleke met 50 080 ton ver- lede jaar.

Mnr. Lourens de Kock, grondboontjieboer van die distrik Stella in Noordwes, wat ook ’n verwerkingsaanleg, Roba Foods, het, sê tot dusver lyk dit of hulle 18% minder grondbone gaan inkry as einde Maart se skattings.

“Om ’n skatting vir onsself te kry, trek ons fisiek 1 miljoen plante uit, tel die pitte aan die plant en werk op ’n gemiddelde pitgewig van 0,35 g. Dan verminder ons gewoonlik die totaal met 30% om voorsiening te maak vir oesverliese.

Vanjaar se skattings per hektaar is baie dieselfde as verlede jaar en by sommige produsente selfs baie hoog.” Sowat 70% van die jaarlikse grondboonoes in Suid-Afrika kom uit Noordwes.

VERHOGING

De Kock voorspel die oes kan soortgelyk of dalk minder as in 2020 wees. Mnr. Alfons Visser, eienaar van SA Peanuts, nog ’n grondboonkoper in Noordwes, sê hulle ervaar ’n verhoging van sowat 30% in opbrengs in dié provinsie.

In die Vrystaat is opbrengste by onder meer Hoopstad, Bultfontein, Bothaville en Viljoenskroon ietwat laer. “Die gemiddelde gehalte van dit wat ons tot dusver ingekry het, is 10% hoër as verlede jaar.”

Benewens Noordwes kom sowat 20% van Suid-Afrika se totale grondboonopbrengs uit die Vrystaat en 5% uit die Vaalharts-besproeiingskema in die Noord-Kaap, op die grens met Noordwes.

Mnr. Roux Snyman, ’n grondboonbemarker van die aankoper Peanut Worx, sê die meeste boere het goed gedoen, maar hier en daar was opbrengste laer. “Ons sien dit veral in gebiede wat te veel reën gehad het.”

DROË GROND

De Kock en Snyman sê droë grond tydens die uithaalproses het van die oeste benadeel. “Daar was goeie reënval deur die groeitydperk, maar toestande was droër tydens die uithaaltyd.

As die grond te hard is, veroorsaak dit dat van die peule aan die plante in die grond agterbly wanneer dit uitgehaal word. Van die boere het daarmee gesukkel,” sê De Kock.

Volgens Snyman is ’n kenmerk van vanjaar se oes wisselende graderings vir dieselfde land. “Ons het byvoorbeeld ’n boer wat op dieselfde land graderings van 85% en 75% gekry het, en dan daal dit sommer tot 65%.

Dit lyk of dit weens versuipkolle was waar die water te lank gestaan het.” Visser sê hulle het ’n nuwe kultivar, GP099, wat van Amerika ingevoer word, wat die afgelope paar jaar uitstekend presteer het, en veral ook vanjaar.

“Die plante het minder blaarvlekprobleme gehad en ook goed op al die reën gereageer. Dit het ook goed presteer in gebiede waar besproei is. Dit wil voorkom of sy vegetatiewe groei minder en sy reproduktiewe groei beter is in vergelyking met ouer LNR-kultivars.”

Dit is volgens hom egter nog te vroeg om te sê hoe die kultivar in droë jare sal presteer. De Kock sê hulle het ervaar die pitinhoud was vanjaar beter as in 2020, maar kleiner pitte is gelewer weens al die water, en dan daal die gehalte met 5% tot 10%.