Volgens die provinsiale Staatskoerant word vlak 6-waterbeperkings vir Kaapstad vanaf 1 Januarie 2018 ingestel. Dié beperkings vereis onder meer dat alle landbouverbruikers hul maandelikse verbruik van munisipale drinkwater met 60% moet verlaag.

Mnr. De Wet Viljoen, ondervoorsitter van die Pinotage-vereniging, sê hulle verwag dat verdere waterbeperkings volgende jaar ingestel sal word. “Ons is baie bekommerd, aangesien kelders in Februarie en Maart begin wyn maak, en ons waterverbruik dan tradisioneel styg.”

Viljoen sê hoewel hulle kyk na alternatiewe oplossings, soos om boorgate te laat boor, is die water van boorgate nie noodwendig geskik vir wynmaak nie. "As die vlakke van minerale in die water te hoog is, sal dit nie noodwendig geskik wees om wyn mee te maak nie." Hy sê boorgatwater kan wel behandel word, maar dit sal nie noodwendig vir die maak van wyn gebruik kan word nie.

Erge warm toestande

Die hoë temperature wat vandeesweek oor dele van die Wes- en Noord-Kaap aangeteken is, veroorsaak verdere kommer. Viljoen sê hoewel dit goed is vir die groei van die druiwe en wingerde, het dit ’n impak op die reeds beperkte watervoorrade. “Ons het nog genoeg ondergrondse vog, maar die verdamping van waterbronne is baie hoog as dit so warm is.”

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê die toestande kan ook ’n impak hê op vrugteboerderye wat reeds onder druk is weens die erge droogte. “Dit is ook nie goed vir weiding nie, want die gras wat daar wel is, brand dood.”

Tot wanneer?

Temperature so hoog as 46,2 °C is op Donderdag 7 Desember by Vredendal in die Wes-Kaap gemeet, met ’n temperatuur van 42 °C wat vir Vrydag 8 Desember by onder meer Worcester voorspel is. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dié hoë temperature sal net tot Vrydag voortduur. “Ons sien ’n hoëdrukstelsel wat van Saterdag af inbeweeg en afkoeling tot gevolg sal hê,” sê me. Dupuo Tawana, weervoorspeller.

Dié stelsel sal ook moontlik oor die naweek reën in die suidelike dele van die Wes-Kaap veroorsaak. Volgens Tawana word reën Vrydag en Saterdag oor die oostelike dele van die land verwag. Enkele donderbuie word Saterdag oor die oostelike dele van die Oos-Kaap verwag, waarna die reën vir eers sal opklaar.

Die weerdiens se voorspellings dui nie enige noemenswaardige reënval oor die volgende sewe dae vir die westelike en sentrale dele van die land aan nie.