Soggens hier van 03:30 se kant af is middels ge- meng, pompe nagegaan en helikopters volgemaak. Skuins ná 05:00 was vlieëniers gereed om op te styg om vernietigende vrugtevlieë te gaan beveg in die grootste behandelingsprojek in sy soort in Afrika.

Gebiedswye geïntegreerde plaagbestrydingsprogramme word wêreldwyd aanvaar as ’n doeltreffende en billike manier om plae, soos die vernietigende Mediterreense vrugtevlieg (Ceratitis capitata), te bekamp.

Die tafeldruifbedryf het in die 2012-’13- produksiejaar die eerste keer lugbespattings oor 2 646 ha in die Noord-Kaap onderneem. Dit het intussen gegroei tot sowat 17 495 ha en die bedryf het oudergewoonte in November en Desember vier lugbespattings gedoen.

In Januarie vanjaar kon die gebied se rosyntjieboere hulle vir die eerste keer nadoen met twee bespattings, gefinansier deur ’n nuwe bedryfsheffing.

Wat dit meer besonders maak, is dat Raisins SA en FruitFly Africa danksy ’n skenking deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ook die gebied se wyndruiwe kon bespat.

Altesaam 53 000 ha druiwe is gevolglik in die Benede-Oranje bespat – heelwat meer as Tzaneen se 45 000 ha, die Hexrivier se 40 500 ha en Kirkwood se 39 000 ha.

“Ons wil graag ons bedryf bemark as ’n gebiedswye bestuursgebied waar ons vrugtevlieë vasvat en vroegtydig optree.

Die idee is selfs om ’n bord op te rig waar jy die gebied binnery om mense in te lig oor ons gebiedswye strategie,” sê mnr. Stefan Jordaan, teg- niese bestuurder by Raisins SA, wat saam met ander die afgelope drie jaar verantwoordelik was om meer as 700 droogdruifboere oor 14 000 ha te oortuig van die waarde van só ’n inisiatief.

Een van die lokvalle waarmee vrugtevliegtellings gemeet word. Hulle gebruik deesdae ook Keyface-tegnologie om tellings outomaties op te laai.
Die rosyntjiebedryf gaan weekliks 210 lokvalle na om vrugtevliegtellings te monitor. Dit strek van die gebied tussen Groblershoop en Augrabies — sowat 350 km al langs die rivier af.

Ekonomiese verliese

Die Mediterreense vrugtevlieg, ’n fitosanitêre plaag, rig groot skade aan druiwe en wingerde aan en hou ook ’n bedreiging vir marktoegang in. Die data oor die rosyntjiebedryf se verliese is nog in beginfase.

Mnr. Ferdie Botha, hoofbestuurder van Raisins SA, meen teen ’n beraamde produksieskade van 0,5%, oftewel 400 ton op ’n totale oes van 80 000 ton, beloop die verlies by plaashekke sowat R6,4 miljoen (teen ’n rosyntjieprys van gemiddeld R16 per kg).

Teen 5% produksieverliese is rosyntjieverpakkers en boere bykans R107 miljoen aan inkomste kwyt. Studies het getoon dít is die punt waar die koste van vier lugbespattings gelyk sal wees aan die ekonomiese skade.

As hoër produksieverliese met vier lugbespattings voorkom word, geniet die bedryf ’n groot ekonomiese voordeel. “Deur slegs 1% se verdere produksieverliese te voorkom, kan ekonomiese skade van R21,3 miljoen teen dieselfde prys gekeer word,” sê Botha.

“Die moeilikheid met vrugtevlieë is dat daar dikwels ook sekondêre skade plaasvind. Die vrugtevlieg maak ’n wond op die druiwe, maar op sekondêre vlak kan ander swamsiektes die vrugte beïnvloed.

As ons byvoorbeeld Bactocera dorsalis opmerk, is die gebied dadelik in kwarantyn, ongeag of dit op droog-, wyn- of tafeldruiwe gevind is. Vanuit ’n bemarkingsoogpunt is dit dus ’n groot, groot probleem.

y kan amper nie eers ’n waarde daaraan koppel nie.” FruitFly Africa is destyds deur die sagte- vrugte-, tafeldruif-, inmaakvrugte- en droogdruiwebedryf op die been gebring om vrugtevliegbevolkings op ’n gebiedswye grondslag te beheer en te bekamp.

Gereelde monitering

Mnr. Wiebe Obbes, koördineerder van FruitFly Africa se kantoor in die Benede-Oranje, sê hulle hou die vrugtevliegtellings by tafel- en droogdruiwe dwarsdeur die jaar dop.

Vir die rosyntjieprojek word ongeveer 210 lokvalle tussen Groblershoop en Augrabies weekliks deur vyf kontroleurs nagegaan. ’n Vrugtevliegwyfie kan binne ses maande ’n aanwas van 22 miljoen hê.

“Boere meen as hulle net ’n paar vlieë in die lokvalle kry, is daar nie ’n probleem nie. Die vlieë wat jy vang, maak egter net 5% van die totale bevolking uit.” Die inligting uit die lokvalle word aan Obbes gestuur, wat weer die boere ingelig hou.

“Só kan hulle sien waar daar uitskieters op hul grond is sodat hulle dadelik kan reageer.” Hulle is tans ook besig om Keyfase in werking te stel.

Dit is ’n selfoontoepassing waarmee die inligting vinniger ingesamel en deurgestuur kan word. Aangesien die lugbespattings nog ’n nuutjie in die rosyntjiebedryf is, maak hulle staat op tafeldruiwe se historiese waardes en grafieke, wat sedert 2017 bygehou word.

“Sodra die kurwe opwaarts beweeg, probeer ons dit vang, want dit is makliker om ’n kleiner bevolking te bekamp as om teen ’n oormag te probeer baklei,” sê Obbes. Gewoonlik bespat die tafeldruifbedryf net voor oestyd en die rosyntjiebedryf het vanjaar ’n paar weke daarna bespat.

Organiese middel

Hulle bespat met GF-120, ’n organiese middel sonder ’n onthoudingstydperk. Dit is spesifiek ontwikkel vir die bestryding van vlieë en het nie ’n invloed op ander insekte, soos biologiese roofinsekte of bye nie.

Dit het ’n proteïenbasis wat as lokmiddel vir die vlieë dien, en spinosad as die aktiewe bestanddeel wat die vlieë laat vrek.

Vir lugtoediening word een liter GF-120 met een liter water gemeng en vanaf ’n hoogte van 30-40 m gespuit. “Kalibrasie is baie belangrik voor ons begin spat.

Ons span lang linte en laat die helikopter ’n keer of wat daaroor vlieg om die druppelgrootte en -verspreiding na te gaan.” Hulle volg ook streng riglyne oor bespattingstye.

“Ons hou op bespat wanneer die temperatuur 30 °C of die windspoed 15 km per uur bereik,” sê Jordaan. Hoewel die produketiket aanbeveel dat G-120 weekliks toegedien word as daar probleme met vrugtevlieë is, is dit nie tans moontlik met lugbespatting nie.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad, wat die heffing vir die gebiedswye bekamping moes goedkeur, het vir die eerste jaar twee bespattings, vanjaar drie en in 2022 en 2023 vier bespattings elk bekragtig.

Dit is belangrik dat die hele reeks voltooi word, om elke nuwe volwasse geslag “pak te gee”.

“Ek reken ons sal by vier lugbespattings volstaan tot ons beter data oor die skade het, maar ek meen ook met goeie boordsanitasie en -praktyke sal jy in elk geval die behandelings mettertyd kan verminder.

Van wêreldstandaard

Die projek word gefinansier deur ’n statutêre tarief van 7c/kg wat op gelewerde rosyne by verpakkers gehef word. Dit het die twee bespattings en monitering gedek.

“Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het toe 20 000 liter GF-120 geskenk vir die Oranjeriviergebied, wat beteken het ons kon wyndruiwe ook bespat en die hele gebied bedek,” sê Jordaan.

Ná afloop van die produksiejaar was boere vol vrae oor die sukses van die bespattings. “Hoe laer die vrugtevliegbevolking is, hoe beter is dit natuurlik. Ons het vanjaar baie reën gehad. Die tellings was dus hoër as in die vorige jaar.

As ons egter nié bespat het nie, sou dit nóg hoër gewees het.” Obbes sê hul ideaal is om die gebied vry van vrugtevlieë te verklaar, maar dit sal onder meer algehele boordsanitasie van ál die bedrywe in die omgewing verg.

Die granaat-, dadel- en pekanneutbedryf sal ook aan gebiedswye voorkomingsprogramme moet deelneem, en dit sal gesinchroniseer moet word met elke bedryf se spitsproduksietyd.

“Dán kan jy dit in ’n groot mate bekamp.” Jordaan sê Suid-Afrika se vrugtevliegbekampingsprogramme vergelyk goed met dié van ander lande. “Ons het beslis ’n probleem, maar ons is op standaard wat bekamping betref.”

Vlieëniers moet aan spesiale maatreëls voldoen om lugbespuiting vir die landboubedryf te doen. Teen die Oranjerivier word die werk op ’n tendergrondslag aan maatskappye toegeken.
Reg vir aksie. Van links is mnre. André Oberholzer van Oberholzer en Seuns-boerdery, Willem van Aarde en Pieter du Plessis, albei van die Karsten-boerdery, Nando Baard, bestuurder van FruitFly Africa, Ferdie Botha van Raisins SA, Wiebe Obbes van FruitFly Africa en Stefan Jordaan van Raisins SA.
Kalibrasie is uiters belangrik om die regte druppelgrootte en -verspreiding te verseker.


Navrae: Mnr. Stefan Jordaan. e-pos: stefanj@raisinsa.co.za, 054 495 0283.



Kyk na higiëne in blokke

Die Oranjerivierstreek se vrugtevliegtellings het vroeg in Mei ’n hoogtepunt bereik en daarna begin daal namate die koue ingetree het, sê mnr. Wiebe Obbes, gebiedsbestuurder by FruitFly Africa.

“As jy in die wingerd rondbeweeg, sien jy dikwels einde Mei nog groot natrosse in die blokke, wat kos is vir die vlieë, al is die seisoen verby. Mense dink vrugtevlieë vrek in die winter, maar eintlik gaan soek hulle net ’n alternatiewe voedingsbron, soos in huistuine.”

Mnr. Stefan Jordaan van Raisins SA sê die ná-oesbevolking van vrugtevlieë kan opbou, wat beteken dat tellings in die volgende produksieseisoen sommer baie hoog begin, veral as die winter nie koud genoeg was nie.

“Dit is hoekom boordhigiëne so belangrik is. Verwyder die natrossies en vrot vrugte in huistuine.” Nog gevaarpunte waar vrugtevlieg- bevolkings gedy, is fabriekaflope, verdampingspanne en stilstaande water. “Ons grootste taak is om boere van die risiko’s bewus te maak.”

Kan ontwrigting van paring help?

Die steriele insektegniek (SIT), waarvolgens groot getalle steriele mannetjies in ’n gebied losgelaat word om met die wyfies te paar en ’n dalende nageslag tot gevolg het, is in die vooruitsig vir die Benede-Oranje- riviergebied.

“SIT kan net toegepas word as ’n gebied se bevolking in bedwang is, anders gaan die steriele vlieë nie ’n impak maak nie. Ons moet dus eers gebiedswye bekamping onder die knie kry voor ons SIT oorweeg,” sê mnr. Stefan Jordaan van Raisins SA.

SIT, ’n natuurvriendelike bestuursmetode, word met groot sukses by onder meer Stellenbosch, die Paarl en Ceres toegepas. “Ons beoog tans ’n lokaal waar ons steriele papies uit die Boland kan uitbroei om hier te gebruik.

SIT is ’n groot droom vir ons. As ons dit kan regkry, sal ons regtig vordering kan maak.”