Die sitrusbedryf sal swaar op handelsmerke moet staatmaak om verbruikersver- troue in te boesem en die vraag aan te wakker na die groot volumes sagtesitrus wat na verwagting binnekort na die mark gaan vloei. Só meen mnr. Etienne Rabe, visevoorsitter van Wonderful, die grootste sitrusprodusent in Amerika.

Suid-Afrika produseer tans sowat 200 000 ton mandaryne per jaar. Na verwagting sal dit tot 750 000 ton styg. Altesaam 500 000 ton word jaarliks in die Suidelike Halfrond geoes, en vooruitskatting toon dit kan vyfvoudig groei.

Op plaaslike front is dit Clemengold wat sy merk maak as voorloperhandelsmerk. Foto: verskaf

“Die mandarynbedryf het sedert 2009 met rasse skrede gegroei, maar ons is bekommerd dat 64% van die mandarynaanplantings jonger as vyf jaar oud is. Daar is dus ’n berg vrugte wat kom – nie net van Suid-Afrika nie, maar oral uit die Suidelike Halfrond,” het hy op die tiende sitrusnavorsingsimposium in die Drakensberg gesê.

“Die vraag is waarheen ons met hierdie tipe produksievlakke gaan. Daar staan reeds sowat 30 000 ha mandaryne in Kalifornië en hulle plant nog vreeslik baie aan. Binnekort sal hulle 1 miljoen ton mandaryne tussen laat Oktober en vroeg Mei lewer. Die afgelope paar jaar het mandarynverbruik in Amerika met 11% gegroei, maar dit sal selfs vinniger moet groei om die volumes te absorbeer.”

Wonderful boer op duisende hektaar in Kalifornië, Mexiko en Texas. Rabe was betrokke by die ontwikkeling van sowel die Suid-Afrikaanse as die Kaliforniese mandarynbedryf. Volgens hom is dit geen geringe taak om die soort verbruik wat nodig is, aan te wakker nie. Veral lemoene staan tans markaandeel aan sagtesitrus af.

“Wat peuselitems betref, vaar mandaryne uitstekend. Dit vaar beter as bessies en ander vrugte wat maklik is om te eet. Ons hoop dit duur voort, maar dit sal ook ander vrugte moet uitstoot.”

Cuties en Halos is twee van die bekendste sagtesitrushandelsmerke ter wêreld. Altesaam 86% van mandaryne wat in Amerika verkoop word, word onder dié vaandel verpak. Cuties is in 2004 gestig en Halos in 2013.

BOESEM VERTROUE IN

Handelsmerke sal noodsaaklik wees om mense aan te moedig om meer sagtesitrus te eet. Twee groot handelsmerke in Amerika – Wonderful Halos en California Cuties – maak sowat 86% van die totale mandarynverkope uit.

“Plaaslik is dit die Clemengold-handelsmerk wat sy merk maak. Jy moet verbruikers se vertroue bou in wat jy produseer en aanbied. Gehalte is alles.”

Capespan het ook onlangs ’n nuwe handelsmerk – Gems – gestig, wat nog in sy kinderskoene staan. Volgens Rabe bestee Wonderful elke jaar $25-30 miljoen aan bemarking op televisie, in koerante en by verkoopspunte.

“Dit kos baie, maar die toekoms van ’n handelsmerk hang af van of jy kan voldoen aan die verwagtinge wat jy skep. Jou produk moet pitloos wees, maklik afskil en oor goeie eetgehalte beskik, anders gaan verbruikers nie terugkom om weer te koop nie. Ons navorsing toon handelsmerkprodukte verkoop twee keer vinniger en teen 20% meer as produkte sonder handelsmerke.”

Die toekoms van sitrus is pitlose kultivars wat maklik geskil kan word, en keer op keer uitsonderlike eetgehalte bied.

BUITESEISOENMARK GROEI NIE

Rabe het boere ook gemaan om hul verwagtinge oor uitvoermarkte en -pryse te temper. Chili het verlede jaar en vanjaar onder- skeidelik 42% en 50% meer vrugte mark toe gestuur.

“Dis nie volumes wat die mark sommerso gaan aanvaar nie. Ontwrigting gaan plaasvind … Die somerprys is 25% hoër as die winterprys, wat groei sal laat afneem. Jy moet supermarkprogramme hê en dit gaan jou niks help om sonder ’n plan te wees nie.”

Hy reken dit is te simplisties om te verwag dat dieselfde hoeveelhede mandaryne in die Amerikaanse somer as in die winter verbruik gaan word.

“Daar is baie mededingende somerprodukte en dis ’n vakansietyd waartydens mense eerder McDonald’s eet as om aan gesonde kos te dink. Die hoër prys help ook nie om die vrugte te laat verkoop nie.” Volgens hom verkoop sitrus goed teen $5,99 vir ’n vyfpond-sakkie. Verkope neem af teen $6,99, en teen $7,99 “is daar regtig moeilikheid”.

Ingevoerde mandaryne kos in die somer $7,99-$8,99 in Amerika. ’n Ander probleem is dat daar nie ’n eweredige aanbod van mandaryne regdeur die somer is nie.

“Dis een van die probleme wat ek vir Nadorcotts uit die Suidelike Halfrond voorsien, want dit word alles aan die einde van die produksiejaar bemark. Dit help ook nie dat daar nie ’n oorheersende handelsmerk is nie. Daar is dus geen gesamentlike bemarkingsbegroting nie.

“Tans is verbruik in die Amerikaanse buiteseisoen maar 25-30% van die hoeveelheid mandaryne wat in die winter geëet word.”

Rabe reken dis ietwat vergesog om te dink dit kan tot 50% opgestoot word sonder laer pryse, bewusmaking, bestendige gehalte en handelsmerke wat verbruikersvertroue kan inboesem. “Dis onwaarskynlik dat die buiteseisoenmark in die wêreld sal groei teen die vlakke wat nodig is om by die produksie by te hou,” het Rabe gesê.

Mnr. Etienne Rabe

NUWE KULTIVARS

Die aanslag van kultivarmaatskappye gaan sake ook nie makliker maak vir die bedryf nie. Hy meen bloedmandaryne, likopeentipe mandaryne, lemoene wat maklik afskil en pomelo’s sal waarskynlik die nuwe baanbrekers wees.

“Nuwe aanbiedinge van puik kultivars gaan waarskynlik op die toneel verskyn. Daar is baie teelsentrums reg oor die wêreld wat heelwat nuwe kultivars gaan bekend stel. Waar hulle sal inpas, weet ek nie. Maar dit kan nie enkele, alleenstaande kultivars wees nie, dit sal in ’n program moet inpas. Dit kan ook tot verbruikersverwarring lei, maar die nuwe kultivars sal bes moontlik nie toevoegings wees nie, maar eerder bestaande seleksies vervang.”

Só het sagtesitrus rockster-status gekry

In die 1960’s was die sitrusbedryf maar beperk wat betref die aantal kultivars tot sy beskikking, maar teen die 1970’s het ’n paar betrokkenes, veral mense wat destyds by Outspan gewerk het, ’n belangstelling in nuwe kultivars begin kweek. Suid-Afrika was een van die eerste lande wat die nuwe kultivars wat maklik afskil, aangegryp het — tot 15 jaar voor Kalifornië.

Die eerste satsuma-tipes is vroeg in die 1970’s ingebring, en dit was basies die begin van proewe met kultivars wat maklik afskil. Vroeg in die 1980’s is ’n fondasieblok geplant en tot in die 1990’s het mense gewoeker om nuwe kultivars te identifiseer en in te voer. Kultivarmaatskappye het sedert die middel van die 1990’s hul deure oopgemaak.

“In 2001 het laat mandaryne van ’n goeie gehalte wat ook geskik was vir die warm, noordelike gebiede, ingekom,” het mnr. Etienne Rabe gesê. Hy sê van ’n rits mandaryne wat in ’n artikel in die vroeë 1980’s beskryf is, was dit basies net clementines wat die toets van die tyd deurstaan het.

“Mense sal nie eens die ander kultivars onthou nie!” Dis interessant om te sien hoe die aanplantings verloop het. Ná aanvanklike goeie groei was daar ’n verlangsaming vroeg in die 2000’s, maar sedert 2009 het groei die hoogte in geskiet.

“Daar is glo 28 miljoen boompies in dié tyd voorsien, wat beteken Suid-Afrika moes sowat 40 000 ha mandaryne gehad het. Maar die bedryf was dinamies en mense het goed uitgehaal wat nie gewerk het nie.

“Die satsuma-tipes het baie goed begin in die 1980’s en tans is die latere satsumas weer gewild. Die clementinebedryf het in die 1980’s begin, maar teen die einde van die 1990’s hard geval. Nou is daar weer ’n vraag danksy nuwe seleksies wat vroeër gepluk word. Nova was op en af. Maar dit was Nadorcott en verwante kultivars wat eintlik vir die groei verantwoordelik was omdat dit so ’n fantastiese kultivar is.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.