Drie museumklaswenners (wyne wat tien jaar of ouer is) is ook aangekondig.

Die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie was destyds die voorloper vir kultivarkompetisies in Suid-Afrika en het sedertdien baie deure vir Suid-Afrika se inheemse kultivar oopgemaak.

Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-assosiasie, sê die gehalte en verkoopprys van Pinotage het oor die afgelope paar jaar aansienlik verbeter.

“Dit het ontwikkel van ’n alledaagse drinkwyn tot ’n wêreldklaswyn wat as Suid-Afrika se troefkaart beskou kan word. Die hoër pryse beteken wynboere kry meer in die sak. Dan kan hulle hul plaaswerkers, die mense wat van 06:00 tot 18:00 in die wingerd staan, beter betaal.”

Pinotage verkoop ook goed – plaaslik en oorsee. Sowat 24 miljoen liter word van die hand gesit. “Die afgelope vyf jaar het Pinotage-verkope op die plaaslike mark met 73% gegroei,” sê Truter.
 

Die tiental wyne wat koning gekraai het, is Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016, Beyerskloof Diesel Pinotage 2015, Diemersdal Pinotage Reserve 2017, Fairview Primo Pinotage 2016, Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016, Kaapzicht Steytler Pinotage 2015, Kanonkop Pinotage 2013, Lyngrove Platinum Pinotage 2016, Môreson The Widow Maker Pinotage 2015 en Rijk’s Reserve Pinotage 2014.

Die 2018 Absa Top-10 Pinotage-wenners. Foto: Verskaf

Vanjaar is punte die eerste keer aan wyne toegeken sodat deelnemers hulself teen die wenners en die gemiddelde kan meet. “Dis net nog ’n manier vir wynmakers om meer te leer en Pinotage te bevorder,” sê Truter.

Dit was ook die tweede keer dat wyne in die museumklas beoordeel is. Kanonkop Pinotage 2006, Neethlingshof Lord Neethling Pinotage 2003 en Rijk’s Private Cellar Pinotage 2008 het met die louere weggestap.

 “Ons wynmakers is beslis op die regte koers om Pinotage selfs gewilder te maak,” sê Truter. “Hulle is in voeling met hul terroir. Hulle weet waar hulle vandaan kom, hulle weet wat om hulle aangaan, en hulle is nie bang om hul grond en klimaat in die wyne te wys nie.”