Dit volg nadat dr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid, Sondag aangekondig het dat die bron van die ergste uitbreking van listeriose tot nog toe sy oorsprong by vleisverwerkingsaanlegte in Polokwane en Germiston het. Luidens ’n verklaring het Hortgro dit weer beklemtoon dat daar geen verband tussen vars sagtevrugte en die listeriose-uitbreking bestaan nie.

Mnr. Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte by Hortgro, sê: “Ons produkte is nog altyd volgens streng, internasionaal erkende voedselveiligheidsregulasies- en protokolle geoes en verpak. ’n Onlangse opname onder ons lede en pakhuise wat produkte getoets het, het dit bevestig.”

Die sagtevrugtebedryf neem voedselveiligheid baie ernstig op, sê Du Preez. Sedert die aanvang van die listeriose-uitbreking het Hortgro pakhuise en produsente aangemoedig om ekstra voorsorgmaatreëls te tref. Een daarvan is onder meer om meer gereeld toetse op vars vrugte te doen. Tot dusver is geen listeriose op sagtevrugte gevind nie.

“Volgens ons kennis is listeriose nog nooit op vars Suid-Afrikaanse steen- of kernvrugte gevind nie. Suid-Afrika het ’n uitmuntende reputasie as ’n betroubare bron van vars vrugte wat veilig en van uitstekende gehalte is,” sê Du Preez.