Baie boere is met die hande in die hare omdat dit baie moeilik blyk te wees om die siekte te bekamp.

Prof. Jacquie van der Waals, medeprofessor in patologie aan die departement grond- en plantkunde en stigter van die UP se aartappelpatologieprogram, gee raad hoe om ’n geïntegreerde malroesbekampingsprogram in jou boerdery te ontwikkel.

Malroessimptome:

1. Met die aanvanklike besmetting ontwikkel klein, ronde, bruin watergevulde letsels aan die onderkant van die blare.

2. In gevalle waar die besmetting erg is, ontwikkel hierdie letsels ook op die bokant van blare of op stamme.

3. Die letsels is kleiner as vroeë-roesletsels en het ook nie die konsentriese sirkels wat eie is aan vroeë-roesletsels nie.

Tipiese malroessimptome aan die onderkant van blaar. Foto: Jacquie van der Waals

Sewe stappe om malroes te bekamp

1. Probeer sover moontlik onkruid en opslagaartappels onder beheer hou omdat malroes ’n wye reeks gashere het. Gebruik onkruiddoders soos aanbeveel voordat jy plant.

2. Hoewel die patogeen nie sommer op knolle gevind word nie, is dit steeds aan te beveel om gesonde, gesertifiseerde moere te gebruik.

3. Gebruik vroeë-roesprodukte soos met ’n vroeë-roesprogram, maar begin reeds 20 dae ná opkoms.

4. Wissel die aktiewe bestanddeel vir plaagbestryding af om weerstand teen die middels te voorkom.

5. Goeie insekbestryding is ’n doeltreffende manier om die siekte te bekamp. Insekte veroorsaak wonde wat ’n gulde infeksie geleentheid vir die patogeen skep.

6. Erge winde of haelskade wat wonde aan die plant veroorsaak, kan besmetting aanwakker. ’n Toediening van kalium kan help om die wonde vinniger en doeltreffend te genees. Raadpleeg jou blaarvoedingkonsultant vir die aanbevole dosis. Dieselfde behandeling kan ook toegepas word as die aartappels onlangs erge insekdruk ervaar het.

7. Vermy enige tipe stres (nat, droogte, hitte, geil groei, ens.) en hou die plant so gesond moontlik om natuurlike immuniteit te verhoog.

Prof. Jacquie van der Waals, medeprofessor in patologie aan die departement grond- en plantkunde en stigter van die UP se aartappelpatologieprogram. Foto: Jacquie van der Waals