Só het inmaakprodusente op ’n spesiale vergadering deur die Inmaakprodusentevereniging (IPV) op Robertson gesê. Dit volg nadat Langeberg & Ashton Foods boere pas ’’onaanvaarbare’’ kontrakte, wat net vir ’n jaar geldig is, aangebied het. Langeberg & Ashton Foods oorweeg ook ’n voorstel om hul westelike fabriek op Ashton te sluit.

“As hulle net ’n kontrak vir een jaar aanbied en boonop oorweeg om ’n fabriek te sluit, moet jy darem baie hoopvol wees as jy dink dit gaan in die toekoms beter gaan. Ons kan nie toelaat dat hulle weens onbekwaamheid en onrealistiese verwagtings oor marges ’n bedryf, wat nog altyd wesenlik in die Wes-Kaap was, sluit nie, veral nie as ’n mens die gevolge vir arbeid in ag neem nie,” sê mnr. Wynand du Plessis, ’n inmaakprodusent.

Langeberg & Ashton Foods verwerk sowat 60% van die bedryf se inmaakvrugte. Rhodes Food Group is die enigste ander verwerker van inmaakvrugte.

Mnr. Wiehahn Victor, bestuurder van die IPV, sê Langeberg & Ashton Foods het sowat twee jaar gelede reeds kennis gegee dat hulle boere se langtermynkontrakte (wat die afgelope 25 jaar gegeld het), wettiglik opsê.

“Langtermynkontrakte is die inmaakbedryf se eerste keuse, want dit bied sekuriteit, bestendigheid en volhoubaarheid in ’n bedryf waar ons met bome te doen het wat 25 tot 30 jaar in die grond staan.”

Hy sê Tiger Brands, wat Langeberg & Ashton Foods besit, sien nie tans kans vir langtermynkontrakte nie, weens ekonomiese druk op die maatskappy en ook omdat daar te veel onsekerhede in ’n veranderende omgewing is.

“Daar is ook ’n opmerking gemaak wat ons dwars in die krop steek, en dis dat boere se opbrengste per hektaar toegeneem het, wat daartoe gelei het dat produsente in die afgelope jare in verhouding tot die fabriek ‘beter’ gevaar het.”

Groot kommer

Die nuwe kontrakte, wat in die afgelope dae slegs in Engels aan boere gebied is, moet teen 28 September onderteken word, anders is dit van die baan. Aspekte waaroor die bedryf bekommerd is, sluit in:

-          Die voorskotbetaling verander van 80% na 70%.

-          Die tonnemate van appelkose en pere wat hulle gaan inneem, gaan op ’n vierjaargemiddelde gegrond word.

-          Die fabriek gaan slegs 85% van perskes wat die afgelope vier jaar gelewer is, inneem. Dit kom neer op slegs sowat 56 000 ton, pleks van ongeveer 63 000 ton. As Langeberg & Ashton Foods nóg perskes nodig het, sal hulle dit met ’n ander kontrak en onder Poel B-prystoestande koop.

-          Nuwe graderingsregulasies bepaal dat slegs 5%-speling toegelaat sal word vir perskes van 57 mm tot 60 mm groot. Die graderingsfaktor verander ook in die betalingsformule. ’n Boer wat byvoorbeeld 95% graad 1-vrugte lewer, kan tot R263/ton minder verdien.

-          ’n Bonus vir groter vrugte sal nie langer betaal word nie. Dit gaan daartoe lei dat boere R130 tot R200 per ton verloor;

-          Die gewraakte Anneks E bepaal dat Langeberg & Ashton Foods se bedryfswins ook by die prysformule ingereken word. As die maatskappy meer as R50 miljoen wins maak, sal hy boere volgens die vasgestelde formule betaal. Indien die winsteiken nie gehaal word nie, sal boere die laagste prys ontvang tussen die formuleprys of die vorige jaar se prys plus VPI (verbruikersprysindeks).

“Dis veral Anneks E wat ’n doring in ons vlees is en ons het verskriklik koppe gestamp daaroor, maar hul hoofkantoor het die klousule afgedwing om hul aandeelhouers te beskerm,” het Victor gesê. “Die formule, wat die markprys, wisselkoers, graderingsregulasies en M-faktor in ag neem, was ’n manier hoe produsente en verwerkers saam die goeie en slegte in die bedryf trotseer het. Dit was die gordel waarmee die broek opgehou is, maar nou het hulle Anneks E bygesit om die broek met kruisbande óók bo te hou.”

Mnr. Karel du Toit, ’n boer, het ’n beroep gedoen op die bedryf om saam te staan in hierdie moeilike tye. “Ek het gedink ons kom vandag hierheen om te besluit niemand gaan die kontrak onderteken nie. Ons stel net die pyn uit, want dit is ’n langtermynprobleem. Ons kan dit nie aanvaar dat ’n fabriek sommer net toegemaak gaan word nie, want dit gaan ons hele gemeenskap benadeel.”

Sowat 80 boere het ’n spesiale vergadering op Robertson bygewoon om te gesels oor die nuwe korttermynkontrakte wat Langeberg & Ashton Foods hulle aanbied. Dieselfde vergadering is ook op Ceres gehou. Foto: Lucille Botha

Moeilik regoor die wêreld

Die wêreldvraag na ingemaakte perskes, pere en appelkose het sedert 2012 met 2,2% per jaar gedaal. Wêreldproduksie het egter bestendig gebly, en prysmeganismes is gebruik om die vraag te stimuleer.

In ’n brief aan die inmaakbedryf, het Langeberg & Ashton Foods gesê: “Ons glo die nuwe kontrak sal Langeberg & Ashton Foods mededingender maak sodat daar ’n soliede grondslag vir winsgewende groei is, wat sal verseker die besigheid kry voldoende beleggings om bedryfsdoeltreffenheid te verbeter. Winsgewende groei by Langeberg & Ashton Foods sal lei tot hoër vrugtepryse wat weer sal lei tot winsgewender boerderye. ’n Langtermynkontrak sal aan die einde van die 2019-seisoen bespreek word.”

Oor die betalingsformule, sê Langeberg & Ashton Foods: “Die rede vir die klousule is om Langeberg & Ashton Foods deels te beskerm teen ’n situasie waar die maatskappy verliese ly. Die formule genereer ’n styging in die vrugteprys, wat verdere druk op die maatskappy plaas.”

Victor het gewaarsku dat boere wat nog nie kontrakte en tonnemate ontvang het nie, dit hul verantwoordelikheid moet maak om uit te vind daaroor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.