Basson was een van die sprekers by dié webinaar waar die moontlike herstelpad vir die bedryf bespreek is nadat dit vanjaar weens inperkingsmaatreëls geruime tyd nie handel kon dryf nie.

Basson, wat vroeër die situasie as ’n ramp beskryf het, het gesê die bedryf het ’n verlies aan inkomste van R7,5 miljard gely en oor die volgende 12 tot 18 maande kan ’n verdere 20 000 werksgeleenthede verlore gaan. “Ons sien hoë vlakke van aanpasbaarheid in die bedryf. Ek glo egter nie dat ons binnekort ons verliese sal inhaal nie.”

Volgens hom is daar sover vanjaar 96 miljoen liter minder wyn verkoop as verlede jaar, waarvan 91 miljoen liter plaaslike verkope is. “Dit sal implikasies op kontantvloei tot gevolg hê.”

Mnr. Phillip Retief, uitvoerende hoof van Van Loveren en ondervoorsitter van Vinpro, het gesê dat die wynbedryf aangeneem het dat hy met sy werksaamhede sou kon voortgaan aangesien dit deel vorm van die landbousektor, ’n noodsaaklike sektor volgens inperkingsmaatreëls. “Ons verkope het vanaf Maart tot Augustus met van 58% tot 60% afgeneem.”

Hy het egter bygevoeg dat verkope gedurende September vanjaar dieselfde as gedurende die ooreenstemmende periode verlede jaar was. Volgens hom sal Oktober se verkope ook normaal wees en meer insigte bied in nuwe verbruikerspatrone.

Basson het gesê hoewel daar druk is op sommige wynkategorieë, veral droë witwyn, sou dit oordrewe wees om te sê dat pryse met 30% sal daal. “Ons moet egter die vraag na wyn herstel, veral plaaslike vraag.”

Basson het gesê die feit dat Europese wynboere onlangs hul oes afgehandel het, plaas verdere druk op veral Suid-Afrikaanse grootmaat- en generiese wyne wat aan dié mark verkoop word.

Retief het gesê dat wynpryse onderhewig is aan die ekonomiese werklikhede van vraag en aanbod. Volgens hom sal daar bepaal moet word hoe laag pryse moet daal – en wie die situasie sal uitbyt.

Hy verwag egter nie dat die bedryf sy verliese binnekort sal inhaal nie, al daal pryse, en dat goedkoper wyn verdere skade aan die regering se houding jeens die bedryf kan aanrig.

Lees meer in volgende week se uitgawe van Landbouweekblad.

*Die webinaar kan nog tot 29 Oktober op Crowdcast gekyk word. Klik hier om dit te kyk - http://bit.ly/30VpHbu